DINK GRÓÓT

Dirla Homestead: Van beskeie beginner tot gedugte mededinger

Dirk en Lara Venter van Dirla Homestead naby Brits se suiwelonderneming is op ’n paar hoekstene gebou: aanpassing, innovasie en markkennis. Tog is die belangrikste elemente van hul sukses hul goed opgeleide personeel en hul sterk gesins- en familiebande.

Dirla is gebore uit die Venter-egpaar se strewe na onafhanklikheid en die uitleef van hul toekomsdrome.

Nadat hulle jare lank by die Venter-familieplaas se melkery betrokke was, het hulle die sprong gewaag om méér as net melk te lewer – hul visier was op ’n reeks gespesialiseerde suiwelprodukte. In daardie stadium het die Venter-familie al 16 jaar lank Holsteins gemelk, maar toe hul grootste melkkoper hulle vra om oor te skakel na Jerseys vir sy kaasmakery, het ’n nuwe uitdaging skielik vir Dirk en Lara gewink.

“Ek en Lara moes in daardie stadium in elk geval iets soek om self verder te doen. Op veilings het ons toe geregistreerde versies gekoop en ons onderneming met net agt koeie begin. Lara het ’n kursus in kaasmakery by die Grootplaas-kaasakademie gedoen en ek het koeie gemelk. Dit was apart van die gewone melkery op die plaas.”

Tien jaar later, en dié beskeie begin het daartoe gelei dat Dirla Homestead gebore is en intussen stewig op sy bene leer staan het. Die egpaar het twee jaar gelede die volle melkery op die plaas oorgeneem.

Dirla se trots is dat sy hele reeks suiwelprodukte handgemaak is en van topkwaliteit spreek – goed genoeg om mee te ding met die bestes wat jaarliks in die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap uitblink.

Dié vlak van mededinging het egter nie oornag gebeur nie. Ná Lara se kaasmaakkursus het sy bly eksperimenteer met tipes produkte, geure, vorms en verpakkings. Sy en Dirk het besef dat hulle in dié uiters mededingende omgewing met unieke topprodukte vorendag sou moes kom – produkte wat raakgesien en gewaardeer word, wat uitstaan bo veral dié van die gesoute suiwelprodukskeppers wat al gedugte name in die bedryf opgebou het. 

“Ons verwerk nou die melk van so minstens 90 koeie per dag,” vertel Lara. “Die Jerseymelk is vir ons baie belangrik, omdat dit per volume-eenheid die hoogste voedingswaarde bevat van die melk van alle beesrasse. Dit bevat meer kalsium, vet en proteïen, wat dit vir ons oor die algemeen net ’n baie beter produk maak. Ons kry ook ’n hoër opbrengs per liter melk wat ons gebruik, wat die produksie dus winsgewender maak.”

Nog ’n pluspunt van Jerseys is dat hulle ’n kleiner “raam”, oftewel bouvorm het, “dus aard hulle beter in ons klimaat. Geneties teel ons ook vir ’n A2A2-proteïen, wat baie belangrik is in die melk … dit maak dit baie meer verteerbaar en aanvaarbaar vir die menslike spysverteringstelsel. Ons het gevind mense wat laktose-intolerant of suiwel-intolerant is, kan makliker ’n Jersey-produk verteer as dié van ander beeste. Uit ’n gesondheidsoogpunt werk ons keuse van beesras dus baie beter.”

Lara en Dirk het werk daarvan gemaak om eers al hierdie kennis op te bou voordat hulle hul eerste produkte begin bemark het. “Ons het met die sagte goedjies begin, wat gewoonlik ook die mees ekonomiese suiwelprodukte is. Ek praat nou van jogurt, amasi, karringmelk … die soort produk wat jy redelik vinnig kan verkoop om jou geld te kan terugverdien. Harde kaas was aanvanklik net ’n droom … dit was allermins iets wat ons vinnig op die tafel kon of wou sit,” vertel Lara.

Uitsoekkase was nie iets wat hulle blitsvinnig sou kon produseer nie. Weer eens was genoegsame kennis, navorsing en huiswerk noodsaaklik. “Die dag toe ons ’n rypmaakkamer kon hê, het my drome waar geword. Ek is nog steeds trots daarop dat ons dit reggekry het. Dit bly vir my spesiaal om die verskeidenheid kase op die houtrakke te sien. Dit het ’n rukkie gevat om dit alles te bereik; nou kan ons net verbeter. Jy hou nooit op om na verbetering te strewe nie.”

