Suksesvolle plase is dikwels gebou op kennis wat van geslag tot geslag oorgedra word. Soms lê die sukses van ‘n nisboer egter daarin om saam met die tye te verander en nuwe geleenthede aan te gryp. Die verbouing van die kanabisplant is nie iets wat al vir geslagte lank in Suid-Afrika plaasvind nie, maar danksy veranderende wetgewing het ‘n nuwe bedryf ontstaan wat die deur vir entrepreneurs en nisboere oopgemaak het.
Alphaplant Pharmaceuticals is een van die ondernemings wat hierdie geleentheid aangegryp het. Ná veranderinge in die wetgewing het hulle in 2020 hul reis begin met die doel om medisinale kanabis van die hoogste gehalte te produseer wat veilig is vir pasiënte om te gebruik.
Medisinale kanabis word nie vir ontspanningsdoeleindes gebruik nie, maar vir die ontwikkeling van medisyne en gesondheidsprodukte. Die plante word onder streng beheer gekweek om spesifieke natuurlike verbindings, soos THC en CBD, te bevat. Hierdie verbindings kan help met die behandeling van onder meer chroniese pyn, epilepsie en die newe-effekte van chemoterapie. Omdat dit ‘n mediese produk is, word die verbouing en verwerking daarvan streng gereguleer om gehalte en veiligheid te verseker.
Een van die grootste uitdagings waarmee die bedryf steeds te kampe het, is die persepsie rondom kanabis. Veral in Suid-Afrika bestaan daar nog baie onsekerheid, en baie mense beskou dit steeds as iets wat onveilig of ondoeltreffend is. Alphaplant Pharmaceuticals wil hierdie wanopvattings verander deur die publiek bewus te maak van die medisinale waarde van die kanabisplant.
Hoewel die onderneming groot planne het om verder uit te brei, bly volhoubaarheid ‘n belangrike fokus. Hulle streef daarna om verantwoordelik met natuurlike hulpbronne te werk deur waterverbruik te beperk en doeltreffende afvalbestuur toe te pas. Daarbenewens word ongeveer 80% van hul elektrisiteitsverbruik deur sonkrag voorsien – ‘n bewys dat groei en omgewingsbewaring hand aan hand kan gaan.
Namate die bedryf ontwikkel, beskou Alphaplant Pharmaceuticals elke dag as ‘n geleentheid om nuwe moontlikhede te ontsluit. Met ‘n sterk fokus op gehalte, volhoubaarheid en die welstand van pasiënte, bou hulle nie net aan ‘n suksesvolle onderneming nie, maar ook aan ‘n toekoms waarin medisinale kanabis ‘n gevestigde plek in Suid-Afrikaanse landbou en gesondheidsorg kan inneem. Dit bewys dat nisboerdery soms nie net oor tradisie gaan nie, maar ook oor die moed om nuwe paaie te stap.
Vir meer inligting, besoek www.alphaplant-pharma.com/ skryf aan info@alphaplant-pharma.com of bel 079 030 2624
Volg @Nisboere op Facebook en Instagram of besoek www.nisboere.co.za om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel.