Kaktusse en vetplante is ideale huisplante: maklik om te kweek en boonop hoogmode. Volgens kenners is alle kaktusse vetplante, maar alle vetplante is nie kaktusse nie. So, wat is die verskil?
Volgens die Kreatiewe Joernaal is daar ʼn belangrike botaniese verskil tussen die twee groepe, naamlik die aanwesigheid of afwesigheid van ʼn areool (fyn haartjies aan die basis van ʼn doring) en slegs kaktusse besit die areool.
Vir tuinmakers kan ʼn vetplanttuin ʼn genotvolle en hanteerbare projek wees, aangesien die plante min aandag verg. Die hoogtepunt is wanneer hulle blom en jy vir min moeite ryklik beloon word. Tuinliefhebbers sal ook baie gou agterkom dat hoewel die meeste vetplante groen is, daar ook ander unieke kleurskakerings voorkom.
Die SHEILAM-kaktus- en vetplantkwekery in Robertson in die Wes-Kaap spog met ʼn merkwaardige oase van sowat tweeduisend spesies. Die hoogaangeskrewe versamelaarsmekka van fyn kaktus- en vetplantspesies is in 1954 gestig en word al sedert 1967 deur die Schwegmann-familie bedryf.
Oorlewing en droogtes
Hoewel klimaatsverandering besig is om die landskap van veral gewas- of plantverbouing te verander, kan woestynplante soos kaktusse in droë weersomstandighede gedy. Met hulle vlak dog uitgespreide wortelstelsels absorbeer kaktusse die grootste moontlike hoeveelheid reënwater uit die boonste lae van die grond en daarom groei die plante dus ver uitmekaar. ʼn Volwasse kaktusplant bevat 80% water, wat in die weefsels geberg word.
Die SHEILAM-kwekery het wêreldwyd vir hulself ʼn naam gemaak met die versameling en koestering van die gesogte plantspesies. Bestellings kom van wyd en syd oor die wêreld vir dié klein of groot, kleurvolle oorlewingsplante wat vir die grootste deel van die dag liefs net volson wil hê.
Dit is nie duidelik hoe die plante op Suid-Afrikaanse bodem beland het nie. Sommige Amerikaners beweer dat dit aan die swaeltjies se jaarlikse migrasie toegeskryf kan word. Kaktusse is inheems aan die Amerikas en word meestal in Mexiko, dele van Kalifornië en in droë streke in Suid-Amerika, Argentinië, Chili en Peru aangetref.
Ondernemingsgees en vernuf
ʼn Mens is nooit te oud om iets nuut te leer of te begin nie, lui die gesegde. Dit is juis hierdie positiewe gesindheid teenoor die lewe wat SHEILAM tot stand gebring het. Op die rype ouderdom van 70 het mnr Schwegmann, wat die onderneming meer as ses dekades gelede begin het, die kwekery na sy kinders vernoem. Die naam is ʼn samestelling van hul naamvoorletters – Suzan, Helene, Elizabeth, Izak en Marsha.
Nisboere, Laeveld Agrochem se gewilde en bekroonde TV-reeks op VIA, se afgelope vyfde seisoen, het juis vanjaar ook op SHEILAM gaan besoek aflê as deel van hul missie om gewone mense wat buitengewone boerdery-idees suksesvol toepas, uit te lig en te vier.
“Ons doelwit, veral deur die Nisboere-program, is om entrepreneurs en boere aan te moedig en te help om volhoubaar te wees in hul ondernemings, veral in landbou om onder meer werkloosheid en armoede te verlig,” sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem.
Daar kan tussen drie tipes woestynplante onderskei word: plante met harde, leeragtige blare, wat verdamping tot die minimum beperk (xerofiete); plante wat water in vlesige stingeldele of blare kan opberg (sukkulente); en veral eenjarige plante wat die droogte in die vorm van saad oorleef en wat onmiddellik na die reën begin blom, saad vorm en vervolgens afsterf.
Elke kaktus het ʼn bekoring van sy eie, iets wat jou na aan die hart lê – jy sal nooit uitgeplant raak of jou liefde vir hierdie wonderplant verloor nie.