Vir vele van ons is sywurms en die spin van sy niks nuut nie aangesien dit deel van ons kinderdae uitgemaak het. Ons het of self ʼn skoendoos met sywurms gehad wat ons met die blare van ʼn nabygeleë moerbeiboom gevoer het, of ons het ten minste ʼn maatjie gehad wat met dié wurms “geboer” het.
Dié wonderwurm en sy formidabele spinvermoë word reeds vir duisende jare aangewend om pragmooi en gerieflike sykledingstukke te vervaardig. Die natuurlike vesel het sy oorsprong in China met die oudste symateriaal wat uit 3 630 v.C. dateer en gebruik is om babas in toe te draai.
Symateriaal was vir ʼn lang tyd vir die Keiser van China en diegene baie na aan hom, soos belangrike familielede en hoogwaardigheidsbekleërs, gereserveer. Die beperkinge op wie toegang tot die kosbare materiaal kon hê, het egter stelselmatig begin verdwyn en dit is toenemend deur ʼn wyer groep mense – naamlik dié wat dit kon bekostig – vir kledingstukke begin dra en vir dekordoeleindes aangewend. Syproduksie het uiteindelik ʼn groeiende industrie in China geword en buiten vir kledingstukke is dit vir verskeie produkte soos vislyn, boogsnare, musiekinstrumente en papier aangewend. Sy het selfs bygedra tot die verandering in die Chinese taal: vandag nog het meer as 200 uit die 5 000 mees algemeen gebruikte karakters in die Mandarynse teks sy as hul “sleutel”.
Sy as geldeenheid, handelskommoditeit
Sy is ook as ʼn geldeenheid gebruik en belasting is ondermeer daarmee betaal. Die koste van goedere kon ook bepaal word deur die lengte van sy as ʼn meeteenheid te gebruik, soortgelyk aan die gebruik van die gewig van silwer en goud. Sy het ook ʼn baie belangrike handelskommoditeit buite China se grense geword, iets wat tot vandag toe nog in plek is.
China se pogings om sy monopolie oor die sybedryf te behou het stelselmatig begin kwyn en sywurmboerderye vir die vervaardiging van sy het rondom 200 v.C. na Korea versprei en het later (± 300 n.C.) na Japan en sover as Indië uitgebrei. Die Syroetes, ʼn netwerk van karavaanroetes deur Sentraal-Asië wat die ooste en die weste verbind het en waarlangs daar vir eeue handel gedryf is, het die mark vir sy ook ʼn groot hupstoot gegee. Die kruistogte (tussen die 11de en 13de eeu) het ook gehelp om syproduksie na Wes-Europa (veral die Italiaanse state) te bring wat op sy beurt ʼn ekonomiese oplewing in die uitvoer van sy na die res van Europa veroorsaak het.
Industriële revolusie
Frankryk het die sybedryf in die 16de eeu betree en soos Italië suksesvolle handel bewerkstellig. Die Industriële Revolusie het ʼn groot omwenteling in Europa se sybedryf veroorsaak deur onder meer innovasies soos die spin van katoen wat baie goedkoper as dié van sy was om te produseer. China en Japan het in die 20ste eeu weer na vore getree as leiers in die vervaardiging van sy. Huidiglik is China die grootste produsent, gevolg deur Indië. Hoewel sy se bydrae tot die wêreld-tekstielmark minimaal is (minder as 0,2%), word dit steeds in meer as 60 lande vervaardig. Sy is en bly egter ʼn hoë-waarde produk en die mark word op nagenoeg $20 miljard geskat.
Die grootste verbruikers van syprodukte is onder andere die VSA, Japan, Italië, Indië, Frankryk, China, en die Verenigde Koninkryk.
Plaaslike produksie
Moerbeibome is glo reeds in die 17de eeu in Suid-Afrika aangeplant en sywurms is in 1726 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie ingevoer.
Africa Silks naby Graskop in Mpumalanga – wat in Nisboere Seisoen 5 op DStv se VIA-kanaal verskyn het – is Afrika se vernaamste kommersiële sywurmplaas. Dit het rofweg 6 ha se moerbeibome onder aanplanting wat elke 6-8 weke tot struike gesnoei word om produksiebestuur te vergemaklik. Die onderneming se wurms produseer sy reg deur die jaar waarmee die onderneming sy eie syprodukte vervaardig wat onder meer by die Africa Silks winkels op die plaas in Hazyview, by die wewery in Graskop en in Stellenbosch en Franschhoek se toerisme-mekkas verkoop word.
