Middel-September 2022 het ’n noemenswaardige ineenstorting van ons nasionale elektrisiteitsnetwerk daartoe gelei dat die helfte van Eskom se opwekkingsvermoë verlore gegaan het. Sedertdien is dit belangriker as ooit vir Suid-Afrikaners om alternatiewe kragopwekking te ondersoek.
Een so ’n alternatief is windboerdery wat ’n massiewe bykomende voordeel as vorm van hernubare energie bied. Dit is afkomstig van ’n natuurlike hulpbron wat nie uitgeput raak wanneer jy dit gebruik nie en wat nie ’n negatiewe uitwerking op Moeder Aarde het nie.
’n Windplaas is ’n groep windturbines op een sentrale plek wat windenergie in elektriese energie omskep met behulp van aërodinamiese krag wat deur rotorlemme opgewek word, soortgelyk aan dié van ’n vliegtuigvlerk of helikopterrotorlem.
Nisboere het onlangs gaan kuier by so ’n windplaas genaamd Cookhouse, oos van die Groot-Visrivier in die Oos-Kaap en een van die eerste projekte van ons nasionale onafhanklike kragprodusenteprogram vir hernubare energie.
Cookhouse was oorspronklik net ’n skaapplaas, maar vandag is dit ook een van Suid-Afrika se heel grootste windplase. En hoewel slegs ’n klein gedeelte van die grond vir die windboerdery aangewend word, word genoeg energie hier opgewek om teruggeplaas te word in ons nasionale netwerk en om hul eie landboubedrywighede aan die gang te hou. Om dit in perspektief te plaas: Cookhouse genereer sowat 341 000 MW (megawatt) per jaar, wat voldoende is om ongeveer 94 000 lae-inkomste- of 43 000 middel-inkomste-huishoudings aan die gang te hou.
Santosh Sookgrim, senior tegniese adviseur van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (SAWEA), verduidelik dat hierdie windplaas binne so min as nege maande voltooi is. Konstruksie het in Februarie 2014 begin en die plaas het reeds teen November van daardie jaar krag begin opwek. Dié krag word ingevoer in die Poseidon-substasie, sowat 1.5 km vanaf die plaas, vanwaar Eskom dit weer op sy beurt na verbruikers versprei.
Maar wat presies is ’n onafhanklike kragprodusent (OKP) en hoe word dit deel van die onafhanklike kragprodusenteprogram vir hernubare energie? Wel, ons owerhede definieer ’n OKP as ’n entiteit wat nie ’n openbare elektrisiteitsdiens is nie, maar wat fasiliteite besit en/of bedryf om elektriese krag op te wek vir verkoop aan ’n nutsdiens, sentrale regeringsaankoper en eindgebruikers.
OKPs kan ook privaatbeheerde fasiliteite wees, soos landelike son- of windenergieprodusente en nie-energie-nywerheidsondernemings wat elektriese krag opwek vir gebruik op hul eie perseel en om oortollige energie in ons nasionale netwerk terug te plaas. Klik hier om uit te vind hoe dit alles werk.
Die goeie nuus is dat onafhanklike kragopwekking voorheen slegs tot groter produsente beperk was, maar in Junie 2021 het president Cyril Ramaphosa aangekondig dat die drempel vir maatskappye om hul eie elektrisiteit sonder ’n lisensie tot 100 MW te produseer opgehef is.
Dit het natuurlik die deur oopgemaak vir dié van ons wat dalk op ’n kleiner skaal krag wil begin genereer. Dis egter belangrik om te onthou dat jy nog steeds ’n aansluitingspermit moet verkry om te verseker dat jy aan al die veiligheidsregulasies en wettige vereistes voldoen. Sou jy daarin belangstel om met jou eie windplaas te begin, klik hier om met die mense by SAWEA te gesels.
Om met al die ander moontlikhede in die alternatiewe-energie-ruimte vertroud te maak, klik gerus ook hier om met die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Kragprodusentevereniging in verbinding te tree. Volg @Nisboere op Facebook om ons te vertel van die vindingryke maniere waarop jý alternatiewe krag begin opwek het.