In die hartland van die Kaapse wynwêreld, in die wonderskone Robertsonvallei, produseer Ashton Wynmakery jaar ná jaar topgehaltewyne wat hul plek met trots langs van die bestes in die land vol staan.
Dié koöperatief vat nie kortpaaie met hul keuse van druiwe of met die wynproduksieproses nie. Net die beste word vervaardig, omdat net die beste druiwe van die omgewing vir elke bottel gebruik word.
Ashton Wynmakery, digby dié mooi dorpie tussen Robertson en Montagu, het ’n perfekte ligging vir wingerd- en wynbou. Dis ’n omgewing waar jy kan jou verkyk aan die blou van die berge en die groen van die vrugbare landerye – ’n wynwêreld par excellence.
Ashton Wynmakery/Winery, wat oorspronklik as Ashton Kelder bekend gestaan het, is op 10 Mei 1962 deur ’n groep van 46 plaaslike boere gestig wat ’n koöperatiewe wynkelder in die Robertsonvallei wou begin. Die naam is in 2016 tot die huidige verander. Dis ’n wynkelder wat die dorp en landbouomgewing se trots is – een waarop daar met selfvertroue voortgebou word. Daarom handhaaf Ashton Wynmakery se wynmeesters net die hoogste gehalte wat hul reeks wyne betref. Die gawes wat hierdie vallei van vrugbaarheid bied – sy water, grond en die klimaat – is die grondslag vir die wynvervaardiging, wanneer al dié bestanddele op die beste moontlike manier met kundigheid, toewyding en landboupresisie ingespan word.
Want, sê Heinrich Coetzee, wynmaker met kwalifikasies in wingerdbou en kelderbestuur, dís wat Ashton Wynmakery aan sy verskaffers verskuldig is, omdat hierdie groep mense, almal boere van die nabygeleë plase, net hul heel beste produkte uit hul wingerde lewer vir die vervaardiging van topkwaliteitwynreekse.
Ashton Wynmakery is geleë op die langste wynroete in die land, tussen die Breederivier en aan die voet van die Langeberg, digby ander gesogte kelders soos Arabella, Rietvallei, Van Loveren en Excelsior. “Die unieke klimaat van die Kaapse Wynland speel natuurlik ’n reuse rol in die gehalte van die druiwe wat aan ons gelewer word,” sê hy. So ook die verskeidenheid grondtipes.” Daarby is die wynboupraktyke hier oor baie generasie vervolmaak. Die gehalte van druiwe en wyn bly dus konstant op ’n topvlak.
’n Volgende belangrike suksesfaktor is die verskeidenheid druiwe wat die omgewing bied, want dit stel Ashton Wynmakery daartoe in staat om ’n reeks wyne te skep om in bykans elke smaak te val. Die kelder is gesteld daarop dat hulle iets bied vir elke geleentheid, elke leefstyl en elke voorkeur.
“Hier by Ashton Wynmakery vervaardig ons ’n wye reeks produkte wat gemaak word van ’n verskeidenheid kultivars wat deur ons produsente verskaf word. In ons totale kelderopset produseer ons wynprodukte van omtrent 20 verskillende variëteite van sowat 28 verskillende produsente van die vallei. Hierdie produsente is geleë al die pad vanaf Robertson tot Ashton tot by Bonnievale. Dis hierdie variëteite wat saam aan ons Ashton Wynmakery-handelsmerk bou.”
Van die produkte wat deur Ashton Wynmakery vervaardig word, is Cabernet Sauvignon, Shiraz, Pinotage, ’n rooiwynversnit, Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, die Joy-reeks en gefortifiseerde wyne en druiwesap, asook die Bag in a Box-wyne, vonkelwyn en nie-alkoholiese wyn.
Ashton Winmakery het dus die geleentheid om druiwe uit ’n taamlik omvattende aanbod te selekteer wat kom uit die beste grondtipes en vanaf die beste wingerde. “Dit plaas ons in ’n posisie om topwyne te produseer.”
Die prosesse in die wynkelder word reeds oor baie jare beoefen, maar dis ook aangepas en tot perfeksie bestuur, vanaf die “afmaal” van die druiwekorrles tot die temperature waarteen die prosesse geskied, tot by die gistingsproses en natuurlik die kleur- en tannienekstrasie sodat veral rooiwyne met ’n goeie kleur en goeie struktuur tot stand kom.
