Wanneer jy ’n pakkie sampioene van die winkelrak afhaal, dink jy waarskynlik nie twee keer oor wat dit verg om daardie sampioene te kweek nie. Tog is sampioenboerdery ’n fyn wetenskap waar die kleinste besonderhede ’n groot verskil kan maak. Vanaf die kompos waarin dit groei tot die temperatuur en klimaat waarin dit gekweek word… elke element moet reg wees. By Country Mushrooms het hulle hierdie proses oor dekades heen vervolmaak.
Die huidige aandeelhouers van Country Mushrooms het in 1996 hul reis begin met ’n eenvoudige dog ambisieuse doelwit: om ’n sterk Suid-Afrikaanse sampioenmark te help bou. Vandag, 30 jaar later, is die boerdery ’n groot operasie wat sowat 100 ton sampioene per week produseer en werk aan ongeveer 330 permanente werknemers verskaf. Daarbenewens maak hulle ook van stukwerkers gebruik wanneer ekstra hande benodig word.
Maar voordat ’n enkele sampioen sy verskyning maak, begin die proses by iets wat dalk nie baie indrukwekkend klink nie: kompos. Vir Country Mushrooms is dit egter een van die belangrikste afdelings van die hele boerdery. Die kwaliteit van die kompos het ’n direkte invloed op die kwaliteit van die eindproduk. Eenvoudig gestel: swak kompos beteken swak sampioene. Daarom word groot sorg aan hierdie eerste stap van die proses gegee.
Kompos is egter net een deel van die legkaart. Klimaat speel ’n ewe belangrike rol en maak sampioenboerdery ’n besonder ingewikkelde bedryf. Die regte omstandighede moet deurlopend geskep en bestuur word om ’n konsekwente produk van goeie gehalte te lewer. Dit beteken dat produsente voortdurend bewus moet wees van faktore soos temperatuur, humiditeit en die omgewing waarin die sampioene groei.
Hoewel daar talle interessante en eksotiese sampioensoorte op die mark is, fokus Country Mushrooms hoofsaaklik op wit- en bruinsampioene. Die mark vir eksotiese sampioene kan wisselvallig wees, en daarom kies hulle om hul energie te fokus op produkte waarvoor daar ’n meer konsekwente aanvraag bestaan. Dit beteken egter glad nie dat sampioene ’n vervelige produk is nie. Inteendeel, dit is ’n ongelooflik veelsydige bestanddeel wat op verskeie maniere gebruik kan word en deel vorm van geregte in kombuise regoor die wêreld.
Nog ’n belangrike onderdeel van Country Mushrooms se manier van boer, is volhoubaarheid. Op ’n plaas wat week ná week op groot skaal produseer, kan vermorsing vinnig ’n probleem word. Daarom probeer die span voortdurend maniere vind om hulpbronne beter te benut. Vir hulle gaan volhoubaarheid nie net oor wat vandag op die plaas gebeur nie, maar ook oor hoe hulle die onderneming vir die volgende generasie in ’n ewig veranderende mark rat.
Wanneer Country Mushrooms na die toekoms kyk, is die doel nie noodwendig om alles te verander nie. Hulle wil eerder voortbou op dit wat reeds werk: kwaliteit produkte lewer, meer volhoubaar boer en saam met die Suid-Afrikaanse mark groei. Ná 30 jaar het hulle geleer dat sukses nie altyd daarin lê om die mees eksotiese produk te produseer nie, maar eerder om ’n goeie produk konsekwent met sorg te lewer.
Vir meer inligting, volg @Country Mushrooms op sosialemedia, besoek https://countrymushrooms.co.za/ skryf aan johan@countrymushrooms.co.za of bel 011 964 1455.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.