’n Handvol vars basiliekruid. ’n Paar blare roket. ’n Knapperige Baby Gem-slaaitjie langs ’n restaurantmaaltyd. Dit lyk eenvoudig, maar agter elkeen van hierdie produkte lê ’n hele landbouproses, en by Babaroots in Skeerpoort word dié proses tot ’n fyn kuns vervolmaak.
Babaroots het in 2004 ontstaan en het oor die afgelope twee dekades gegroei tot ’n gespesialiseerde varsprodukboerdery wat op kruie, slaaiblare en ander vars groente fokus. Op hierdie 42 hektaar-plaas word produkte in tonnels, onder skadunette en in die oop land verbou, elk met sy eie behoeftes en uitdagings.
Die verskeidenheid is iets besonders: basiliekruid, koljander, kruisement, pietersielie, roosmaryn, salie, grasuie en roket groei hier langs ’n kleurvolle verskeidenheid blaarslaai, insluitend Baby Gem, Green Oak, Red Oak, Red Cos en Batavia.
Maar Babaroots se storie gaan oor veel meer as wat in die grond gebeur …
Voordat ’n plant ooit sy plek op die land inneem, begin sy reis in een van die plaas se twee kwekerye. Jong plante word daar versorg en daarna in ’n spesiale verhardingsarea geleidelik gewoond gemaak aan die buitelewe. Wanneer die produk uiteindelik gereed is vir die mark, begin ’n ander wedloop teen tyd: om dit vars van die land af tot by die kliënt te kry.
Met twee pakhuise en ’n verkoelde verspreidingsnetwerk word die produkte volgens streng voedselveiligheid- en kliëntvereistes hanteer en verpak. Verkoelde vragmotors hou die produkte tussen 2 en 8 °C, sodat die varsheid behoue bly totdat dit sy bestemming bereik.
Terwyl Babaroots daarop fokus om vars produkte te lewer, word daar ook hard gewerk om die plaas se natuurlike hulpbronne te beskerm. Die Magaliesrivier loop deur die eiendom, en natuurlike rivier- en vleilandgebiede word bewaar. Water word verantwoordelik bestuur, terwyl wisselbou, verminderde grondbewerking en die herstel van natuurlike veld deel vorm van hul benadering tot volhoubare boerdery.
Vanaf ’n klein saadjie tot die finale produk op ’n restaurantbord … by Babaroots het vars kruie en slaaiblare veel meer om die lyf as wat die oog kan sien.
Vir meer inligting, volg @Babaroots. The Herb Vompany. op sosialemedia, besoek https://babaroots.co.za/ , skryf aan accounts@babaroots.co.za of bel 073 734 8222.
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.