Die versoening van akademie en praktyk.
Dít som Johan en Anna van der Merwe se benadering tot hul boerdery buite Brits in die Noordwes-provinsie perfek op.
Want dié egpaar se kennis van en liefde vir die landboubedryf is ’n pad wat hulle al saamloop sedert hulle albei in die jare tagtig ’n B.Sc.(Agric)-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het. Boonop het hulle in dieselfde vakrigting gespesialiseer, naamlik Tuinboukunde.
Hul huwelik net daarna was eintlik ’n natuurlike uitvloeisel van hul passie vir hul vakgebied en belangstellingsveld. In 2001 word albei as agente by Laeveld Agrochem aangestel, gemoeid met onder meer die monitering van tegnologiese vooruitgang, opbrengs- en waterverslae, grondklassifikasie en besproeiingsbehoeftebepalings.
Te midde van ’n suksesvolle landbouloopbaan het dit tóg aan hulle bly knaag dat hulle graag eendag op ’n eie lappie grond sou wou boer waarop hulle hul gewasse kan verbou en hul wetenskaplike kennis toepas. “Ons het altyd geweet dat ons self ook wil boer, want die landbou was ons lewe lank in ons bloed,” vertel Anna. Dié kans het in 2005 gekom “toe ons ons sitrusboerdery begin het. Ons was toe al ’n geruime tyd as aandeelhouers by Laeveld Agrochem betrokke. Johan het die omgewing goed geken, want hy het hier grootgeword – sy ouers het ook hier geboer. Ons het besef dis wat ons die graagste wou doen.”
Uiteindelik het hulle die kans gekry om hul teoretiese gewaskennis maksimaal in te span, terwyl hulle algaande hul praktiese kennis op hul eiendom sou kon verbreed. Daar was nooit by hulle enige twyfel nie dat grondige, wetenskaplike kennis ’n reuse-rol speel in die sukses van enige boerdery ten einde opbrengste te verhoog.
Op een stuk grond, onder een dak, het die Van der Merwes besluit hoe hulle hul take noukeurig gaan verdeel. Fokus is van die uiterste belang, het hulle besef. “Ek is die tuinboukundige en plantfisioloog, Johan fokus meer op die meganiese deel van die boerdery.”
Een benadering wat die egpaar nog altyd gevolg het, is om hul sitrusboerdery stuksgewys te ontwikkel. “Ons het aanvanklik net die eerste 10,3 hektaar ontwikkel.” Dit was ’n geval van probeer en tref, eksperimenteer en uittoets. “Eers het ons Transvaal-nartjies of die Empress-mandaryn aangeplant, maar gou besef dis nie ’n uitvoerkultivar nie; dis een wat jy net plaaslik kan bemark.”
Die volgende groot stap was die waagmoed om uitvoerkultivars te begin aanplant … ’n heeltemal nuwe en opwindende stap vorentoe, maar een wat beslis kundigheid en ondersteuning, asook die advies van kenners sou verg. Suid-Afrika is een van die wêreld se grootste uitvoerders van sitrusvrugte. Lemoene, suurlemoene en pomelo’s is baie winsgewend vanweë ’n stewige aanvraag uit die buiteland.
Hul keuse van sitrusaanplantings het geval op Nova, Cambria en Tango. Vandag het die Van der Merwes 80 hektaar sitrusbome in die grond.
Nova is ’n hibried wat ontwikkel is uit die Clementine-mandaryn en die Olando-tangelo. Dit bevat min pitte, is soms selfs pitloos, en word vanaf Mei tot Junie geoes. Cambria is een van die groot kommersiële nawellemoenkultivars wat in Maart en April gepluk word, selfs tot laat in Augustus. Anna noem dit ’n “laat-nawel”, wat ook ’n puik uitvoerproduk is. Die Tango-mandaryn is ’n pitlose vrug wat jy in ’n japtrap kan skil, en van Junie tot Augustus geoes word. Dit is heerlik soet, met ’n hoë sapkonsentrasie.
Anna vertel dat Novas tradisioneel beskou word as ’n baie goeie gewas vir die Brits-omgewing omdat dit ’n koelweergebied is. “Ons het die Tango’s later bygevoeg, wat ons nou as ons vlagskipkultivar beskou. Dit is ’n hoëinkomsteproduk wat baie moontlikhede bied.”
Terwyl hul plaas in ’n volskaalse sitrusboerdery ontwikkel het, was die volgende logiese stap die oprigting van ’n eie pakhuis. “Dis eintlik uit nood gebore, want die pakspasie by van die ander pakhuise in die omgewing is beperk. Ons is gedwing om ’n pakhuis te bou sodat ons ons produkte self kan verpak. Maar om ’n pakhuis volhoubaar te bedryf, beteken dat jy dit so lank moontlik in ’n jaar moet besig hou. Ons begin dus reeds hier in Maart met suurlemoene, en hou dan aan met ons ander produkte tot hier in September.”
