DINK GRÓÓT

Corné Liebenberg (Laeveld Agrochem) en Karl-Heinz Göbel (JAC Motors)

Nisboere 9: wanneer planne nie by praat bly nie

Vir Karl-Heinz Göbel, uitvoerende hoof van JAC Motors Suid-Afrika – mede-titelborg van die TV-program Nisboere – was dit die weerstandigheid en uithouvermoë van die nisboere in die afgelope seisoen se programme wat hom die meeste getref het.

“Ek is dankbaar dat ons weer betrokke kon wees,” sê hy aan die einde van die 24 episodes van Seisoen 9 van hierdie gewilde program oor alles wat Suid-Afrika se kleiner landbouers, asook landbou-ontwikkelaars en ander rolspelers in die landboubedryf regkry. Nege jaar nadat Nisboere die eerste keer aangebied is, het die idees, planne en sukses van hierdie groep innoverende denkers opnuut entrepreneurskap op sy beste getoon, prakties gewys watter nuwe geleenthede in die landboubedryf voortdurend geskep word, ook watter nuwe boerderymetodes en landbouprodukte bedink en beskikbaar gestel word. Werkskepping het, soos voorheen, uitgestaan as een van ons nisboere se grootste bydraes tot die samelewing.

Karl-Heinz en Corné Liebenberg, direkteur van markontwikkeling en innovasie van Laeveld Agrochem, stem saam dat Nisboere ’n reuse-rol daarin speel om die rykdom van ons land se landboupotensiaal te vertoon en onder die aandag van die publiek én die land se leiers bring.

Corné erken ruiterlik: Selfs sý mond hang oop om te sien wat Suid-Afrikaners alles regkry, en hoeveel planne en planmakers daar op plase, in ondernemings of selfs in agterplase is wat ’n ongelooflike bydrae tot die landbou lewer. “Elkeen van hierdie planmakers het ’n pragtige storie – van bonsaiboompies tot byehuisies, van kannabis tot kaas en kruie, van sybokhaar tot saffraan en sitrusvrugte, van onkruid tot olywe … en nog baie meer!”

Nog ’n gemene deler wat uitstaan, sê Corné, is dat Nisboere vanjaar dikwels oor mense vertel het wat deur ’n moeilike tyd gegaan het, of nie goeie toekomsvooruitsigte gehad het nie, “maar weier om moed op te gee, en dan met nuwe planne vorendag kom en vir hulle en hul gesinne ’n interessante lewe en loopbaan skep wat aan hulle ’n goeie bestaan bied.”

Karl-Heinz sê as hy so om hom rondryk in die ateljee waar die afgelope seisoen se produkte uitgestal word, is die aanbod wyd uiteenlopend … sommige laat jou mond water, ander is hulpmiddels waarmee jy landboukwessies kan oplos, en daar is ook dié wat die lewe mooi en interessant maak, soos die produkte van die blomboere van Citrusdal en Wolseley.

Die keuse is oneindig, die verrassende nuwighede waarmee die deelnemers aan die 2025-reeks vorendag gekom het, is verstommend.

“Baie mense het nie die geld of die kapitaal om hul produkte of dienste te bemark en te adverteer nie; hulle het net ’n hupstoot nodig om hulle op ’n suksespad te plaas, waar die publiek oor hulle kan lees of in die opnames kan sien wat hulle alles doen; ook wie hierdie mense is,” sê Karl-Heinz.

Hy is dikwels in hierdie 48 verhale van innoverende denkers aangegryp deur dit wat doodgewone mense regkry, prestasies waaruit jy kan leer en selfs in jou eie lewe kan toepas. “Ná die episode oor granaatsap en die voordele daarvan, drink ek dit nou gereeld.” Vergeet nie van die lekker kase uit Brits se wêreld, die sappige bloubessies uit die Stellenbosch-omgewing, die uitsoekwyne van Roberson én Pretoria, die volstruisdroëwors en -biltong van Oudtshoorn, of die makadamias van Oos-Londen nie. 

“Dit maak ’n mens se hart warm om dit alles te beleef. Dis waarom JAC Motors so bevoorreg is om met Nisboere, Laeveld Agrochem en al hierdie planmakers geassosieer te word,” sê hy.

Sy liefde vir die landbou loop ’n lang pad met hom saam, vertel Karl-Heinz. Hy is ’n boorling van Carnarvon, waar sy ouers met groente, vrugte en koring geboer en die plaaslewe deel van hom geword het. “’n Mens ontgroei nooit hierdie deel van jou lewe nie; dit bly altyd deel van jou herinneringe.” Dis waarom hy soveel plesier daaruit put om by die Nisboere-reeks betrokke te wees, vertel hy.

Corné, wat Laeveld Agrochem in 1991 saam met sy pa, Nick, begin het, vertel dit wat hom vanjaar in die besonder opgeval het, is hoe baie van die produkte wat vertoon is, ook buitengewone gesondheidsvoordele bied – lekkernye wat kykers en lesers weer opnuut bewus maak van ’n fokus op varsheid en heilsaamheid om jou gesondheid te rugsteun.

