Hulle word erken as van die heel eerste bloubessiekwekers in Suid-Afrika … en sedert dié pikante vruggie die afgelope 20 jaar ’n onmisbare toevoeging tot talle spyskaarte geword het, gaan die Back-familie van Stellenbosch se boerdery van krag tot krag.
Deesdae is Michael en Simon Back die eienaars van drie bloubessieplase met die mooi name Sonop, Simonsberg en Greendale. Al drie is geleë aan die Klapmuts-Simondium-pad, ’n hanetree van die Paarl en Stellenbosch, en in die skadu van die bekende Simonsberg.
Voeg daarby die Blueberry Bar, hul gewilde en keurige plaasstal waar jy die interessantste en geurigste bloubessieprodukte kan opspoor, en jy weet dat hierdie familie baanbrekers is op ’n gebied wat tot onlangs bykans onbekend was in Suid-Afrika.
Soos in die geval van die suksesvolste entrepreneurs het die Backs hierdie gaping in die Suid-Afrikaanse vrugtemark raakgesien, ingespring en met harde werk daarop voortgebou. Nou kan jy op Sonop, waar die Blueberry Bar geleë is, gaan uitvind watter kulinêre plesier jy dalk tot nou misgeloop het. Dié pragplekkie het vyf jaar gelede in ’n eenvoudige Wendyhuisie begin om van tweedeklas-bloubessies ontslae te raak, maar het intussen uitgebrei na ’n verpligte bestemming vir diegene wat die bloubessiebedryf en sy produkte eerstehands wil beleef.
Dis hier waar jy met die intrapslag ’n koppie geurige koffie, gemaak van varsgemaalde bone, kan kom geniet, waarna jy kan aansit vir ’n proesessie van bloubessiesap wat op uiteenlopende maniere gegeur is. Of geniet ’n lekker bloubessiesmoothie en Belgiese sjokolade met ’n bloubessiebasis. Skaf vir jou van die heerlikste bloubessiekonfyt aan – en jy kan selfs kies en keur uit die lieflikste gebak, soos beskuit met bloubessies as basis. Nie lank gelede nie was bloubessies nog ’n vreemde konsep – deesdae is dit al standaard in veral versnaperings en as toevoeging tot skemerkelkies.
Die sukses van hul bloubessieboerdery is geskoei op die sukses wat die Back-familie in die wynbedryf behaal het. Wie ken nie Sydney Back as een van die doyens van die Kaapse wynbedryf, of weet nie van die sukses van die Backsberg-wynlandgoed nie?
Simon Back vertel dat sy familie al vir langer as 100 jaar in die gebied boer. “My agtergrond in die wynbedryf, en alles wat ek hier geleer het, kan nou op dié nuwe boerdery-reis met bloubessies toegepas word. Seker so 20 jaar gelede het ons begin diversifiseer, weg van die wynbedryf, en toe op bloubessies besluit nadat ons ons huiswerk gedoen het. My pa was een van die eerste bloubessieprodusente in Suid-Afrika. Ons staan deesdae verstom oor die geweldige ontwikkeling op hierdie gebied. Dis vir my opwindend om deel te wees hiervan.
“Ons plan om ’n bloubessieboerdery aan te pak was versiende. Eintlik het dit meer per ongeluk as deur fyn beplanning gebeur. Dit was toe ’n vriend met die naam Trevor McKenzie, ’n goeie vriend van my pa, hom op hierdie bloubessie-ontdekkingsreis saamgenooi het. Vir ons was dit ’n klein en nederige begin op ’n heel ander gebied as wat ons geken het, maar nie lank daarna nie het die hele bedryf sterk begin groei.”
Die Wes-Kaap lewer minstens 60% van die totale produksie in Suid-Afrika, gevolg deur Limpopo en die Noordwes-provinsie, Gauteng, die Oos-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga. Sowat 61% word onder skadunet geweek, 14% in tonnels en 25% in die oop veld. Suid-Afrika en Zimbabwe voer tans saam sowat 22 000 ton bloubessies per jaar uit. Simon sê hoewel dit gering lyk in die globale prentjie, het Suid-Afrika al ’n ver pad geloop wat gehalte en lewering betref.
Die gewildste variëteite is Rabbiteye, Northern Highbush en Southern Highbush.