Die Van der Merwes voer hul vrugte deur die maatskappy Stargro uit, na lande soos Maleisië, die Arabiese Emirate, tot in Wladiwostok in Rusland. “Baie van ons vrugte gaan ook na die organisasie Freshmark – so byvoorbeeld word die Tango-kultivar in Suid-Afrika deur Freshmark bemark.”
Plaaslike varsproduktemarkte is ook ’n gewilde afsetpunt vir die Van der Merwes se voorslag-sitrusvrugte.
“In die sitrusbedryf sê ons altyd ‘elke vrug het ’n ‘huis’. Dit beteken maar net dat niks vermors word nie. Ons uitvalprodukte word byvoorbeeld na sapfabrieke gestuur. Ek kan met reg sê dat ons so wyd moontlik bemark en alles probeer benut.”
’n Geleentheid wat toevallig ontstaan het, is die jaarlikse sitrusdag op die plaas. Anna vertel dat van hul sitrusbome die afgelope twee seisoene ’n taamlike “afspeen van vruggies” op ’n baie vroeë stadium gehad het. “Ons het toe as Laeveld Agrochem Brits ’n paar insetverskaffers genader om betrokke te raak by ’n navorsingsprojek hieroor – dit is om presies vas te stel wat die probleem is. Ons het agtergekom dat, bo en behalwe die alternerende drag wat gewoonlik by sitrusvrugte voorkom, hierdie gedrag onreëlmatig was. Dit het gebeur omdat die bome as gevolg van die uitermate hoë temperature wat ons gedurende daardie interfasegedeelte van die vrugset ondervind het, onder geweldige abiotiese stres gebuk gegaan het. In hierdie omstandighede het die bome toe besluit om in daardie stadium van die vrugontwikkeling die vruggies wat daar reeds aan die bome was, te aborteer. Francois van Greunen, besigheidsbestuurder by Laeveld Agrochem, het ons gehelp om insetverskaffers hieroor te nader. Hulle het, nadat hulle die resultate gesien het, besluit dat ons die inligting wat ons tot nou hieroor ingesamel het, met die hele bedryf behoort te deel. Dis hoe die sitrusdag gebore is.”
Anna sê hulle hoop om dit nou ’n gereelde instelling te maak, omdat dit baie ander boere help en aan hulle kan toon dat die abiotiese-stres-produkte wat in die eksperimente gebruik is, ook vir ander produsente ’n groter beleggingsopbrengs kan beteken. “Ek dink hierdie soort navorsing is seker die afdeling waarin ons die meeste behoort te belê om goeie oeste te verseker. Ek vermoed hierdie produkte gaan later nie meer opsioneel wees nie, maar praktyk.”
Sy en Johan het oor jare vasgebyt om te doen wat hulle werklik wíl doen, sê Anna. Enersyds om hul eie passie en kennis uit te leef; andersyds om ’n bydrae tot die landboubedryf te lewer. “My advies aan ’n jong boer sal wees om, soos ons, groot te droom, op voorwaarde dat jy niks sal aanpak alvorens jy nie jou huiswerk deeglik gedoen het nie. Jy moet vasstel of jou produk en boerdery lewensvatbaar gaan wees. Bly op die uitkyk vir daardie verskuilde elemente wat vangplekke kan raak, dinge waarvan jy nie noodwendig weet nie.”
En moet nooit die advies van ervare, kundige mense in die bedryf misken nie, sê sy. “Betrek die regte raadgewers vir spesifieke probleme. Klop aan by kundiges.”
Een so ’n kundige is Vincent Keesenberg, besturende direkteur van die maatskappy Imifino Exports wat hulle bystaan met die uitvoer van hul produkte. Imifino maak dit sy werk om kwaliteitprodukte aan oorsese lande beskikbaar te stel, juis omdat die buitelanders die gehalte van ons landbouprodukte so hoog aanslaan.
Die Van der Merwes se landboufokus is gespesialiseerd, nisgerig. Kwaliteit tel altyd meer as kwantiteit, is hul benadering. Om medeboere en bedryfskenners by jou eie onderneming te bly betrek, is nog ’n belangrike element, sê Anna.
Hul wetenskaplike navorsing, met hul jaarlikse sitrusdag as uitvloeisel, getuig hiervan.
- Vir meer inligting, bel Johan by 082 372 9901 of Anna by 082 820 8980. Skryf aan johanvdm@laeveld.co.za of aan anna@laeveld.co.za
- Nader Imifino Exports via hul webtuiste www.imifino.co.za by www.imifino.co.za/contact-us
- Vir inligting, besoek die Sitruskwekersvereniging by www.cga.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za