Jy lees dit in die plaasnaam … Audacia: sinoniem vir waagmoed, onkonvensionele denke en avontuurlus.
Dié nommerpas eienskappe geld ewe veel vir hierdie beeldskone 23 ha-wynplaas tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, aan die voet van die Helderberg in die Bonteriviervallei, as vir sy eienaars, onder wie Trevor Strydom, asook vir sy wynmaker, Michael van Niekerk.
Dis nou al byna tien jaar dat dié kundige tweemanspan die tradisionele manier van wynmaak die rug toegekeer en oorgeskakel het na ’n produksieproses van wyn sonder swael of preserveermiddels … en dit alles te danke aan inheemse rooibos- en heuningboshout wat antioksidante lewer en ’n vars, lewendige boeket in die wyne van dié uitsoeklandgoed laat talm.
Terwyl tradisionele wynproduksie ter wille van ’n bepaalde rooiwynpikantheid gebruik maak van tannien-toevoeging deur doppe, sade, stingels sowel as die gewone houtekstras in allerlei vorme, “het ons geëksperimenteer deur spesifieke inheemse hout, eie aan die Wes-Kaap, vir hierdie doel te gebruik. Die rooibos- en heuningbosstokkies wat ons gebruik, is só vol antioksidante, dat ons besef het swael in die wyn is onnodig. Die resultaat is dat Audacia se wyne geen sulfate of preserveermiddels bevat nie.”
Die department wingerd-en-wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch het in 2011 en 2012 die aanvanklike navorsing rakende houtbyvoeging gedoen, met behulp van die Landbounavorsingsraad se Infruitec-Nietvoorbij-instansie. Dit het die grondslag gevorm vir Audacia se nuwerwetse wynproduksiebenadering.
Dis ’n metode wat gepatenteer is omdat die gebruik van fynboshout die wyn nie net oor ’n langer tyd bewaar nie, maar terselfdertyd ook ’n besonderse geur bydra. Dié inheemse Suid-Afrikaanse plantmateriaal vorm uiteindelik ’n meer subtiele vrank ondertoon vir Audacia se wyne te midde van hul rol as antioksidant wat swael en preserveermiddels oorbodig maak. Daarby speel dit ’n belangrike rol in goeie wynveroudering
Michael, wat in 2009 by die Audacia-span aangesluit het, vertel dat hierdie staatmaker-element in hul wynmaakmetode vir ’n sagte, hoogs drinkbare wyn sorg. Die palet is ryk en vol, met ’n goed geïntegreerde tannienstruktuur en dieprooi kleur met ’n swartbessie-ondertoon.
Volgens hom was 2013 die jaar dat hulle na dié produksieproses oorgeskakel het, alles te danke aan hul kennis van wingerd en wyn, die spesifieke omgewing waar Audacia geleë is, sowel as kundigheid oor die vraag in die mark. Laasgenoemde het veral te doen met jongmense wat drinkbare gehaltewyn soek wat nie noodwendig jare lank in vate moes verouder het vir ’n hoë gehalte nie.
Ervaring bly een van ’n wingerdboer en wynmaker se beste leermeesters, sê Trevor. Jaar ná jaar se probeer en eksperimenteer, en om nie bang te wees vir denkskuiwe en aanpassings nie, het hom oor die slaggate in die bedryf geleer; terselfdertyd wat moontlik is en wat nié. Om in ’n mededingende bedryf in die hartjie van die wynwêreld met ’n unieke produk vorendag te kom wat sy man teen sterk kompetisie kan staan, is noodsaaklik om tersaaklik te bly, het hy besef. Daarom kan hy vandag met sekerheid sê: “Dit wat ons doen, is vir seker ’n wynrevolusie.”
Die jaar 2012 was Audacia se grootste leerkurwe, vertel hy, en kort daarna het die landgoed sy eerste kommersiële wyn gelewer. Elke jaar se produksie word gebou op die kennis van die voriges. Vir Trevor en Michael is dit ononderhandelbaar dat voortgesette lewering ’n verbetering moet wees op die vorige jare se oes en wynproduksie. So ’n opwaartse kurwe het nie gepaard gegaan met ou, geykte metodes nie. Om op die voorpunt van navorsing en gepaardgaande vernuwing te bly was hul sleutel tot sukses. Teen 2014 het hulle dus begin fokus op die rol wat tanniene in rooiwyn speel ten einde hul wyne ’n meer afgeronde palet te gee wat sagter op die tong lê. “Dit het vir ons duidelik geword dat die gebruik van rooibos- en heuningboshout voordelig is vir die produksie van ’n sagter wyn; ook om die gebruik van swael en preserveermiddels te vermy. Tradisionele wyne is meer tannienagtig, met ’n hoër suurgehalte, skerper op die tong. Audacia het daarin geslaag om meer elegante wyne te begin maak. Dis wat ons van ander landgoedere onderskei.”
Die gevolg is ’n groter klem op ’n vars geur, vrugtigheid en delikaatheid wat die moontlike irritasie van swael as preserveermiddel omseil.
Om buite die hoofstroom-wynproduksiebenadering te beweeg, was sowel ’n waagstuk as ’n avontuur – maar uiteindelik een wat topresultate, soos ’n John Platter-vierstertoekenning, opgelewer het. Audacia se Shiraz, veral, is deesdae een van sy identiteitswyne.
Produksie is tussen 125 tot 135 ton druiwe jaarliks, rofweg 20 000 kiste wyn van ses bottels elk. Dit is inderdaad ’n puik prestasie vir een van die kleiner wynlandgoedere in die Goue Driehoek tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, ’n omgewing ryk aan ’n hele paar van Suid-Afrika se topwynplase. Die landgoed behoort aan die Strydom- en Harris-familie, nadat die oorspronklike eienaar, Kosie Louw, dit in 1996 aan Trevor verkoop het, met die Harris-familie wat in 2002 ’n vennootskap met die Strydoms gesluit het.
Dat ’n wynlandgoed altyd die veranderende mark in ag moet neem, is gewis, meen Michael. “Ons fokus is op aangename, drinkbare wyne wat enige tyd van die dag, by enige geleentheid, geniet kan word.” Hy erken dat hy nie ’n tradisionalis is nie; ook dat stagnering en geykte denke nie ’n opsie is nie. “Vir veral nuwe wyndrinkers is ons wyne ’n sagte inleiding tot die wynkultuur, want baie van hulle hou nie van dié met die uitdagende skerpheid van ’n hoë tannieninhoud nie. ’n Jong rooiwyn kán ewe veel elegansie as ’n lank verouderde een bied en is deesdae taamlik in aanvraag. Jong mense maak gereeld melding van die sagtheid en styl van ons wyne. Hulle soek ook nie noodwendig wyne wat ses, sewe jaar moet hou nie.”
Audacia is gewis een van die voorlopers in hierdie nuwe neiging in die wynbedryf om swael en preserveermiddels drasties te verminder of volledig uit te skakel. “Die resultate spreek vanself. Ons pas hierdie metode nou al amper tien jaar toe en het nog nie een bottel teëgekom wat geoksideer het nie.”
Besoek audacia.co.za en tree met hulle in verbinding by 021 881 3052 of info@audacia.co.za
Volg @Audacia en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.