Op ’n plasie in die hartjie van Pretoria het Hendrik en Ria Verloren van Themaat ’n ware oase geskep … in die eerste plek as nalatenskap en genieting vir hul kinders en kleinkinders, maar ook vir stedelinge en toeriste wat soms aan die beton wil ontsnap.
Daar is nóg redes om by dié agritoerisme-lushof in die middel van die stad in te loer. Die interessantste en uniekste is omdat die egpaar bewys het druiwe kan ewe suksesvol in Gauteng as in die Kaap verbou word. Dis waarom “Druiweplaas” in Zwavelpoort so ’n nommerpas naam is vir dié mooi plek in een van die skilderagtigste valleie in die omgewing.
Boerdery was altyd in Hendrik en Ria se bloed, maar druiwe – ’n tradisioneel eg-Kaapse vrug – was ’n uitdaging. “Ek en Ria het, net nadat ons getroud is, besluit ons wil graag op ’n kleinhoewe bly.” Op hul eerste lappie grond het hulle onder meer proteas gekweek, maar toe hulle met druiwe wou begin eksperimenteer, het die Zwavelpoort-eiendom in die mark gekom. “Dié grond was taamlik ver oos uit Pretoria geleë, en ons het net gewéét dit is die regte plek.” Die vallei, wat beskerming bied teen fel natuurelemente soos hael, sowel as die effense helling waarteen die wingerdstokke floreer, het Hendrik laat besef sy planne is glad nie so vergesog nie.
Vir hul albei was ’n eie wingerd altyd ’n droom, en dié paar hektaar sou, vanweë die perfekte ligging, dit dalk net moontlik maak, het hulle besef. “Ons het maar kleinerig begin, maar die stokke later na ’n paar hektaar uitgebrei.”
Hendrik sê die ligging van hul eiendom is ’n reuse-bate en ondersteun al hul planne. “Ons is baie gelukkig om dit so perfekte te kon tref. Die valleitjie, met die rantjie, sorg dat ons nie kwaai onder hael deurloop nie. Die ergste wat ons hier kry, is hael van ’n ryskorrelgrootte. Net so ’n kilometer van ons af val daar soms swaar hael. Vir ons druiwe was dit nog nooit ’n probleem nie. Die granate vaar natuurlik selfs nóg beter hier.”
Die rivier wat dwarsdeur die stuk grond loop, voeg nie net waarde toe tot die skoonheid van die eiendom nie, maar dra by tot die vrugbaarheid daarvan.
Vandag spog Druiweplaas met die tafeldruifkultivars Flame Seedless, Dan Ben Hannah, Datal en hanepoot, wat almal tussen Desember en Maart ryp word, en die granaatkultivars Wonderful en Azerbaijani wat van Maart tot April geoes word, maar tot Augustus uit die koelkamer beskikbaar is. Daar is ook ’n hele aantal turksvybome op die eiendom – en die beste van alles is dat dit ’n doringlose kultivar is.
Hoewel hul druiweboerdery van meet af aan suksesvol was, wou die Verloren van Themaats graag dwarsdeur die jaar ’n inkomste uit hul grond verdien. “Jy het ook net drie maande van die jaar waarin jy druiwe kan pluk,” sê Hendrik. “En uiteindelik is die probleem met druiwe dat dit ’n taamlike kort raklewe het. Jy kan dit ook nie lank stoor nie. Ons het in ’n stadium selfs van ons druiwe uitgevoer, maar die kostes, arbeid en moeite wat hierin gesit is, was te veel vir dit wat ons uitgekry het.”
Die egpaar het, nadat hulle verdere huiswerk gedoen het, besluit op die aanplant van granate om hul mark te vergroot. “Granate kan lank gestoor word, veral in koelkamers, en jy kan die vrug ook baie lank aan die boom hou voordat jy dit pluk. Dis iets wat jy nie met druiwe kan doen nie.” Die pluspunt is dat die Gautengse klimaat perfek is hiervoor.
’n Volgende stap was die produksie van granaatsap, en om dit op die terrein te pers. “Ons vries dit dan onmiddellik, sonder enige bymiddels.”
