Clarens is bekend vir sy prentjiemooi omgewing en kunstige atmosfeer. Maar miskien sal die dorp in die nabye toekoms ook bekend wees vir bekroonde bokkaas … alles te danke aan Baris. Hierdie gesellige familieplaas doen ‘n bietjie van alles, en elke familielid kan hul eie passies ten volle uitleef terwyl hulle saamwerk aan die plaas se sukses. Een van hierdie familielede is Estee, en ons het met haar gesels oor haar rol op die plaas en hoe haar bokkaasdroom ontstaan het.
Ná ‘n vakansie saam met haar man in die Kaap, het Estee geweet sy wil iets op Baris begin wat mense die geleentheid gun om rustig te kuier en die natuur te geniet. Waar die Wes-Kaap bekend is vir sy wynplase, wou sy ‘n Vrystaatse weergawe skep met iets unieks. Met ‘n bietjie navorsing, ‘n passie vir bokkaas en ‘n droom om iets besonders te bou, het sy haar eerste bokkies bestel en só haar boerdery op die been gebring.
Maar hierdie is nie sommer net enige bokkaas nie. Met verskeie toekennings agter hul naam is Baris Kaas werklik iets besonders. Met elke nuwe produk wat hulle ontwikkel, leer hulle meer en slyp hulle hul vaardighede verder. Die droom strek egter verder as net kaas. Estee wil die plaasrestaurant ontwikkel tot ‘n onvergeetlike plaas-tot-tafel-ervaring waar besoekers die plaas se produkte in hul natuurlike omgewing kan geniet. Hoewel daar nog ‘n lang pad is om hierdie droom ten volle te verwesenlik, het hulle reeds groot vordering gemaak, onder meer met ‘n unieke deurstaptuin vol groente, vrugte en kruie wat deel vorm van die ervaring.
Estee se storie is ‘n bewys dat ‘n suksesvolle nisboerdery uit ‘n passie en ‘n goeie idee kan groei. Kennis kan altyd opgedoen word, en met elke uitdaging leer ‘n mens iets nuuts. Dit is juis hierdie bereidwilligheid om aan te hou leer wat haar gehelp het om ‘n bekroonde produk te ontwikkel. Moet dus nie jou drome afmaak as onrealisties nie. Soos Estee self sê: “As jy bereid is om hard te werk, is dit alles die moeite werd.”
Vir meer inligting, volg @baris_monger op sosialemedia, besoek https://www.baris.co.za/ skryf aan iestee@barischeese.com of bel 073 048 5785.
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.