Gemeenskap, omgewing en erkentlikheid aan ’n Hoër Hand: Dit is die drie beginsels waarop die Deutsche Schule Kroondal (DSK) se Groenkampus-konsep vir sy laerskool berus.
Dit is die eerste landboukurrikulum vir laerskole in die land, wat deur hierdie onafhanklike skool self ontwikkel en in 2025 ingestel is, ná deeglike oorweging deur die skoolbestuur.
Terwyl die DSK pre-primêre tot Graad 12-leerders huisves, is die Groenkampus-konsep vir eers net op die laerskool gerig. Die skool beoefen ’n holistiese opvoedingsmetode wat akademiese en praktiese kennis sinvol kombineer.
Die vak landbou sluit nie net opvoeding in die klaskamer in nie, maar volwaardige blootstelling van kinders aan die uitdagings van boerdery op landbougrond in die omgewing. Dit geskied met die hulp van verskeie borgskappe vir landboutoerusting deur groot maatskappye wat in hierdie inisiatief belê het. Dié ondernemings is trots daarop om hande te vat met die Kroondal-gemeenskap om die volgende generasie boere te ondersteun.
Die landbou is een van die beste vakgebiede waarop dít moontlik gemaak kan word, sê prof. Ferdi Meyer, buitengewone professor in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, oor hierdie skool naby Rustenburg in die Noordwes-provinsie. Hy is ook besturende direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
Terwyl die landbou een van die grootste boustene van die Suid-Afrikaanse ekonomie is, is dit ook ’n brugbouer in ’n land met diverse gemeenskappe. “Ons kinders moet almal weet daar ís ’n toekoms vir hulle in die landbou.”
Hy vertel dit was so ’n jaar gelede dat die skoolbestuur besef het van watter groot betekenis dit is dat kinders van kleins af met die regte kennis toegerus word om die omgewing waarin hulle grootword te verstaan. “Ons het navorsing gedoen oor of daar in Suid-Afrika ’n landbouleerplan vir laerskolleerders bestaan wat begrippe soos voedselsekuriteit, volhoubare landboupraktyke en omgewingsbestuur behandel.” Daar was nie so iets nie, is vasgestel. Die volgende gedagtes is toe oorweeg:
- Wat méér kan ons ons kinders bied?
- Hoe lyk die omgewing waarin hulle grootword?
- Hoe het die omgewing verander?
- Wat is uniek aan hierdie omgewing?
- Gee ons vir ons kinders die regte toerusting om die wêreld daarbuite te betree?
Dit was die begin van die vestiging van die DSK Groenkampus, om kinders op ’n leersame en selfs prettige wyse te laat kennis maak met dié dinge waarsonder geen sinvolle bestaan moontlik is nie.
Nou het die Groenkampus-projek behoorlik afgeskop! “Dit is ’n inspirasie om te sien hoe dié skool uit sy pad gaan om leerders met praktiese landboukennis toe te rus,” sê Ferdi.
Volgens hom leer kinders hier van jongs af die heel basiese beginsels van die landbou, met betrekking tot die wêreld waarin ons nóú leef en in die Suid-Afrika van vandag.
“Die wêreld het in die jongste tye baie verander. Ons word blootgestel aan die kwessie van voedselsekuriteit, so ook die druk op natuurlike hulpbronne, wat dikwels op ’n baie sensasionele manier op sosialemedia aangebied word, maar dit is nie altyd die werklikheid nie.”
Ferdi vertel hy en ander belanghebbendes het in 2025 die kurrikulum ontwikkel en by die DSK-skool by die bestaande leerplan ingebou. “Dit is soms moeilike konsepte, maar as jy dit op die regte manier aanbied, werk dit goed. Ons het waardering gekry vir die kinders se begrip van die leermateriaal.”
Die ontwikkeling van die DSK Groenkampus het gepaard gegaan met die aanwys van die regte landbouspan. Boerderytoerusting is verskaf deur vennote soos Agrico, Laeveld Agrochem en John Deere.
“Dit is almal maatskappye wat gefokus is op produktiwiteit en die jongste en mees gevorderde tegnologie. Kostedoeltreffendheid en volhoubaarheid is belangrike begrippe wat ons in die vak ingesluit het, so ook grondkennis.
“Die landboukurrikulum is só ontwikkel dat dit nie standaardvakke soos wiskunde, wetenskap of biologie vervang nie, maar geïnkorporeer is daarin. Ons het net sommige konsepte uit hierdie vakke met die vak landbou geïntegreer, wat die behandeling van onder meer voedselkettings en landboupraktyke betrek. Dit kan dus as ’n addisionele vak landwyd in skole aangebied word om kinders aan die kernbelang van landbou en landboubestuur bloot te stel en hulle te verryk.”
Die Groenkampus-konsep omvat voorts drie belangrike beginsels, vertel Ferdi. Dit is die volgende:
- Gemeenskap – jou liefde vir jou gemeenskap; interaksie met die gemeenskappe rondom jou skool, asook hul bedrywighede; die besef van die belangrikheid van die rol van gemeenskappe in ’n skool; ook skole se invloed op landelike gemeenskappe, wat insluit werksekerheid en voedselsekuriteit.
- Omgewing – jou liefde vir jou omgewing; jou rol in die opbou en bewaring van die omgewing; die uniekheid van jou omgewing; en omgewingsverandering.
- Jou Skepper – jou liefde vir jou Skepper, en jou dankbaarheid vir goeie gawes.
Dit is van belang om te weet dat al hierdie begrippe reeds op ’n baie vroeë ouderdom by kinders gevestig kán word, sê Ferdi. “Dit is waaroor dit in die toekoms sal gaan. As dié idees eers gevestig is, is dit blywend, selfs al kies die kinders eendag heeltemal ander loopbaanrigtings as die landbou.”
Die DSK Groenkampus-konsep behoort beslis na die res van die land se laerskole uitgebrei te word, volgens hom. “Ons sien ’n geleentheid om hierdie vak in die res van die land te bemark. Omdat ons tans die enigste laerskool in Suid-Afrika is wat landbou as vak aanbied, wil ons graag met vennote saamspan om dit te kan uitvoer.”
Die DSK sal as inkubasiesentrum bly dien, sodat ander skole aan die jongste tegnologie, asook kurrikulumontwikkeling en verbeteringe daaraan blootgestel bly. Die plan is om onderwysers van elders wat by die landbouvak betrokke is, na die DSK te bring om dit prakties te ervaar. “Ons sal ook ondersteuning bied oor hoe die vak in die klaskamer aangebied word,” sê hy.
“Om die landbou van jongs af te verstaan en te ondersteun gaan ’n kritiese rol speel in die toekoms van Suid-Afrika, veral in die heling van die land en sy gemeenskappe.”
- Vir meer inligting, volg @DSK Groenkampus op sosialemedia. Besoek www.schulekroondal.co.za, skryf aan school.dsk@kroondal.org.za of bel 014 536 3814.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.