DINK GRÓÓT

Elandskloof Trout Farm: Van boerdery tot bestemming

Dit is braaf om te boer, en selfs nog brawer om jou boerdery by die mark aan te pas. Elandskloof Trout Farm in Mpumalanga was oorspronklik ’n plaas wat op die vang en verspreiding van forel gefokus het. Daarvoor was daar ’n groot mark, maar namate koste gestyg en die aanvraag gedaal het, het hierdie nisboere besef dat hulle sal moet aanpas as hulle wil oorleef.

Vandag is Elandskloof Trout Farm ’n gewilde bestemming vir toeriste. Of jy nou internasionaal toer of sommer net ’n plaaslike wegbreek wil geniet, Elandskloof verwelkom jou met ope arms. Hoewel die familieplaas oor die jare verander het, het die Combrinks se waardes dieselfde gebly. Elke persoon wat die plaas besoek, word met dieselfde gasvryheid ontvang en word gou deel van die Elandskloof-familie.

Elandskloof is vandag volstoom aan die gang met toerisme, maar selfs toe hulle nog hoofsaaklik op forelproduksie gefokus het, het mense hulle reeds genader om die plaas te besoek. Die vorige generasie boere op die plaas het besoekers heel spottend 5 sent gevra om vir die naweek te kom visvang. Mettertyd het meer en meer mense begin aanklop om daar te kom kuier, en dit was gou duidelik dat hulle ook slaapplek benodig. Die Combrinks het aan die werk gespring en die ou plaashuis in ’n gastehuis omskep. Nou, ’n paar jaar later, bied hulle pragtige rondawels as verblyfopsie.

Of jy nou langs die swembad wil ontspan of by die dam wil visvang, Elandskloof is die perfekte plek om af te skakel en die natuur te geniet. Daar is selfs staproetes wat besoekers kan verken en ’n groot verskeidenheid diere wat vanaf ’n afstand bewonder kan word. Hier gaan dit oor rus, vars lug en die kans om weer ’n bietjie nader aan die natuur te kom.

Iets wat vir die Combrinks besonder belangrik is, is om terug te gee aan die gemeenskap deur jongmense meer oor boerdery, die natuur en leierskap te leer. Hulle bied leierskapkampe, veldskole en skoolkampe aan waar skoliere nie net meer oor die natuur leer nie, maar ook belangrike waardes soos geduld, verantwoordelikheid en omgee ontwikkel. Soos Rudie sê: “As ek ’n verskil kan maak in net een kind se lewe, het ek my doel bereik.”

As dit na hope pret klink, maar jy is nie meer so jonk nie, moenie bekommerd wees nie! Elandskloof bied ook een keer per jaar ’n mannekamp aan waar samesyn, saamwees en die bou van verhoudings sentraal staan.

Elandskloof se verhaal bewys nogmaals dat goeie boerderye geleenthede raaksien en hulself daarvoor inrig. Soms dwing veranderinge in die mark jou om ’n nuwe rigting in te slaan. Met ’n bietjie waagmoed, aanpasbaarheid en ’n bereidwilligheid om nuwe geleenthede aan te gryp, kan daardie verandering dalk net die begin van iets nóg groter wees.

Vir meer inligting, volg @Elandskloof Trout Farm/Forel Plaas op sosialemedia, besoek www.elandskloof.co.za/ skryf aan info@elandskloof.co.za of bel 082 922 6835.

Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.