Dit lê in die kleur. In die geur. In die vorm. En meer as dikwels in die byt.
Wat jou ook al van hierdie vruggies fassineer … rissies se verskeidenheid kleure, geure, smake en vorms is wat die jong Ampie Nel van Mbombela in die eerste plek beïndruk en uiteindelik tot sy onderneming, Capsaicin Creations, gelei het.
Vier jaar gelede, toe hy rissies as ’n stokperdjie begin aanplant het, het ’n paar kenmerke vir hom uitgestaan – dat dit ’n eksotiese, unieke vrug is wat vir seker die aandag trek. En dit, sê hy, is die basis van entrepreneurskap … om ’n produk of diens te verskaf wat “anders” is. Of, soos die ekonoom Dawie Roodt aan Nisboere se Corné Liebenberg gesê het: “Om ’n behoefte by verbruikers te skep vir iets wat hulle nie geweet het hulle graag wil hê nie.”
Ampie se onderneming voldoen in alle opsigte aan hierdie maatstaf. Sy boerderyfokus draai rondom uniekheid en verskeidenheid, vertel hy. “Want dis hoe jy ’n gaping in die mark vind én vul.”
Ongeveer vier jaar en 85 variëteite later en dié stokperdjie het ontwikkel tot ’n voltydse bedryf wat hy man-alleen bedryf. Soos dit met alle goed bestuurde besighede en boerderye gaan, het dit uitgebrei tot ’n wye reeks neweprodukte, in Capsaicin se geval ’n reeks rissiesouse wat, afhangende van die geur en die skop wat jy as verbruiker soek, by enigiets van roomys tot skaapboud geëet kan word.
“Dit het hier in 2019, 2020 as ’n stokperdjie begin toe ek ’n klomp eksotiese rissies begin kweek het. Ek wou met iets boer wat anders is, wat jy nie elke dag sien nie. So ’n keuse tref jy nie oral aan nie. Nou het dit my hele lewe oorgeneem. Ek verbou en verwerk dit hoofsaaklik vir souse wat ek reeds wyd bemark.
“My inspirasie is die verskillende kleure, vorms en smake. Elke vorm het sy eie smaak, en elkeen se blommetjies het sy unieke kleur. Dit alles maak dat jy met ’n groot klomp verskillende rissiesoussmake kan speel wat by verskillende palette pas … van bietjie brand tot baie brand.”
Ampie is ook daarop gesteld dat die etikette presies vertel wat die verbruiker te wagte kan wees. Eerstens deur aan te dui dat die sous met die hand gemaak is, en tweedens dat die name pas by die aard van die sous, soos Copperhead, Liquid Death, The Complexity Sauce, Spiky Joe en Moringa Mango Scorpion. “Elke klant se smaak moet bevredig word. Hulle kan op die etiket sien wat hulle in die bottel te wagte kan wees. Hulle kry wat hulle verlang. Ek sorg dat omtrent almal se smake bevredig word.”
Hierdie smake wissel tussen soet en matig, mediumwarm, warm en superwarm. Ampie weet presies watter kategorie rissie watter hittegraad bied – jare se navorsing en ervaring het hom een van die land se voorste rissiekenners gemaak, met variëteite soos Albina, Habanero, Carolina Reaper, Datil, Fatalii, Madame Jeanette, Naga Viper, Trinidad Scorpion, Scotch Bonnet, Tabasco en Rocoto.
Dis ’n vruggie wat dateer tot duisende jare v.C. Oorspronklik is dit hoofsaaklik in Sentraal- en Suid-Amerika verbou, veral Mexiko. Die uiteenlopende variëteite van hierdie bessievrugteplante van die genus Capsicum word spesiaal om hul sterk smaak verbou en wêreldwyd gebruik om byt aan disse te verskaf. Europese ontdekkingsreisigers het rissies in die laat sestiende eeu na hul vasteland teruggebring en dit het geleidelik na die res van die wêreld versprei as kos en tradisionele medisyne. Die vyf spesies wat veral verbou word, is annuum, baccatum, chinense, frutescens en pubescens.
Ampie vertel dat dit ’n bedryf is wat hom heeljaar besig hou. “Hierdie gewas moet dwarsdeur die jaar versorg word. Gedurende die koue maande is die bome ’n bietjie meer dormant. Hulle groei nie baie nie en dra ook nie juis nie. Dis wanneer ek vir die volgende groeiseisoen begin voorberei. Ek beplan ook in watter tipes ek dan in die volgende seisoen gaan spesialiseer en begin die souse regkry vir die res van die jaar. In hierdie drie tot vier maande, wanneer ons nie regtig besig is met verbouing nie, is dit raadsaam om te fokus op dit wat vorentoe op my wag.”
