DINK GRÓÓT

Delmas Fresh Herbs: ’n vars beskouing van gesondheid

Op die plaas Olifantsfontein naby Delmas in Mpumalanga verenig talle faktore om dit ’n kruie-en-groenteplaas van formaat te maak. Dis hier waar Delmas Fresh Herbs gesetel is … met die klem op várs!

Dié faktore, sê die maatskappy se besturende direkteur, Coby van Wyk, is die ligging, die klimaat, die grond en die geleentheid wat hom en sy span gebied word om ’n internasionale afset te kan hê.

Dat Delmas Fresh Herbs so ver gevorder het, is verstommend as in ag geneem word dat dit ’n skrale vyf jaar oud is en sedertdien gegroei het tot een van Suid-Afrika se voorste uitvoerders van grasuie, roosmaryn, tiemie, koljander, basielkruid, salie, pietersielie en vinkel. Daarby het dit in hierdie paar jaar ontwikkel tot ’n gerekende plaaslike verskaffer van brokkoli en babagroente, onder meer babaworteltjies en bababeet.

Coby vertel dat hulle die produksiegeleentheid gegryp het toe ’n groot Duitse invoerder in 2020 ’n konstante verskaffer van vars kruie uit Suid-Afrika gesoek het. “Dis hoe alles begin het. Nog ’n pluspunt wat baie voordelig is vir ons onderneming, is natuurlik die relatief klein afstand na die OR Tambo-lughawe, net 55 kilometer of ’n halfuur se ry.” Brokkoli word byvoorbeeld eksklusief vir Woolworths verbou – en verspreiding landwyd moet vinnig en soomloos geskied.

Delmas Fresh Herbs se grootste voordeel vir die suksesvolle verbouing van hul vars produkte bly egter die feit dat die plaas in die perfekte omgewing gesetel is. Dis nommerpas vir groente en kruie, met goed gedreineerde grond en goeie weersomstandighede, volgens Coby. Dié goeie weer maak dat daar intensief op die plaas geboer kan word, wat beteken dat die vlakke van inset en uitset per eenheid van landbougrondoppervlakte hoog is. “Ons kruieprodukte is baie sensitief in vergelyking met gewone ander groenteprodukte. As die reënval te veel is, is dit ’n probleem. As jy te min reën kry, werk dit ook nie. Jy sit hier dus soms met twee uiterstes wat jy moet bestuur vanweë die sensitiwiteit van die produkte.”

Dis waarom Delmas Fresh Herbs groot stukke aanplantings onder skadunet gesit het … om dit so ver moontlik teen kwaai temperatuurwisseling en uiterste weersomstandighede te beskerm.

Goeie dreinering, genoeg son (ongeveer vier ure per dag), goeie voedingstowwe en gereelde besproeiing is van die allergrootste belang. Verwelkte blaartjies moet gereeld verwyder word en die sorgsame hantering van die kruie is van kardinale belang.

’n Volgende stap in die produksieproses is die koue ketting. Die hantering en versorging van kruie en groente eindig allermins by die plukproses. “Dit is noodsaaklik dat die regte prosedure gevolg word, want jou produkte moet so gou moontlik nadat dit gepluk is na ons koelkamer in die pakstoor gaan, anders gaan dit bederf,” sê Coby.

Verkoeling en verpakking is nie die laaste stappe in die gehaltebeheerketting nie. “By Delmas Fresh Herbs bied ons jaarlikse opleiding aan ons personeel. Dit sluit in gesondheids- en sindelikheidsopleiding, veiligheidsopleiding, opleiding vir bespuiting, asook vir die meng van chemiese middels vir plaagbeheer. Die verskaffers van hierdie chemikalieë en van bemistingstoerusting bied ook hulp, en wetenskaplikes besoek die plaas jaarliks om ons op die hoogte te hou van sekere nuwe vereistes van of verwikkelinge in die bedryf. Dit is alles noodsaaklik sodat ons op die voorpunt kan bly en aan te hou om kwaliteitprodukte te lewer.”

Volgens Coby moet elke varsprodukprodusent wat uitvoer, sorg dat hy gesertifiseer word as Globale “GAP-verskaffer” van vars kruie vir die plaaslike én uitvoermark. So is SAGAP, oftewel die Suid-Afrikaanse GAP-program (Good Agricultural Practices of Goeie Landboupraktyk), ’n sertifiseringsprogram wat die gehalte en veilige verbruik van landbouprodukte in die land moniteer. Produkte wat vir die uitvoermark bestem is, moet eweneens voldoen aan bepaalde vereistes en bewys kan lewer van gehalte … soos dat vars produkte soos vrugte, groente en kruie geproduseer is onder die vaandel van Goeie Landboupraktyk. Dit is ’n regeringsgegronde oudit, wat die groen lig gee dat bepaalde produkte op die regte, veilige manier gekweek, gehanteer, verpak en versprei word.

Delmas Fresh Herbs is ook gesertifiseer as ’n SIZA-verskaffer, wat beteken dat hierdie onderneming ressorteer onder die Suid-Afrikaanse Volhoubaarheidsinisiatief (Sustainability Initiative of South Africa), ’n platform vir rolspelers in die landboubedryf wat etiese en omgewingsvolhoubare handel verseker.