Karl-Heinz stem saam: Daar word deesdae wêreldwyd groot klem gelê op die talle bymiddels in kos wat so ’n negatiewe invloed op jou gesondheid het. Die Nisboere-produkte vertel presies die teenoorgestelde verhaal … oor gesonde produkte wat gekweek word sonder chemiese ondersteuning. 

Alles wat kykers vanjaar beleef het, is boonop eg Suid-Afrikaans. Seisoen 9 se entrepreneuriese nisboerondernemings speel weereens ’n indrukwekkende ondersteuningsrol in die samelewing, met die skep van werksgeleenthede as een van die grootste uitvloeisels van hierdie boere se vindingrykheid.

Hoe méér verhale van suksesvolle nisboere die afgelope nege jaar vertel is, hoe méér ander nisboere is ontdek. Terselfdertyd het Nisboere gelei tot die skep van nuwe nisboere … wanneer mense met goeie idees, maar dalk nie genoeg moed nie, hierdie stories as aansporing gebruik het om dieselfde te doen. Karl-Heinz en Corné voel dat die program op hierdie vlak ’n reuse-bydrae tot entrepreneurskap gelewer het. Die nisboere se entrepreneuriese ingesteldheid was sedert die onstaan van die programreeks ’n inspirasie vir talle nuwelinge om die mark te betree. 

Om daardie eerste tree tot die skep van jou eie onderneming te gee is nie maklik nie, maar Nisboere se boodskap was vanjaar weer helder en duidelik: As ék dit kan doen, kan jý dit doen. Al wat moet gebeur, is dat jy jouself die geleentheid moet gee om te leer; om kennis op te doen by ander mense in die bedryf wat reeds die pad gestap het waarop jy jou nou wil begewe. Luister, vra raad, vat dit stappie vir stappie, gee jouself kans om te misluk, weet dat jy waarskynlik skoolgeld gaan betaal … maar moenie moed opgee nie. Doen jou huiswerk vooraf deeglik, glo in jouself, glo in jou diens of produk – en leef jou passie uit. Sukses as nisboer verg langtermynbeplanning, omdat volhoubaarheid en kitssukses nie hand aan hand gaan nie. Die resep is: treetjie vir treetjie, stappie vir stappie – en vasbyt!

“Een van die drome van hierdie program was nog altyd om hoop te gee,” sê Corné. “Ons moet bereid wees om skeppend te dink en planne te maak. En daarna terugploeg in die land.”

Wat hy persoonlik hieruit geleer het, is waardevolle lewenslesse: As jy jou passie wil uitleef, gee net daardie eerste tree; moenie dat jou planne by praat bly nie … dóén iets! Leer by ander mense. Deur die bank is hierdie boere mense met ’n oop hand, wat graag hulle idees met ander deel. Dis lede van die samelewing met die regte ingesteldheid, want hul harte is op die regte plek. Wie weet waar hierdie planne en produkte oral gaan uitkom, en dit te danke aan nuwerwetse tegnologie wat die nisboere selfs met die buiteland verbind.

As mede-titelborg het JAC Motors die laaste twee reekse van Nisboere moontlik gemaak, en speel dus ’n kernrol in die sukses van die program, beklemtoon Corné.

Karl-Heinz is van die oortuiging dat JAC Motors aanklank vind by die program omdat die maatskappy aanvanklik, toe dit gevestig is, nie altyd die voordeel van die twyfel gekry het nie. “Toe ons JAC die land ingebring het, het baie mense teenoor ons laat blyk dat ons nie suksesvol gaan wees nie. Daar was pessimiste wat ons afgeraai het om te doen wat ons doen, of wat net donker wolke gesien het. Kry liewer iets anders om te doen, was hul mening. Vir my was dit ’n geloofsaak. Ons het geglo in ’n Hoër Hand wat hierdie pad vir ons uitgesit het – ons volg dit.”

Karl-Heinz is uiters gesteld daarop om sy geloof as Christen ook in die moeilike en harde besigheidsomgewing uit te leef. Hy beskou dit as ononderhandelbaar – hy het ’n duidelike boodskap gevolg oor die vestiging van JAC Motors in Suid-Afrika, sê hy. 

“JAC Motors het met min voertuie begin – ons het nou gegroei na verkope van oor die 200 per maand.” Net soos baie nisboere het JAC sy produkreeks algaande uitgebrei. “Ons is dankbaar dat ons uitgebrei het en aan die publiek goeie, betroubare voertuie teen bekostigbare pryse kan voorsien.” 

Corné gee toe dat Laeveld Agrochem punteneurig is oor gehalte, en dat juis dít een van die redes is waarom hy en Karl-Heinz aan die einde van die baie suksesvolle Seisoen 9 van Nisboere teenoor mekaar sit en kan beplan vir die toekoms én vir die volgende reeks. Dat hierdie twee maatskappye nog ’n lang pad gaan saamstap, is gewis.