Ampie vertel dat die rissie se groeiproses alles in water plaasvind. “Van saailinge kweek tot oestyd – alles gebeur met en in water.”
Dis ’n herwinbare watersisteem “waar ek water uit ’n reservoir pomp wat dan oor die plantjies spoel. Hierdie sisteem sirkuleer die hele tyd, regdeur die seisoen. Dit is hoe die plante hul voedingstowwe kry.”
Hy het gevind dat ’n hidroponikastelsel vir hom baie beter oeste lewer, sê Ampie. “Jy moet seker maak dat jou voedingstoftoediening en -verhoudings reg is. Dis nie altyd maklik om daardie resep te vervolmaak nie. Ek weet net dat ek alles moontlik moet doen om die kwaliteit en kwantiteit te lewer waarna ek op soek is.”
Ná vier jaar en groot sukses bly daar steeds uitdagings, gee hy toe. “My grootstes is spasie en tyd. Ek doen alles self – plant, oes, maak souse, verpak, versprei en verkoop. Om tyd te kry om by alles uit te kom is nie altyd maklik nie. Maar Capsaicin Creations groei so vinnig, dat ek nou daarna begin kyk om binne die volgende twee jaar my vlerke te sprei, veral ten opsigte van verspreiding en verkope; ook wat ruimte betref.”
Van die wenresep “uniekheid” sal hy egter nooit afwyk nie. “My souse is eiesoortig as gevolg van die bestanddele wat ek gebruik … soos sjokolade, koffie, saffraan en turksvye. Ek probeer dus geure in die mark sit wat nog nie bestaan nie, iets wat beslis dadelik opval. Dis natuurlik belangrik dat al hierdie byvoegings en bestanddele van topgehalte moet wees. Ek maak seker dat ek net kwaliteitprodukte lewer.”
Vir Ampie bly die lekkerste deel van sy boerderyonderneming “om rond te speel met kleure, geure en bestanddele”. Hiermee bewys hy natuurlik ’n groot guns aan ander verskaffers, “want ek koop meestal plaaslik aan”.
Ampie kry sade vir voortgesette aanplanting uit sy eie oeste. “Ek is baie vol fiemies oor watter sade ek oes vir heraanplanting, want ek is uitsoekerig oor die regte fenotipe.”
Hiermee bedoel hy die samestelling van ’n organisme se waarneembare kenmerke, ook sy morfologie, ontwikkeling en biochemiese eienskappe. Want dít is presies wat uiteindelik sorg dat hy die verlangde kleur, geur en vorm kan produseer. “Ek moet seker maak dat, wanneer ’n kliënt sade by my koop, hy uiteindelik oes wat hy op die prentjie by my gesien het.”
Die algemeenste vraag wat hy moet beantwoord, is oor die groeimedium vir die rissies. “Behalwe water is dit ’n goeie mengsel van kompos, perliet en vermikuliet. Voorts moet die grond lig en sponsig wees, met ander woorde goed dreineer. Jy soek nie grond waarin die plantwortels vir ’n lang tyd baie nat gaan wees nie, want dis wanneer jy probleme gaan optel met peste en plae.”
Ampie se raad aan entrepreneurs is “om nooit die proses te kompliseer nie. Ek het nooit my hele projek geoorkompliseer nie. Jy moenie jou bome te veel troetel nie. Dit gebeur dan nét dat jy nie die resultate kry wat jy wil hê nie.
“Glo altyd in jouself en in jou produk en diens,” doen hy aan die hand. “Moenie moed verloor nie. As jy jou eie onderneming begin, is die pad nooit maklik nie. Gee ál jou tyd, maak moeite – jy sál die vrugte pluk!”
Dawie stem heelhartig hiermee saam: Dit is dat Ampie se nisboerdery eintlik ’n nisbesigheid is, “want jy kan nie ’n boer wees as jy nie ’n besigheidsman is nie. Jy moet die vaardighede hê, jy moet die nodige tegnologie hê en jy moet op die voorpunt wees van hierdie tegnologie. Die kern van entrepreneurskap is om altyd iets nuuts te probeer, om te kyk wat werk en wat nie werk nié. As entrepreneur bied jy ’n oplossing vir ’n probleem, of jy wys uit dat iemand ’n probleem of behoefte het wat hy nie geweet het hy het nie.
“Probeer dinge wat jy nie dink jy gaan kan hanteer nie. Sorg dat jy klaarmaak of afrond wat jy begin het. Jy gaan verbaas wees oor wat jy alles regkry!”
- Volg @Capsaicin Creations op sosialemedia.
Vir meer inligting, skryf aan capsaicincreations2022@gmail.com of bel 062 287 5929. - Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za