Camissa Farm in die vrugbare Banhoekvallei naby Stellenbosch is die bewys dat grond nie uitsluitlik tot veeteelt en die aanplant van gewasse beperk hoef te wees om “plaas” genoem te word nie.
Hierdie 60 hektaar-herlewingsboerdery, geleë in ʼn natuurreservaat op pad na Franschhoek en in die hartjie van die Kaapse Wynland, bied die ideale besoekplek vir stedelinge en moeë reisigers wat graag die natuur ten volle wil benut om weer verlore energie terug te sit en hul band met die buitelug te vernuwe.
Toe Rob en Sam Lundie, eienaars en gashere van hierdie gesogte bestemming, die eiendom in 2017 gekoop het, het hulle dadelik besef dit kan baie méér bied as om net ʼn lewe te maak uit olywe, amandels, avokado’s, neute, kruie, roosmaryn en suurlemoene.
Die ontwikkeling van Camissa tot ʼn ware toeristeoord sorg vir ʼn puik addisionele inkomste uit onder meer ses ekovriendelike toeristehuisies, ʼn 15 km-fietspad en staproete, swemplek in varswaterdamme, ʼn sauna en ʼn buitelugbad vanwaar gaste ʼn omgewing kan indrink wat wêreldberoemd is vir sy buitengewone natuurskoon. “Elke huisie het sy eie besonderse uitsig op die pragtige berge in die omgewing,” vertel Sam.
Die hele Camissa – die Khoekoe-woord vir “plek van vars water” – bied ʼn ongeëwenaarde vista op die Simonsberg, ʼn bekende Stellenbosse baken, sowel as die Drakenzicht-bergreeks wat so eie is aan die suidelike deel van die Wes-Kaap.
Die beste van alles is … die Lundies roem hulle daarop dat daar op hierdie mooi lap grond met sy gemengde vrugteboorde die minimum chemiese plaagdoders gebruik word. Die “vriendelike” Dexters sorg dat die landerye bemes word, en die ganse keer peste en plae sodat Camissa altyd sy beeld as ekovriendelike bestemming gestand kan doen. Boonop is hierdie goed versorgde eiendom binne minder as tien jaar ontwikkel tot ʼn nuwe vorm van toerismeaantreklikheid wat in Suid-Afrika posgevat het, naamlik agritoerisme, wat vir eienaars van plase, plotte en landgoedere ʼn beduidende bykomende inkomste verseker.
Sam leef hier nog een van haar vaardighede uit … dit is die produksie van handgemaakte seep in haar “seepateljee”. “Daar is niks beter wat van bad ʼn luukse-ritueel kan maak nie as ʼn romerige koekie seep wat ons self hier met sorg gemaak het. Die olyfolie en ander essensiële olies wat ons vervaardig uit die plaas se rose, malvas, roosmaryn en laventel het ons op die idee gebring om al hierdie wonderlike bestanddele saam te voeg in geurige seep.” Die seepskuim is ryk en mildelik, die skoonmaak-aksie sagkens, en die geur een wat jou lank omswewe ná die gebruik daarvan. Die sepies kan boonop dien as die mooiste geskenke vanweë die interessante vorms en kleure.
Camissa Farm is vir hierdie flukse, kreatiewe egpaar die verwesenliking van ʼn droom; klein genoeg sodat hulle persoonlik by alle aktiwiteite op die plaas betrokke kan wees, terselfdertyd groot genoeg om ʼn wesenlike verdienste te genereer om hulle ʼn goeie bestaan te bied.
Vir dié twee Suid-Afrikaanse boorlinge het Camissa sy ontstaan gehad in Spanje, waar hulle eers gewoon en in die eiendomsmark gewerk het, en Sam ook toevlugsoorde en staptogte in Majorka bestuur het. Die terugkeer na Suid-Afrika het begin by ʼn boek deur Michael Pollan, The Omnivore’s Dilemma, oor volhoubare boerdery. “Dit was vir ons albei of daar skielik ʼn liggie aangegaan het toe ons dit lees. Ons het dadelik besef volhoubare boerdery is waar ons passie lê. Ons het na Suid-Afrika teruggekom en hierby betrokke geraak, en dit is sedertdien ons lewe.”
Hulle het baie in die proses geleer, vertel Sam. “So het ons entoesiasties amandels aangeplant, maar nou trek ons van daardie bome uit en vervang dit met avokadobome. Ons het ook ʼn hele paar variëteite olywe en ons boer met ʼn klompie Dexters.”
Op Camissa word daar veral op diversiteit en grondgesondheid gefokus, sê sy. “Ons benadering is om verskillende soorte bome en gewasse saam te plant. Alles het egter nie altyd dieselfde voedingstowwe nodig nie, en dít is soms ʼn taamlike uitdaging. Daarby het ons food forests tussen die amandel- en avokadobome gevestig. Die makadamias, pekanneute, okkerneute en suurlemoenbome groei baie goed tussen ander bome. Ons het ook een lap wingerd waarvan ons Syrah maak.”
Dat Camissa in ʼn gesogte toeristebestemming ontwikkel is, was ʼn berekende besluit van die Lundies. “Die gasteakkommodasie is belangrik vir ons. Terwyl ons wag dat ons boorde volgroeid is en kan begin produseer, verskaf die kuierverblyf ʼn baie nodige inkomste om ons te ondersteun in alles wat ons in die plaas belê, soos die infrastruktuur.”
Vir toeriste is die lekkerste deel van die kuier dat hulle ʼn volledige plaaservaring kan geniet, sonder om self ʼn plaas hoef te besit, met alles wat dit van jou eis, meen Sam. “Hulle geniet al die produkte van die plaas, van die Syrah en olyfolie tot die sepies wat in die verblyfplekke op hulle wag.”
Dit is egter die asemrowende sonsondergange oor die Bolandse berge wat Camissa so fotogenies maak, en sorg dat kuiergaste weer en weer terugkom. “So ook die fynbos met veilige wandel- en bergfietspaaie wat hulle kan geniet. Dis hierdie fynbos wat ons elke jaar fynkam om te keer dat enige uitheemse plantegroei ʼn houvas op die grond kry.”
Entrepreneurskap verg ʼn belangrik eienskap, volgens die Lundies … dit is om nie sommer tou op te gooi met die eerste mislukking nie. “Alles het beslis nie van die begin af klopdisselboom op Camissa gegaan nie. Ons het dikwels op ʼn probeer-en-tref-grondslag geboer, en seker elke fout denkbaar begaan,” vertel Sam. “Maar dit was in sulke tye dat ons kon staat maak op die hulp en kundigheid van die boere om ons. Dit is mense wat die omgewing soos die palm van hul hand ken en wat ons waardestelsel deel. Hulle het nooit gehuiwer om raad te gee nie.”
Die goue reëls vir dié twee ondernemende nisboere was én bly: passie, vasbyt en aanhouer wen.
- Vir meer inligting, volg @Camissa op sosialemedia. Besoek www.camissafarm.com, skryf aan hello@camissafarm.com of bel 073 000 3652.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.