Dis ’n historiese plaas by uitstek, ’n hoogs ontwikkelde stuk grond van sowat 440 hektaar wat sy oorsprong gehad het vanweë die droom van een dapper Europeër wat in die 1700’s die vreemde ingevaar het op soek na ’n volhoubare toekoms.
Sedertdien het die Bergsig-wynlandgoed in die Wamakersvallei naby Wellington – wat byna 200 jaar gelede, in 1843, in die Lategan-familie se besit gekom het – van geslag tot geslag ontwikkel tot ’n eiendom wat besig is om sy eie, nuwe geskiedenis te skryf en gereken word as een van die mooistes van sy soort in die Wes-Kaap.
“Ons familie het ’n baie ryk geskiedenis in die gebied, waarvan ek baie trots is om deel te wees,” sê Wilhelm Lategan, die sewende geslag van die familie op Bergsig. Wilhelm boer saam met sy pa, De Wet, op dié spogfamilieplaas.
Soos De Wet, is die jong Wilhelm baie bewus van die rol wat hul voorvaders gespeel het in die vestiging van Bergsig. “In 1735 het ons voorvader Johann Hermann Lategan in Rotterdam in Nederland as ’n VOC-soldaat op die skip Patmos geklim en na die verre Kaap aan die suidpunt van Afrika gekom.”
Hier het Johann eers agt jaar lank diens gedoen as soldaat, waarna hy vir hom ’n stukkie grond in die Wamakersvallei, waar Wellington vandag lê, aangeskaf het. Hy en sy nageslag het daarna nog 100 jaar op hierdie eiendom geboer, waarna Willem Hendrik Lategan in 1843 die grond langsaan, naamlik Bergsig in die prentjiemooi Breedekloof-wynvallei aan die voet van die Drakenstein- en die Hexrivierbergreeks, gekoop het. En dis waar die volgende geslagte ’n besonderse landbougeskiedenis begin skryf het. “Sewe generasies later is ek bevoorreg om steeds hier te boer,” vertel Wilhelm.
Hy sou ook kon byvoeg: En bekroonde wyne te produseer.
Hy is nie ’n bietjie dankbaar vir alles wat sy voorouers tot stand gebring en nagelaat het nie, vertel hy. Eeue se trotse wynmaaktradisie word steeds passievol voortgesit, met ’n sterk fokus op die instandhouding van ’n handelsnaam wat reeds landwyd bekend is vir voortreflikheid.
Dat die geskiedenis van sorg en omgee so ferm oorgedra is van geslag tot geslag, is een van die redes waarom hierdie landgoed se wynreeks so gesog is.
In die groen Wamakersvallei, omring deur van die mooiste bergreekse in die Wes-Kaap, speel die natuur ’n reuse-rol in die produksie van topkwaliteitdruiwe, wat weer sorg vir die produksie van kwaliteit-wit- en rooiwyne. Een van die redes is dat die druiwestokke in die somer gevoed word deur vars water uit bergstrome, met die wintersneeu op die bergpieke wat weer as ’n voortdurende varswaterbron dien vir die wingerde in die vallei. Nog ’n pluspunt vir die wingerdstokke en druiwetrosse is die koel bergwind wat die fel Suid-Afrikaanse son temper.
Die invloed van grond op die standaard van die wingerdstokke en die druiwe kan nie genoeg beklemtoon word nie, meen Wilhelm. Grondgehalte, sowel as die ligging van die wingerde en natuurelemente soos die koel wind en vars water, het ’n baie bepaalde invloed op Bergsig se wyne.
Vir die Lategans is hierdie samespel van natuurlike faktore van onskatbare waarde. Die 437 hektaar waarop berg, rivier en vallei ’n wesenlike invloed het, saam met omgewingsvriendelike landboumetodes, maak dit vir Bergsig moontlik om uiteindelik uitsonderlike wyne te produseer.
Wilhelm vertel dat Bergsig se interessante terroir waarskynlik die grootste invloed het op die gehalte van hul wynreekse. “Daar is verskillende grondsoorte in die omgewing, met ’n foutlyn wat reg deur die middel van die plaas loop – dit is die Worcester-foutlyn. Wanneer jy in die wingerde gaan stap, kan jy baie duidelik sien hoe die grondsoort van een tipe na ’n volgende verander. Aan die een kant van die foutlyn is daar Tafelberg-sandsteen; aan die ander kant Malmesbury-skalie. Dis insiggewend om te ervaar watter invloed hierdie verskillende grondsoorte op die smake en geure van ons wyne het.
“Nog ’n faktor wat ’n groot bydrae lewer in die produksie van Bergsig se wyne, is die ligging van die wingerde teen die hellings … dit het beslis ’n positiewe uitwerking op die verskillende kultivars.”
Die Lategans het doelbewus hul wingerde só uitgelê dat topwyne uit die verskillende kultivars vervaardig kan word. Om dus saam met die natuur te werk, wat grondtipe en ligging betref, het ’n wesenlike impak op die karakter van hul wyne.
“Ons put uit die generasies lange boerdery-ervaring in hierdie omgewing. Ons hele familie gee om vir die natuur. Dis waarom ons boerderypraktyke geïmplementeer het wat geen skade aan die omgewing sal aanrig nie. Ons is gesteld daarop om voorsiening te maak vir volgende generasies en die beste aan hulle na te laat.”
Nog ’n landboubenadering van die Lategans is ook om nie elke sentimeter van die plaas onder landbougewasse te sit nie. “Bergsig het tans meer rivier- en berggrond as bewerkte landbougrond, want ons plaas ’n streng fokus op die rehabilitasie van grond, selfs die ‘besparing’ van grond, vir toekomstige generasies. Ons put nie alles uit nie.”
