Chris Fouché van Aquatropica in Edgemead naby Kaapstad se voorliefde vir vis het al kleintyd begin. Daarom het hy in die jare tagtig sy doktorsgraad in visvoortplanting verwerf en jare lank in die bedryf – die privaatsektor sowel as die staat – op hierdie gebied gewerk.
Nou, ná sy aftrede, het hy en sy vrou, Lorraine, ’n winsgewende en vooruitstrewende onderneming opgebou wat ornamentele of siervisse teel en verkoop, met goudvisproduksie hul spesialiteit.
“Dit was eers net ’n stokperdjie,” vertel Lorraine. Stadigaan het die onderneming gegroei en uitgebrei na drie persele.
Ornamentele visse bly sy grootste voorliefde, sê Chris. “Goudvisse is die grootste verkoper van al die siervisse. Dis omdat dit sulke mooi visse, met pragtige kleure, is. Dis ’n rustige vissie, wat ’n rustige atmosfeer skep.”
Dis egter nie ’n eenvoudige boerdery nie, vertel Chris. “Dis interessant, maar jy moet die prosesse van telling, instandhouding en moontlike siektes verstaan. Moet dit nie alleen probeer doen as jy nie seker is van jou saak nie. Jy moet jou huiswerk vooraf doen en kers opsteek by kenners. Gesondheid is ’n baie belangrike aspek, want jy werk met ’n baie delikate vissie. Hoe meer jy inteel, hoe ’n groter probleem kan immuniteit word. Ons gebruik byvoorbeeld baie spesiale kos om immuniteit te bou en ons gee groot aandag aan die kwaliteit van die damme waarin hulle aangehou word.”
Voordat jy wegval met jou eie siervisboerdery, moet jy dit dalk eers as ’n sybedryf begin, is Chris se raad. “Wie weet, dalk oorskry jou visboerdery later jou hoofinkomste … maar sorg allereers dat jy visteling volkome verstaan.”
- Vir meer inligting, volg @Aquatropica op sosialemedia of skryf aan aquatropica2014@gmail.com
- Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om van die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.