’n Interessante verwikkeling by Ashton Wynmakery is die verandering wat in 2018 plaasgevind het, toe besluit is om ’n kelder-binne-’n-kelder te begin. “Ons was nog altyd streng gefokus op kwaliteit, maar in hierdie jaar het ons ’n kleiner kelder binne die groter een opgerig … ’n premium-kelder vol vate wat kleiner hoeveelhede wyn hou. Ons selekteer die druiwe vir hierdie kelder se wyne met die hand. Die druiwe word in kissies hierheen gebring, en ons gebruik ook kleiner masjinerie vir die verwerking. Fermentasie vind in kleiner tenks plaas. Vir al ons rooiwyne in hierdie reeks maak ons van ’n hortjiespers gebruik. Dit sit ons in ’n posisie waar Ashton Wynmakery bekend is daarvoor dat die koöperatief absoluut op kwaliteit gefokus is … gehalte wat gemaklik kan meeding met enige ander kelder of wynprodusent in Suid-Afrika.”
Hierdie kelder spog ook met ’n besonderse Chardonnay Limited-reeks wat in Franse eikehoutvate verouder word.
Individuele hantering, met besonderse aandag aan elke kissie druiwe en elke bottel wyn, word hier voorop gestel.
’n Belangrike faktor in Ashton Wynmakery se suksesverhaal is dat erkende standaarde, wat wêreldwyd van toepassing is, hier toegepas word – wat produsente op plase betref, sowel as in die kelder self.
Dit sluit in die Geïntegreerde Produksie van Wyn-standaard (Integrated Production of Wine – IPW), ’n omgewingsvolhoubaarheidskema wat deur die Suid-Afrikaanse wynbedryf in 1998 gevestig is. Dit voldoen aan die internasionale wynbedryf se standaarde rakende die produksie, verwerking en verpakking van produkte soos voorgeskryf deur die Internasionale Organisasie van Wingerd en Wyn (OIV). Individue, plase of kelders wat by hierdie skema aangesluit het, word deur die organisasie geëvalueer en geoudit.
Die WIETA-standaard (Wine and Agricultaral Ethical Trade Association) het te doen met etiese arbeidspraktyk in die Suid-Afrikaanse wynbedryf – nog ’n maatstaf waaraan Ashton Wynmakery voldoen. Die ISO22-voedselveiligheidstelsel is ’n verdere gehaltestandaard wat by hierdie kelder geld.
“Hierdie standaarde plaas Ashton Wynmakery in ’n posisie waar sy produkte dus aan bepaalde maatstawwe gemeet kan word, binnelands sowel as buitelands. Dit gee ook aan ons kliënte daardie sekerheid van kwaliteit, werkstandaarde en voedselveiligheid. Dit is belangrik vir ’n kelder soos ons s’n, want dan weet almal ons voldoen aan die hoogste produk- en arbeidstandaarde.”
Vanjaar was, tot dusver, ’n uitstekende produksiejaar vir Ashton Wynmakery. In 2025, is sowat 17 800 ton druiwe gepars, wat omtrent so 13,7 miljoen liter wyn lewer. Die oogmerk vanjaar is die verwerking van tussen 18 000 en 20 000 ton druiwe.
“Om op die langtermyn volhoubaar te werk en te produseer, is vir ons uiters belangrik. Hoe meer ton druiwe daar deur die wynkelder gaan, hoe beter vir ons én die produsent, natuurlik.”
Die sukses van so ’n koöperatief is geleë in die passie vir jou produk, meen Heinrich. “Jy moet ’n liefde hê daarvoor om mooi wyne te produseer. Ons werk in ’n unieke bedryf, baie mededingend – ’n bedryf waar style en gehalte in die mark jou toekoms as volhoubare wynprodusent bepaal. Daar is geen ompaaie nie … die kompetisie is uiters sterk. Dit bly maar lekker om jou eie produk in die mark te sien, te ervaar hoe dit geniet word. Dit bied soveel satisfaksie aan so baie mense in ons vallei.”
- Volg @Ashton Winery op sosialemedia.
- Vir meer inligting, besoek www.ashtonwinery.com of bel 023 615 1135.
- Adres: Ashton Winery, R60, Ashton 6715
- Besoek The Wine & Ethical Trade Association by www.wieta.org.sa
- Besoek The Integrated Production of Wine Scheme by www.IPW.co.za
- Besoek The International Organisation of Vine and Wine by www.oiv.int
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za