Simon vertel sy wynkennis het hom die vraag laat vra waarom hulle nie ook met ’n hele reeks interessante bloubessiesapversnitte vorendag kan kom nie. En dis presies wat hulle toe deur eksperimentering reggekry het … met die gevolg dat daar nou ’n bloubessiesapreeks op Blueberry Bar se proe-tafel staan waar besoekers kan kies waarvan hulle die meeste hou. Die interessante name spreek vanself … Bluefire met sy speseryagtige geur, Zesty Blue met sy pikantheid en True Blue, Blue Beets en Blue Ice met hul verfrissende smaak op ’n warm dag. “Hierdie reeks bevat ’n verskeidenheid bestanddele, sonder enige byvoegings en preserveermiddels. Ek kan jou verseker dat dit regtig heerlik is!”
Dat die bloubessieplase in die hartjie van die Kaapse Wynland geleë is, ook die feit dat die Backs so ’n ingeburgerde naam in die wynbedryf is, gee aan die Blueberry Bar se aanbod ekstra dimensie.
Dieselfde sorg as met druiweverbouing word toegepas ten opsigte van die kweek van bessies. “Ons pas slim, natuurlike boerderymetodes toe wat sorg dat elke bessie perfek is. Jy kan ook self bessies op die plaas kom pluk en daarna iets lekkers in die plaasstal geniet. Dis waar jy die varsheid wat die plaas bied, gaan proe … bessie vir bessie.”
Volhoubare boerderymetodes, met ’n klein koolstofvoetspoor en die minimum chemikalieë, is een van die Backs se belangrikste boerderybenaderings. Waterbesparing, bewaring en grondbestuur is eweneens belangrike oorwegings in elke landboubesluit wat hulle neem.
Simon vertel dat dit vir hom insiggewend bly hoe kuiergaste dit geniet “om die oorsprong van dit wat hulle eet, hier op die plaas te geniet. Dis waarom ons in seisoen mense toelaat om hul eie bloubessies te kom pluk”.
Die volgende stap van uitbreiding was toe die Backs in ’n maatskappy met die naam C Fruit belê het – wat die bemarking, verkope en verspreiding van bessies van verskillende soorte in Suid-Afrika behartig. Hulle lewer die diens ook in die Midde-Ooste, die Verre-Ooste en dele van Europa. “Hulle kyk na die hele aanbod van bessies … dit sluit in bloubessies, aarbeie en moerbeie, swartbessies en appelliefies – vars sowel as bevrore produkte.”
Om suksesvol te boer, vra dat jy ’n hele paar beginsels volg, sê Simon. Ligging, weersomstandighede en natuurlike omstandighede is altyd die basis, maar daarna volg volhoubare boerderypraktyke, met die regte verpakking, bemarking en verspreiding tot by verbruikers as die laaste deel van die verskaffings- en waardeketting.
Nicolaas Basson, hortoloog van Agri Technovation op Wellington, sê skaal in die boerderybedryf help om jou eenheidskoste te verminder, “maar dit beteken nie iemand wat op ’n klein of middelgroot skaal boer, kan nie ’n bestaan maak nie. Dit gaan uiteindelik maar oor hoe jy waarde tot jou eie produk toevoeg, in watter markte jy jou produk beskikbaar stel … dit gaan oor ’n kombinasie van faktore, eerder as om net na skaal te kyk.”
Volgens hom beweeg die landbou in Suid-Afrika met rasse skrede vorentoe, “en ek dink dis belangrik dat boere saambeweeg, ook wat wetenskap en tegnologie betref. Suid-Afrikaners bly goed by met marknavorsing, met die aanplant van nuwe kultivars, met nuwe genetika. Boere moet altyd sorg dat hulle nie agterraak nie, byvoorbeeld deur vas te klou aan ou bestuurspraktyke. Moenie bang wees vir verandering en vooruitgang nie. Beplan vooruit. Dalk sien jy nie dadelik die opbrengs van jou belegging nie, maar jy kan daarvan verseker wees dat jy wel uiteindelik die vrugte sal pluk. Die boere wat met permanente gewasse boer, is op die lang termyn daaraan verbind, hulle belê nie net in vandag nie.”
Volgens Nicolaas is een van Agri Technovation se sterkpunte dat hy baie goeie data insamel, “en ons het ’n goeie manier om daardie data prakties aan boere oor te dra en hulle te help om datagedrewe besluite op die plaas te neem. Ons dra kennis oor, en ons loop nie met ons kaarte teen die bors nie. Dit is ons doel om boere deur kennis sterker te maak. Ons vat die tegnologie plaas toe, maar ons maak daardie tegnologie ook bruikbaar”.
- Volg @Blueberry Bar op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.blueberrybar.co.za. Bel 082 325 5424 of skryf aan shop@blueberrybar.co.za
- Volg @Agri Technovation op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.agritechnovation.co.za, bel 021 300 0543 of skryf aan info@agritechnovation.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za