DINK GRÓÓT

Birdify

Birdify: Om handel te dryf in vreugde

Die meeste boere wéét dit, maar Birdify bevestig dit: Dat boerdery in jou bloed moet wees om sukses te behaal. Ook dat dit ’n bedryf is wat ’n leefstyl en loopbaan word wat dikwels die resultaat is van kennisoordrag van geslag tot geslag.

Hiervan kan Weylin Reynders van Eldoraigne in Centurion, die eienaar van die voëlboerdery en -telery Birdify, getuig. Albei sy oupas was boere, een van hulle ’n kanarieboer. 

“Dit was hier in 2010 iewers – ek was 10 jaar oud – toe my liefde vir en belangstelling in die voëltjies begin het. Oupa het soms vir my kanaries present gegee. Nie lank daarna nie het ek en my pa ons eerste twee groot hokke opgerig. Toe was dit net ’n stokperdjie.”

Dis toe die voëls begin aanteel en troeteldierwinkels begin belangstel het, dat pa en seun besef het hul tydverdryf het vanself in ’n besigheid verander. “Eers was dit vir my net ’n naweekwerk, wanneer ek die hokke skoongemaak het. Ek moes egter hulp begin inkry om die voëls en hokke te versorg.” Die aanvraag van troeteldierwinkels het druk op die Reynderse geplaas en ’n besluit moes geneem word … hou dit klein as stokperdjie óf voorsien in die vraag.

Weylin-hulle het op laasgenoemde benadering besluit en die res is geskiedenis. Vandag is Birdify nie net ’n verskaffer aan troeteldierwinkels nie, maar ’n volskaalse aanlynbedryf wat budjies, sebravinkies en kokketiele, asook kwaliteitkos, hokke, voerders en hokspeelgoed teen billike pryse verkoop. “Ons is ’n trots Suid-Afrikaanse maatskappy wat allerlei dienste en advies in die bedryf aanbied. Ons doen ook deur-tot-deur-aflewerings vir bestellings bo R1 000 en hou van persoonlike diens. Ek sê altyd ons verkoop nie voëls nie – ons verkoop vreugde.”

Destyds, toe hy met sy volskaalse bedryf begin het, het hy net budjies en sebravinkies aangehou. “Dis mos maar die algemeenste voëltjies. Almal hou van hulle. Hulle is kleurvol en verskaf baie plesier.” 

Die budjie (Melopsittacus undulatus) is ’n klein, saadvretende papegaai met ’n lang stert. Dit is die enigste spesie in die Australiese genus Melopsittacus en word in die droër dele van Australië in die natuur aangetref.

Budjies is in die natuur groen en geel, met swart merke aan die nek, agternek en vlerke, maar in aanhouding is hulle geteel tot skakerings van blou, wit, geel en grys. Hulle is gewilde voëls om aan te hou omdat hulle so klein is en die vermoë het om menslike spraak na te boots. Dié spesie is die eerste keer in 1805 aangeteken en is vandag die derde gewildste troeteldier in die wêreld, naas honde en katte. Nog ’n rede vir hul gewildheid is dat dit jou nie ’n plaas se geld kos om hulle te versorg nie.

Die Australiese sebravink (Taeniopygia guttata) is ewe gewild en baie aanskoulik vanweë sy helderoranje snawel, luide sangklanke en hoë intelligensie. Hulle word ook vinnig groot, van sowat 60 tot 80 dae vandat hulle uitgebroei het tot seksueel aktief.

Die vraag na Birdify se budjies, sebravinkies en verskeidenheid dienste het oor die jare só gegroei, dat ’n vraag na kokketiele ontstaan het. Weylin het hierdie mooi spesie by sy voorraad gevoeg, een wat weer heeltemal ander vaardighede en versorging van hom as eienaar en teler verg. “Ons het natuurlik eers die mark getoets en deeglik gekyk wat werk en wat werk nié.”

Kokketiele is egter heeltemal anders. “Ons haal hulle uit die nes sodra hulle so drie weke oud is en begin hulle dan met die hand grootmaak. Hulle word drie keer per dag pap gevoer totdat hulle self kan begin eet. Dan is hulle so om en by ses, sewe weke oud en gewoonlik gereed om uitgeplaas te word.”

Kokketiele (Nymphicus hollandicus), wat inheems is aan Australië, is die kleinste lid van die kaketoe-familie en is van die gewildste troetelvoëls vanweë hul liefdevolle persoonlikheid. Hulle hou van hul eienaars se teenwoordigheid. As hulle dus met die hand grootgemaak word, pas hulle maklik aan by hul nuwe eienaars en dié se aktiwiteite. Hulle hou ook daarvan om uit die hokke gehaal te word en saam te ry op jou hand of skouer. Jy kan hulle selfs ’n paar woorde leer! ’n Goed gebalanseerde dieet van groente en ’n verskeidenheid saadjies is hul gunstelingkossoorte.

Weylin vertel kokketiele, met hul lewendige persoonlikheid, klim sommer maklik in jou hart. Veral kinders is mal oor hierdie troetelvoëltjies. 

Voëlliefhebbers se voorkeure is interessant, volgens hom. “Die meeste mense soek heel eerste budjies. Dis daardie beginnerstroetelvoëltjie wat jy in ’n hokkie op enige plek in jou huis kan aanhou. Met die kokketiele weer het ons besef ons moet hulle eers makmaak, want ons het gevind mense wil tóg maar die voëltjies uit die hok haal en met hulle rondloop. En die voëls moet hul nuwe eienaars darem ook nie byt nie – daarom dat ons hulle makmaak. Dis uiteindelik ’n voëltjie wat ’n uitstekende troeteldier is.”

Ervaring en kennis is twee belangrike elemente in Weylin se bedryf, in sy geval te danke aan die kennis wat sy voorgeslagte aan hom oorgedra het. Die praktiese kennis wat hy self opgedoen het, was egter sy grootste leermeester, sê hy.

Birdify het in so ’n mate uitgebrei dat hy nou gespesialiseerd moet werk. “Ons het verskillende hokke – die budjiehok en die vinkhok wat die koloniehok is. Hier gaan die voëls eintlik maar op hul eie aan. Die kleintjies maak hulself groot. Ek vang van die voëltjies om hoofsaaklik aan troeteldierwinkels te verkoop.”

“Dis vir my altyd lekker om sommer net na my hokke te stap en daar by die voëls te sit en kyk wat hulle doen. Elke voëltjie het sy eie maniere. Al is hulle saam in ’n hok, is dit opmerklik dat elkeen ’n unieke persoonlikheid het. Hulle gesels en speel met mekaar.”

Een van die lekkerste aspekte van sy bedryf “is om te sien hoe opgewonde kopers is om hul eie, pragtige troeteldiertjie huis toe te neem. Hulle kom later terug na my en vertel hoeveel vreugde hul voëltjie vir hulle bring. Ek dink ek is nou op ’n punt in my onderneming dat ek nie meer ‘iets’ verkoop nie, maar ’n ervaring.”

  • Volg @Birdify op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.birdify.co.za; bel Weylin by 083 760 0055 of volg die skakel op Birdify se webtuiste as jy aan hom wil skryf.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za