Wilhelm vertel entoesiasties van hul wynreekse: Die Bergsig-, Icarus- en Lategan-reeks, laasgenoemde met interessante name soos onder meer Patmos, Tant Anna en Oom Prop wat die plaas se geskiedenis weerspieël.
Volgens die produksiebestuurder, Annamarie van Niekerk, is Bergsig se wyne al dikwels bekroon. Dit sluit in die Veritas-, SA Terroir-, Platter, Michelangelo Wine and Spirits-, die White Blends Challenge- en Wyn van die Maand-toekenning. “Dis belangrik om te noem dat ons nie toelaat dat erkenning vir ons wyne ons produksiebenadering in ’n bepaalde rigting stuur nie. Moontlike bekroning is ook nie die rede waarom ons sekere style produseer nie. Vir ons bly die belangrikste faktor egtheid, met ander woorde wyne wat ooreenstem met dit wat die omgewing bied. Ons gebruik die terroir om bepaalde wynstyle voor te berei en sekere kenmerke in ons wyne te beklemtoon.”
Wynmaak is ’n lewenstyl en ’n voltydse beroep, sê sy. “Baie mense dink omdat jy net drie maande per jaar druiwe oes, werk jy ook net drie maande per jaar. Wynmaak begin egter al by die voorbereiding van die wingerd. Op Bergsig het ons ’n ongelooflike span wat saamwerk sodat ons topkwaliteitdruiwe kan produseer. Dit maak die wynmaker se werk soveel makliker. My werk is om te verseker dat die druiwegehalte so hoog is dat premiumwyne gemaak kan word. Die wynmaakproses behels dat die regte gisseleksie en die regte breimiddels gebruik word, terwyl die wyn steeds die unieke terroirgeure van die omgewing voortbring. Die natuur se teenwoordigheid in ons wyne is belangrik, want die wynmaker hoef dan nie allerlei ander bymiddels by te voeg om sekere geure te produseer nie. Die vrug van die wingerd word dus na elke bottel wyn deurgetrek.”
Lara Smit, verantwoordelik vir die proelokaalfunksie, vertel dat Bergsig verskillende wyn-en-kos-passings saamgestel het, onder meer een wat nommerpas is vir die koue Kaapse wintermaande. Die landgoed se Delight-passing, waarvoor spesiale happies op die plaas gemaak word om saam met bepaalde wyne bedien te word, is ewe gewild. “Ons bied ook ’n spesiale spyskaart in ons bistro aan, waar ons vir jou die regte bottel wyn vir bepaalde maaltye sal aanbeveel.”
Bergsig het die afgelope jare baie gewild geraak as die ideale plek is vir konferensies, sowel as babatee- en kombuistee-geleenthede. “Ons kan tot 40 mense akkommodeer, en ons het ’n buite-onthaalarea wat perfek werk as dit ’n tuingeleentheid is,” vertel Lara.
Van Bergsig se ander aanloklike buitelug-aanbiedings is die landgoed se 13 kilometer-bergfietsroete en ’n 5 kilometer-voëlkykroete. “Wat lekker is, is dat jy altyd ná die tyd by die bistro kan kom aanmeld om van ons kosse en wyne te kom ervaar.”
Vir diegene wat langer as net ’n oggend of middag op hierdie uitsoek-wynland wil vertoef, is daar deesdae ook selfsorgakkommodasie groot genoeg vir ses mense.
Wilhelm vertel dat een van Bergsig se grootste bydraes tot sy lewe die geleentheid is om soveel verskillende vaardighede aan te leer. “Dis ook my raad vir jong entrepreneurs. Probeer soveel moontlik nuwighede aanleer. Dit klink so maklik om te sê jy wil ‘gaan boer’. Maar dit beteken dat jy baie nuwe dinge moet ondersoek. Wees veelsydig, brei jou vaardighede uit.”
’n Netjiese plaas soos Bergsig gebeur nie sommer net vanself nie, sê dr. Michael Southwood, uitvoerende hoof van Agri Vision Foundation. “Dit is so dat ’n mooi omgewing jou kan inspireer, maar selftrots is ’n belangrike element.”
Hierdie stigting fokus op die identifisering en ontwikkeling van entrepreneuriese denkers en gemeenskapsleiers met ’n sterk etiese ingesteldheid, met die doel om voedselsekuriteit, verbeterde voeding en die verbreking van die armoedesiklus te verseker.
Michael meen een van die faktore wat van Bergsig so ’n sukses maak, is hoe die landgoed sy kultivars en wynproduksie aangepas het by die grondtipes en toelaat dat die natuur hulle lei.
Om sukses in die landboubedryf te meet, of oplossings te vind waar daar beperkte sukses is, is die grondslag van Agri Vision se bestaan. “Ons identifiseer die hoofgebreke in ’n bepaalde werkomgewing, gesels met rolspelers en produsente en besluit saam op oplossings. ’n Gevoel van menswaardigheid en nut, saam met die regte opleiding, is belangrik in die landboubedryf. Dis ook belangrik dat verhoudings gebou word. Dit is die grondslag van sukses. Luister na ander, wees oop vir ander mense se idees. En identifiseer die leiers in jou onmiddellike omgewing.”
- Volg @Bergsig Wine Estate op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.bergsig.co.za, of vul die boodskapveld in by www.bergsig.co.za/contact-us. Bel 023 355 1603 of skryf aan info@bergsig.co.za
- Besoek www.agrivisionfoundation.co.za of skryf aan michael@agrivisionfoundation.co.za of bel 021 808 2010.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za