Ronel Swart, die eienaar van Africa Silks wat reeds sedert die 1990’s by die bedryf betrokke is, sê dat om in beheer van die hele waardeketting te wees baie voordele inhou. “Dit laat ons toe om voordeel te trek uit die toegevoegde waarde in elke stap van die ketting tot met die verkoop van die produk in ons winkels. Voorts kan ons vanweë die verandering in verbruikersvoorkeure wat in ons winkels waargeneem word, baie vinnig aanpassings regdeur die waardeketting maak.”
Intensiewe vervaardigingsproses
Dit neem nagenoeg 4 800 afgekookte sywurmkokonne (kokonne waarvan die gom wat die sy bind, uitgehaal word) om 1 kg sy te vervaardig. Voorts sê Swart dat hulle Africa Silks bedryf een generasie van 115 000 sywurms op ʼn slag kan hanteer en in die 26-28 dae van die wurmfase eet só ʼn generasie 0,5 ha se moerbeiblare. Voorts is die vervaardiging van sy, wat die spin en weef met die hand insluit, ʼn baie arbeidsintensiewe proses. “Dit alles verduidelik hoekom sy relatief gesproke so ʼn duur natuurlike vesel is.”
Sy sê voorts dat dit noodsaaklik is om aanpasbaar te wees soos die mark se behoeftes verander en daarom is heelwat van Africa Silks se produkte gemeng met onder meer katoen en wol wat dit meer bekostigbaar maak as ʼn item wat uit 100% sy vervaardig is. Pryse word ook geraak deur die gehalte van die sy wat gebruik word.
Baie gewild onder oorsese toeriste
Sowat 75% van Africa Silks se produkte word deur oorsese toeriste gekoop en rofweg 5% word uitgevoer. Die internasionale mark stel meestal in handgeweefde produkte soos syserpe in die R290-R500 prysklas belang.
Swart sê hulle produkte is ook gewild onder heelwat oorsese bekendes en hooggeplaastes waarvan sommiges elke jaar by hul winkels besoek aflê.
Corné Liebenberg, Laeveld Agrochem se bemarkingsdirekteur, sê hulle Nisboere-span het ʼn geleentheid vir Africa Silks geïdentifiseer om hul aanlynwinkel optimaal vir buitelandse verkope aan te wend. Hy meen dat dié optimisering tot meer besigheid kan lei en sodoende kan die publiek ook betrek word om kokonne aan die plaas te verkoop om in die verhoogde buitelandse vraag te voorsien.
Sy – die sterkste, beskikbare natuurlike vesel – het ʼn lae digtheid wat dit ideaal maak vir die vervaardiging van ligte, gemaklike klere. Voorts, het dit ook goeie, isolasie-eienskappe wat jou warm in die winter en koel in die somer hou.
Fibroïen – die hoofkomponent van sy – is ʼn natuurlike bio-materiaal met merkwaardige bio-mediese en meganiese eienskappe wat dit voordelig maak vir ʼn wye reeks toepassings wat met beenweefsel-ingenieurswese verband hou. Dit lok die laaste paar jare baie belangstelling uit die mediese veld met veral interessante verwikkelinge in die gebruik van die fibroïen-proteïen in die vervaardiging van knie-inplantate. Ander potensiële aanwendings van dié syproteïen is in die vervaardiging van kunsmatige hartkleppe.
(Africa Silks het in Episode 15 van Nisboere Seisoen 5 op VIA, DStv-kanaal 147 verskyn. Dié program word deur Laeveld Agrochem geborg.)
Bronne:
Silk history. Silk Road. Webblad besoek op 11 Mei 2020. http://www.silk-road.com/artl/silkhistory.shtml
History of silk. In Wikipedia. Webblad besoek op 11 Mei 2020. https://en.wikipedia.org/wiki/History_of_silk
Statistics. International Sericultural Commission. Webblad besoek op 11 Mei 2020. https://inserco.org/en/statistics
Sericulture. Southafrica.co.za. Webblad besoek op 11 Mei 2020. http://southafrica.co.za/sericulture.html
Silk market. Market Data Forecast. Webblad besoek op 11 Mei 2020. https://www.marketdataforecast.com/market-reports/silk-market