DINK GRÓÓT

Drie plase, een passie: Die wonderwêreld van bye

Min dinge is so lekker soos ’n koppie rooibostee met ’n lepeltjie heuning daarin, of ’n hemelse kaasbord wat met heuning bedien word. Ag, die gebruike van heuning is eindeloos. Dis altyd lekker en luuks! Maar die nederige dier wat heuning maak, speel ’n baie groter rol in die ekosisteem as net hierdie heerlike produk. Bye is ook verantwoordelik vir die bestuiwing van talle gewasse en plante waarop ons daagliks staatmaak. Dit is dus geen verrassing dat soveel nisboere hul bestaan rondom hierdie klein dog onmisbare insekte bou nie.

Die wêreld van byeboerdery strek veel verder as net heuning. Byeboerdery is ‘n baie veelsydige boerdery. Dit strek vanaf die bou van korwe tot die redding van swerms en die deel van kennis. Dit beteken dat nisboere in hierdie bedryf nie noodwendig met mekaar meeding nie, maar eerder deel vorm van ’n pragtige ekosisteem. Ons het gaan inloer by drie verskillende byenisboerderye en eerstehands ervaar hoe hierdie boere, dikwels van dieselfde omgewing, ’n een-hand-was-die-ander-simbiose met mekaar aanknoop.

Ons eerste stop was by CWI Beehives and Frames. Gevestig in die beeldskone Montagu-area, produseer hierdie plaas Langstroth-byekorwe, rame en ander byehoutoerusting. Of jy nou ’n groot byeprodusent is wat op soek is na nuwe toerusting, of slegs ’n korf vir die lekker wil aanhou, CWI Beehives kan presies verskaf wat jy benodig. Hetsy jy pas begin het of reeds ‘n gevestigde byeboer is, CWI Beehives het die toerusting om jou te help. By hierdie nisboerdery word alles met die hand gemaak om gehalte te verseker en te waarborg dat jou toerusting nie ná ‘n paar gebruike die gees sal nie. Hulle gebruik ook herwinbare hout wat ‘n ongelooflike goeie impak op die omgewing het aangesien hulle geen bome afkap om nuwe hout te vervaardig nie.

CWI Beehives is in 2015 deur Johan en Anelda van den Heever gestig. ’n Familievriend het genoem dat dit vreeslik moeilik is om gehalte-byerame teen ’n bekostigbare prys in Suid-Afrika te kry. Die egpaar was reeds op soek na ‘n nuwe avontuur. Met meer as 15 jaar se ervaring in die houtwerkbedryf het hulle dadelik geweet dit is die rigting waarin hulle wil gaan. Wat begin het as ’n privaat bestelling, het intussen ontwikkel en gegroei tot een van die grootste byeraamvervaardigers in die Wes-Kaap. Om alles te kroon doen CWI Beehives ook ongelooflike werk in die omgewing. Hulle fokus ook daarop om vroue in die gemeenskap op te lei en aan te stel om op die plaas te help met die vervaardiging van produkte.

Een van die plase wat hul toerusting by CWI Beehives aankoop, is Infinity Bees, nóg ’n plaas wat ons besoek het. Waar CWI Beehives fokus op die toerusting wat benodig word vir byeboerdery, fokus Infinity Bees meer op die bye, asook byeprodukte. Wanneer ’n swerm op ’n ongewenste plek nesmaak, word dit nie vernietig nie. Die bye word sorgvuldig verwyder en in ’n nuwe korf hervestig, waar hulle kan voortgaan met hul belangrike werk in die natuur. Benewens korfverwydering vervaardig bied Infinity Bees ook ’n reeks natuurlike sekondêre produkte.

Infinity Bees se storie het op ‘n verrassende manier begin. Dié nisboerdery se eienaar, Audrey De Jongh, se seun het op skool reeds kennis gemaak met die wêreld van bye. Ná ’n indrukwekkende hoërskool-opstel het sy juffrou hom aan ’n byeboer in die omgewing voorgestel. Audrey is toe sommer saamgesleep op uitstappies om korwe te gaan verwyder, en dit was nie lank voordat sy self op die wêreld van bye verlief geraak het nie. Haar seun het intussen na Amerika geëmigreer, maar hy het die besigheid in sy ma se bekwame hande agtergelaat.

Dit bring ons by die derde plaas wat ons besoek het, wat weer ’n heel ander afdeling van byeboerdery verteenwoordig. Gevestig in die pragtige Grootvadersboschwoud, is Honeywood Farm reeds sedert 1817 in die Moodie-familie. Tans woon John en Miranda daar en hulle het intussen byeboerdery met toerisme begin kombineer. Oor die jare heen het die Moodies talle gaste by Honeywood Farm verwelkom. Hier kan gaste rus, herstel en meer oor byeboerdery leer. Hulle bied ook gereeld byeboerderywerkswinkels aan waar gaste oor ’n tydperk van twee dae leer hoe om na bye om te sien en waarom hierdie klein insekte so belangrik is.

Die rou heuning wat hulle op die plaas produseer, verkoop hulle sowel plaaslik as aanlyn. Met die gezoem van die bye, die voëltjies se fluitgeluide en die rustige atmosfeer verwelkom Honeywood Farm toeriste met ope arms, waar hulle die rustigheid van die plaas kan geniet én die fassinerende wêreld van bye kan ontdek.

Dit is juis hierdie tipe samewerking wat die byebedryf besonders maak, waar een nisboer se produk of diens weer die volgende boer help om suksesvol te wees. Hoewel elkeen van hierdie nisboerderye ’n unieke rol vervul, werk hulle almal met dieselfde doel voor oë: om bye te beskerm en hul waarde te bevorder. Vanaf die bou van korwe en die redding van swerms tot opvoeding en natuurlike byprodukte wys hierdie ondernemings dat suksesvolle nisboerdery dikwels begin met ’n groot passie vir iets baie klein.

Die volgende keer wanneer jy ’n by tussen die blomme sien zoem, onthou dat dit veel meer is as net ’n heuningmaker. Danksy toegewyde nisboere kry bye die geleentheid om aan te hou doen wat hulle die beste doen, want soms begin die grootste verskil in die wêreld by een klein by.

Vir meer inligting oor Infinity Bees, volg @infinitybees op sosialemedia, besoek www.infinitybees.co.za  skryf aan admin@infinitybees.co.za of bel 081 373 8765

Vir meer inligting oor CWI Beehives and Frames, volg @cwi_beehives op sosialemedia, besoek www.cwibeehives.co.za  skryf aan info@cwibeehives.co.za of bel 084 799 6042

Vir meer inligting oor Honey Wood Farm, volg @honeywoodfarm op sosialemedia, besoek www.honeywoodfarm.co.za  skryf aan john@honeywoodfarm.co.za of bel 083 270 4035

  • Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.