Coby het geen illusies daaroor nie dat boerdery en die landboubedryf deursettingsvermoë verg. “Boerdery oor die algemeen is uitdagend, maar dit kan soveel bevrediging verskaf. Goeie resultate word net verkry as jy vasbyt.”

Vir Rehette Greyling, ’n kliniese dieetkundige en praktykeienaar by Woodhill Dietitians, is daar niks heilsamer as vars produkte soos dié van Delmas Fresh Herbs nie. “Brokkoli bevat lekker baie vesel en vitamien C. Veral met die winter, wat nou om die draai is, het ons liggame dit nodig.”

Sy voel sterk oor die beginsel dat dit wat jy in jou mond sit, ’n wesenlike uitwerking op jou liggaamlike welsyn het. Daar is ook geen verskoning dat sulke produkte buite ons bereik is nie, “want ons landbou het ’n opvallend diverse opbrengs van gewasse”. As ons ons gesondheid as belangrik ag, hoef ons nie ver te soek vir die regte kos nie, sê sy.

“Elkeen van ons het ’n verantwoordelikheid teenoor onsself om altyd gesond te eet – veral omdat ons so ’n geredelike toegang het tot vars produkte wat oral in die land beskikbaar is. Ons moet onsself optimaal voed. Dieetkundiges beweeg weg van die beginsel om ’n algemene soort dieet voor te skryf, en fokus eerder op elke individu se spesifieke behoeftes. Hoe meer produkte van dié aard Suid-Afrika produseer, hoe makliker is dit om hierdie beginsel toe te pas. In die era van kitskosse het ons dus geen verskoning nie … ons het oorgenoeg vars, gesonde kos.”

Rehette vertel dat sy gereeld mense teëkom wat kitsoplossings vir hul gesondheidskwessies soek. “Dit bestaan nie. Dis baie belangrik dat jy altyd moet ag slaan op die gehalte van jou dieet. Kyk mooi waar jou voedselprodukte vandaan kom, hoe dit bewerk en geoes is. Die hele konsep ‘van plaas tot bord’ is belangrik – daardie gaping moet verklein word. Kosgehalte is direk gekoppel aan voedingswaarde … en hoe hoër die voedingswaarde, hoe groter die bydrae tot jou gesondheid. Die meeste siektes het ’n inflammatoriese ondertoon, en dís waar kos ’n direkte invloed op jou gesondheid kan hê.”

Mense moet liefs hou by vars produkte, soos Delmas Fresh Herbs s’n, “en oppas vir ultragekonsentreerde kosse wat groot gesondheidsprobleme kan veroorsaak. In die landboubedryf is dit belangrik dat produkte wat minder verwerk is, meer bekombaar gemaak moet word. Dis ook elke individu se plig om hom- of haarself ’n bietjie meer daaraan bloot te stel. Vra jouself af: Wat wil jy met jou dieetplan bereik?”

Ingewandsgesondheid is, volgens Rehette, van die allergrootste belang, “want ons sien al hoe meer probleme juis hier ontstaan. Dis iets waarop ouers moet let reeds vanaf hul kinders se geboortedag. As volwassene moet jy jou dieet herprogrammeer, indien nodig. Let op die mate van verwerking van die kos wat jy eet. Hoe groter die verwerking, en hoe meer byvoegings en preserveermiddels, hoe groter die moontlikheid dat dit ’n negatiewe uitwerking op jou liggaam kan hê. As ons dít regstel, stel ons outomaties ander probleme reg, soos insulienweerstandigheid en oorgewig. Die regte kos, in die regte mate, beteken dat jou gesondheidskwessies vanself in plek val.”

Voorts moet ons vir onsself haalbare doelwitte stel, sê sy. “Moet nooit sulke doelwitte te groot en onbereikbaar maak nie, want dan verloor jy moed. Maak stelselmatige veranderinge in jou dieet wat jy geleidelik kan implementeer – dit wat bereikbaar en volhoubaar is.”

Dieetkundiges weet byvoorbeeld dat ’n lae veselinname die risiko vir kolonkanker verhoog. “Vir voorkoming, eet vars kos … en ’n verskeidenheid daarvan. Dit help ook nou nie jy fokus op net een groenteproduk nie. Dis wat so lekker in Suid-Afrika is … ons het so ’n groot verskeidenheid byderhand.

“Ons sê altyd ‘eet ’n reënboog’, met ander woorde ’n verskeidenheid kleure. Dit help om siektes te beveg. Maak gebruik van dit wat Suid-Afrika se boere ons bied!”

  • Volg @Delmas Fresh Herbs Pty Ltd op sosialemedia. Vir meer inligting, bel Coby by 082 872 4346 of skryf aan hom by coby.vanwyk@delmas-fresh-herbs.co.za Adres: Gedeelte 10 & 16, Olifantsfontein-plaas 186, Delmas, Mpumalanga 2200.
  • Vir dieetkundige raad, besoek www.woodhilldietitians.co.za of skryf aan admin@woodhilldietitians.co.za of bel 012 995 4400 of 072 765 7314.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za