In die ses jaar dat Dirla aan die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap deelneem, het hulle al verskeie toekennings ingepalm. “Ons is bitter dankbaar hieroor, want dis ’n groot en kundige bedryf. Daar word jaarliks net drie pryse per kategorie toegeken, en so 25 tot 30 produkte uit die nagenoeg 1 100 inskrywings wat daar gewoonlik is, ontvang ’n toekenning van gehalte, die Qualité Award. Dit beteken dat jou produk op internasionale standaard is. 2022 was vir ons ’n hoogtepunt toe ons ’n eerste plek verower het met ons Tripple Layer Cream Cheese. Dit was ook die jaar dat ons ons eerste Qualité gewen het vir ons gerookte Gouda met ’n paprika-buitelaag. Verlede jaar het ons botter weer kampioenskapstatus verwerf.”

Moenie ’n fout maak nie, sê Lara … in die suiwelbedryf moet jy jou slag ken om bo uit te kom. “Ons ding teen groot kommersiële ouens mee. Vanjaar het ons tweedes en derdes gekry … maar ons werk al weer hard aan ons inskrywings vir volgende jaar.”

Terwyl Lara die kreatiewe dinkwerk doen oor die aard en gehalte van hul suiwelprodukte, sorg Dirk dat alles moontlik gedoen word om die beste moontlike melk te lewer. “Ons het stelsels in plek om te sorg dat die melk so vinnig moontlik afkoel net nadat die koeie gemelk is. Die melk verlaat die uier teen 37,5 grade Celsius en ons slaag daarin om dit binne minute teen 6,5 grade in die melktenks te kry. Dit beteken dat die bakteriegroei in die melk aansienlik minder is, wat verseker dat ons produkte ’n langer raklewe het.”

Voorts word die melk weekliks getoets vir bottervet, sowel as die somatiese sel- en bakterietelling.

Dirla se produkreeks is uitgebrei na jogurt, roomkaas, maaskaas, fetakaas, halloumi en mascarpone. Die onderneming bedien markte soos die @Pretoria Boeremark, die @Prison Break Market, @Busstop 7 Open air market en die @Hazel Food Market. “Ons het reeds op die gereelde markte al ’n taamlike gevolg gekry,” sê Dirk. “Ons vind dat mense nou na ons produkte begin vra. Hoorsê doen wonders, en ons het baie vaste kliënte soos restaurante en deli’s met wie ons al ’n lang pad loop. Mense wat ons produkte verstaan, maak dit ook aan ons duidelik dat ons produkte baie vir hul besighede beteken.”

Dit beteken allermins dat die Venters nie kyk na markuitbreiding nie, sê Lara. “Groei is ’n volgehoue proses. Jy bly aanpas. Dis beter om organies te groei as om te veel te vinnig te wil doen. Gelukkig het ons ’n wonderlike werkspan. Hulle is goed opgelei en weet wat hulle doen en waarvan hulle praat. Ons personeel groei saam met ons, en ons ondersteun hulle. Die belangrikste is om nooit tou op te gooi nie, in jouself te bly glo en in dit wat jy doen, ondanks al jou oppe en affe.”

Entrepreneurskap is iets wat almal kan doen, meen Dirk, “maar jy moet altyd onthou wat jou anders maak. Jy moet gaan soek wat jóú nis is. En jy moet onthou … as dit maklik was, het almal dit gedoen.”

Dr Marcel Hattingh van CCI Professional, bestuurder van menslike kapitaal, is ’n kenner op die gebied van gesins- en familie-ondernemings. “Ons maak seker dat ’n maatskappy strategies groei deur die regte bestuur van sy grootste batekapitaal, naamlik mense.”

Net soos Lara en Dirk sterk klem lê op die voortsetting en uitbou van ’n gesinsonderneming, sowel as die ontwikkeling van sy personeel, kyk CCI Professional “na die ongelooflike potensiaal wat ons glo binne elke mens opgesluit is. Dis ons werk om daardie potensiaal te ontsluit deur mense optimaal te benut. Ons ondersoek hoe die volgende generasie dan die vorige kan opvolg. Een van die hoekstene van ons samelewing is hoe familielede binne hierdie besighede verhoudings met mekaar kan bly bou, hoe ’n volgende generasie goeie rentmeesters kan wees van dit wat die vorige een nagelaat het.”

Entrepreneurskap vra nie dat jy eers ’n sekere ouderdom bereik voordat jy daarmee begin nie, sê Marcel. “Niemand is ooit te jonk of te oud om te begin nie. Die beginsel van handel dryf moet van jongs af geleer word. Ons almal het daardie basiese kundigheid nodig om te kan leer hoe om te verkoop. Dis ’n vaardigheid wat die res van jou lewe vir jou baie gaan beteken.”

  • Volg @Dirla Homestead op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.dirla.co.za, skryf aan info@dirla.co.za of lara@dirla.co.za of bel 083 344 7453. 
  • Volg @CCI Professional op sosialemedia, besoek www.cciprofessional.com of bel 010 110 9759.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za