DINK GRÓÓT

Boer regeneratief, boer volhoubaar, boer vooruit

Dit gons onder Suid-Afrikaanse boere oor ’n nuwe benadering in die landboubedryf – en dit oor ’n term waaroor niemand nog 100% seker is nie: Moet dit nou verjongingslandbou, vernuwingslandbou of herlewingslandbou genoem word? Hoe dit ook al sy, “regenerative farming”, oftewel regeneratiewe boerdery, is ongetwyfeld die rigting om in te slaan as jy volhoubaar vooruit wil boer.

Die kern van regeneratiewe boerdery is die rol wat grond speel. Om so ’n bietjie perspektief te verskaf: Slegs een teelepel gesonde grond bevat tot 6 miljard mikroörganismes wat uiters belangrik is vir gewasproduksie. Volgens die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) is die helfte van die wêreld se grond egter tans gedegradeer.

Uit die aard van die saak het dit ’n direkte uitwerking op ons huidige landbouproduktiwiteit. Trouens, die jongste WEF-statistiek bewys dat ons tans produktiwiteitsverliese van so $400 miljard per jaar ly. Dit het egter ook ’n byna ondenkbare impak op ons toekoms. Volgens Regeneration International sal ons – soos sake nóú staan – binne 50 jaar nie meer genoeg gesonde grond oorhê om die wêreld te voed nie.

Boonop is gedegradeerde grond ook geërodeer en bevat dit minder koolstof – alles faktore wat ons omgewing nόg kwesbaarder vir klimaatsverandering en uiterste weersomstandighede maak. ’n Studie deur die WEF bewys dat hierdie gronddegradering hoofsaaklik deur huidige landboumetodes veroorsaak word, wat die gebruik van swaarmasjinerie, kunsmis en chemiese plaagdoders insluit. 

Dis juis om dié rede dat regeneratiewe boerdery ontstaan het, en alhoewel daar verskeie definisies daarvoor is, soos “om in harmonie met die natuur te boer”, stel die WEF dit eintlik die beste, naamlik dat dit alles uiteindelik op die gesondheid van ons grond neerkom: “Regeneratiewe landbou is ’n boerderymetode wat op grondgesondheid fokus, want wanneer ons grond gesond is, produseer dit méér voedsel en voeding.”

Nisboere het onlangs ’n draai gaan maak by Angus McIntosh, alombekend as “Farmer Angus”, op die Spier Landgoed om meer te leer oor hoe dit in die praktyk werk. Angus is tans een van slegs twee beesvleisprodusente in die Wes-Kaap wat biodinamiese en regeneratiewe landboubeginsels toepas, wat insluit dat hul diere op weiding grootgemaak en gras gevoer word.

Klik hier vir meer oor sy storie, hoe hy regeneratiewe landboupraktyke beskryf en wat hom geïnspireer het om só te begin boer. 

Een van die eerste vrae hieroor wat natuurlik by ’n mens ontstaan, is wat die finansiële implikasies daarvan is en of dit engsins besigheidsin maak. So sê Angus: “Dis ’n eenvoudige beginsel: As jy nie geld maak nie, verloor jy geld.” 

Inderwaarheid is die finansiële faktor egter een van die kernbeginsels van regeneratiewe landbou. One Planet Business for Biodiversity (OP2B) stel dit só: “Regenerative farming aims to enhance the farm ecosystem, rather than exhaust it, through nature-based solutions.” Dienooreenkomstig is daar vyf hoofvoordele wat jy uit regeneratiewe landbou sal put, volgens ’n onlangse dieptestudie deur die WEF:

  1. Klimaat: Die bevordering van koolstofsekwestrasie en verbeterde gewasveerkragtigheid wat op hul beurt weer help om klimaatskokke en ekologiese krisisse te verminder.
  2. Grondgesondheid. Die voorkoming van gronddegradasie, verbeterde waterindringing en retensie, sowel as verbeterde grondvrugbaarheid deur verhoogde biomassaproduksie.
  3. Hulpbronne: Die doeltreffender gebruik van ons natuurlike hulpbronne wat gepaard gaan met verhoogde oesopbrengste.
  4. Biodiversiteit. Die verbetering van rotasie en die vermindering van plaagdoders, wat tot hoër biodiversiteit lei.
  5. Voorspoed. Verlaagde kostes en verbeterde oesopbrengste en oeskwaliteit oor ’n langer termyn.

Wanneer ’n mens al dié voordele van regeneratiewe boerdery begin oorweeg, word dit gou duidelik dat dit nie slegs moreel noodsaaklik behoort te wees nie, maar ook ’n besigheidsprioriteit. Volg @Nisboere op Facebook om meer te leer oor die jongste, mees gevorderde en volhoubare landboutegnieke en om van jou eie praktyke met ander boere te deel.