’n Uitstekende afsetplek vir Druiweplaas se produkte is die Pretoria Boeremark wat elke Saterdagoggend duisende besoekers lok. Dis hier waar Hendrik en Ria nou al jare lank ’n stalletjie het vir die verkoop van hul granaatsap, en drie maande van die jaar ook van hul vars druiwe. “Ons deel ’n stalletjie met iemand wat reeds vrugte verkoop en is dwarsdeur die jaar, elke Saterdag van halfses tot tienuur, daar om ons produkte van die hand te sit.”
Die Verloren van Themaats roem hulle daarop dat jy nêrens as by hulle stalletjie varser druiwe sal raakloop nie. “Die lekkerte is dat die druiwe wat ons hier verkoop nie meer as ’n dag vantevore gepluk is nie. Die oomblik dat dit van die stok is, gaan dit direk na die koelkamer, en van daar na die Boeremark. Die afstand waaroor dit vervoer word, is maar so 15 kilometer. Ria is baie beslis daaroor dat nie een van Druiweplaas se trosse hier verkoop sal word as die stingeltjies nie meer heldergroen is nie. In die Kaap het ons al druiwe gekoop waarvan die stingeltjies nie meer groen is nie. Dit wys dat die druiwe nie heeltemal vars is nie.”
Die enigste natuurelement waarmee die plaas sukkel, is apies uit die vallei wat die soetigheid van Hendrik en Ria se druiweoeste ontdek het. “Ons het dié probleem sedert so sewe jaar gelede, maar ons huur nou mense om in die druiweseisoen die diertjies te verwilder. Daar is ook so ’n bietjie probleme met ystervarke wat graag die laaghangende granate eet, maar dis minimaal. Daar is soveel granate aan elke boom, en die ystervarke kan nie hoog bykom nie.”
Ná al die jare het Hendrik en Ria en hul kinders saam Druiweplaas se besigheidsmodel herbedink. Dit is om die eiendom vanweë sy unieke ligging, skoonheid en aanbod van vrugte en ontspanningsgeriewe aan die publiek oop te stel. “Ons het so ongeveer 2,5 hektaar grasperk hier langs die rivier, sowel as so ’n hektaar onder water waarin daar visse is.”
Dit alles maak die eiendom ’n gesogte wegbreekplek vir gesinne wat naweke ’n mooi versorgde braai-en-kuierplek soek, weg uit die stadsomgewing. Hendrik meen die plasie is ook uiters geskik vir korporatiewe wegbreke, spanbousessies en sosiale byeenkomste, juis vanweë die rustigheid en dit wat alles hier gebied word. “Dis nogal besonders om hier te kom kuier. Ek dink nie daar is in Gauteng ’n mooier plek as dié nie, met al die grasperke, die wilgerbome en die 200 meter lange rivierfront. Dan het ons ook ’n aparte rondawel met ’n braaiplek en ’n plek waar jy ’n kampvuur kan maak. Daar is ’n swembad wat ons vir ons kinders gebou het toe hulle nog in die huis was, saam met ’n muurbal- en tennisbaan. Op Druiweplaas is dus heelwat te doen en te sien en te geniet, met alle noodsaaklike geriewe.”
Hendrik sê een van die beginsels waarop hy as entrepreneur werk, is om sy arbeidsmag klein en kundig te hou. “Ons het net twee werkers, en ons hou daarby. Tussen ons paar kry ons dit reg om alles te hanteer. Net in die pluktyd bring ons ekstra mense vir dié doel in.”
’n Plasie wat ’n eie inkomste genereer, is ’n plesier, sê Hendrik. “Vir ’n entrepreneur is so ’n klein stukkie grond ideaal – ’n eie plek waarin jy kan woel en iets kan produseer wat aan jou ’n inkomste bied. Dit is beslis die moeite werd!”
- Volg @Hendrik Druiweplaas op sosialemedia. Vir meer inligting en besprekings, besoek www.druiweplaas.co.za, skryf aan hendrik@druiweplaas.co.za of bel 082 324 5596. Die adres is Zwavelpoort, Landgoed 123 (Achillesweg 3541), Pretoria.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za