Laventel | Olyfolie | Sampioene
Raak Smake Menere van Geure Lavender SA
Wat vir Martyn en Ida Grijseels begin het as ‘n heining rondom hul huis, het gegroei tot ‘n besigheid wat letterlik en figuurlik blom. Die paartjie het geen landboukundige agtergrond gehad toe hulle agt jaar gelede hul plaas met een plant begin het nie. Vandag groei daar 70 000 plante tussen die landerye en is daar sewe groeitonnels op hul twee hektaar grond.
Eweneens indrukwekkend is die Grijseels se verkoopsyfers: 5 000 plante per maand landwyd, onder meer aan groot kleinhandelaars soos Pick n Pay en Spar, kwekerye en privaat-individue. Die tipe laventel wat hulle verbou, word nie nadelig deur die verskillende seisoene beïnvloed nie, wat beteken dit kan die hele jaar lank geoes word. Die plante blom egter beter in die winter, wat dit die beste seisoen maak om plante en blomme te verkoop.
Hoewel laventelverkope hul hooffokus is, is daar ook allerlei vertakkings wat hulle besig hou. Terwyl die plaas van tyd tot tyd vir fotosessies gebruik word, doen Ida blommerangskikkings met die laventel vir troues en spesiale geleenthede. Martyn het reeds bessies geplant en beplan verder ‘n groot pekanneutboord en, les bes, beplan die paartjie om binnekort ‘n gastehuis te open.
Gooding’s Groves
Malcolm Gooding was reeds jare lank ‘n bekende en gerekende stemkunstenaar en TV-persoonlikheid toe hy besluit het om sy lewensdroom te verwesenlik: ‘n olyfplaas. Die plaas, Gooding’s Groves, beslaan drie hektaar in die vrugbare Franschhoek-vallei, met 800 bome waarvan sowat die helfte tans in produksie is. 75% van die oes word koud gepers vir ekstra VIRGIN olyfolie, en
die res word verwerk.
Benewens die produksie en verwerking van olyfolie, is Malcolm toegewy aan ‘n bemagtigingsinisiatief wat sy personeellede toerus met entrepreneuriële vaardighede en maniere om ‘n ekstra inkomste te verdien. Beide die eienaars en bestuur van Gooding’s Groves belê tyd, sowel as geld, in ‘n verskeidenheid projekte wat vir die doel tot stand gebring is. Voorbeelde sluit in ‘n gereelde tafel by die Saterdagoggend mark in Franschhoek, waar ‘n verskeidenheid tuisgemaakte produkte, onder meer kolwyntjies, beskuit, blatjang en konfyt verkoop word. Die personeel ontvang ook ‘n persentasie-aandeel van die verkope van olyfprodukte wat op die plaas vervaardig word, insluitend gebottelde en ingelegde tafelolywe, swartolyf- en vrugteblatjang, swartolyf-konfyt, swartolyf-pasta en swartolyf-blaartee.
Nog ‘n opheffinginisiatief is Wonderbags, wat Malcolm en sy span doen in samewerking met Natural Balance. Die Wonderbag is ‘n hittebehoudende kooktoestel wat net genoeg hitte benodig om die kookproses te begin. Danksy isolerende eienskappe, behou die sak daarna die hitte en voltooi die kookproses sonder om enige verdere elektrisiteit te gebruik. Benewens die energiebesparende en gesondheidsvoordele, help die Wonderbag ook om die voorkoms van paraffienvure in hutte te voorkom.
Paddastoel Boer:
Die Grobler-egpaar het met Shiitake-sampioene begin boer, met die idee om hoë-gehalte sampioene teen redelike pryse te lewer. Dit is ‘n konsep wat werk, as ‘n mens kyk na die volgehoue groei van hul onderneming, Paddastoel Boer, in Cullinan, gerieflik naby al die groot Gauteng-markte. Die Japannese woord “shii” verwys na die spesifieke boom waarop hierdie sampioene oorspronklik
gegroei het, terwyl “take” eenvoudig “sampioen” beteken. Hierdie sonderlinge sampioene word egter nie net vereer vanweë hul antieke oorsprong nie, maar ook vir die wye verskeidenheid
gesondheidsvoordele wat dit bied, wat oor eeue van medisyne heen ontdek is.
Met hul ryk tekstuur en rokerige geur, donkerbruin kleur en koppe van tussen 5- en 10cm, is Shiitake-sampioene die tweede mees algemeen gekweekte eetbare sampioene – en na bewering tien keer smaakliker as wit knopiesampioene. Daarbenewens is dit laag in kalorieë en hoog in vesel, asook B-vitamiene en sekere minerale. Dit bevat dieselfde aminosure as vleis, asook voedingstowwe wat verband hou met, onder meer, immuunversterking en cholesterol-verlaging. Al hierdie eienskappe kan egter verskil, afhangende van hoe en waar die sampioene verbou, geberg en gebruik word.
Shiitakes groei natuurlik op verrottende hardehoutbome. Massaproduksie word meestal gedoen met behulp van saagsel-stompe wat saamgepers en met stoom gesteriliseer word, en daarna met saad ingeënt word onder laboratoriumtoestande. Daarna word die stompe in ‘n beheerde omgewing ontwikkel en gekweek.
Paddastoel Boer verkoop vars Shiitake-sampioene in 120-gram houers of 4kg grootmaat-bokse,asook droë Shiitake-sampioene in 20-gram sakkies.