DINK GRÓÓT

Alle landboupaaie lei na NAMPO

Elke boer – klein, middelslag of mega – wat ernstig is oor sy onderneming, weet dat jy nêrens beter kan vasstel wat dié bedryf jou bied as Graan SA se NAMPO Oesdag wat jaarliks in Mei naby Bothaville in die Vrystaat aangebied word nie. Dis een van die wêreld se grootste privaatgeorganiseerde uitstallings … beslis die heel grootste vertoning van landbou-hulpmiddels, selfs vee, in die Suidelike Halfrond. Vanjaar het nie minder nie as 920 uitstallers deelgeneem en by die 70 000 mense het hierdie megaskou besoek.

Oor die jare het die NAMPO-tentoonstelling van krag tot krag gegaan sedert dit die eerste keer in 1967 op die plaas Donkerhoek naby Bloemfontein gehou is. Daarna is dit op verskeie plase aangebied, totdat die bestuur in 1974 besef het hierdie vertoning van Suid-Afrika se landbou-krag en -kennis is groot genoeg dat dit ’n eie, permanente basis verdien. Dié tuiste is die afgelope jare ’n eie stuk grond, genoem NAMPO Park, naby Bothaville.

Vanjaar was hierdie perseel van 13 tot 16 Mei in rep en roer toe die 57ste NAMPO-ekspo met die tema Globale landbou, plaaslik weer eens gewys het waartoe die Suid-Afrikaanse boerderybedryf in staat is. Selfs buitelandse uitstallers, van onder meer die Verenigde Koninkryk, Amerika, Brasilië, Argentinië en Turkye, het deelgeneem. Dit is geopen met ’n kransleggingseremonie by die Muur van Herinnering.

“Graan SA se kragtoets”, “Die klop van ons land se landbouhart”, “’n Landbou-ekspo soos min”, word NAMPO genoem, want dis ’n byeenkoms waar tegnologie, persoonlikhede, kennis en passie gekombineer word. Die organiseerders beskou dié drie dae as ’n geleentheid waar die hele Suid-Afrikaanse landbouwaardeketting byeengebring word. Dit sluit in van gevestigde produsente en verskaffers van alle tipes en groottes tot ervare en jong boere en beginners … en moet nie vergeet van die duisende belangstellendes wat kom koop, bewonder en leer wat ons landbounetwerk alles uitrig nie. 

Kortom … NAMPO bied iets vir almal.

Of jy op soek is na die jongste, gevorderdste masjinerie of slim besproeiingstelsels, of nuwe tegnologie en elektronika wat jou plaas na ’n volgende prestasievlak kan neem, NAMPO is die plek waar jy kan kom kyk, luister en besin. Of dalk soek jy raad oor saad, aanplantings en gewasse, grondtipes of vee. Jou behoefte is dalk eerder op die gebied van bemarking en afset, nuwe markgeleenthede of reklame … hier sal jy dit alles vind as jou eenstop-bron van landboukennis en -inligting.

Dis ’n geleentheid waar boere en boerderybelangstellendes kan kom kyk en vergelyk, of kom luister na gesprekke oor dit wat vir die hele bedryf saak maak. Jy sal tegnologie in aksie sien wanneer jy praktiese demonstrasies van implemente en tegnologie meemaak. En moenie jou vrou en kinders by die huis los nie … vir besoekers wat in leefstyl en gesinsake belangstel, is daar eweneens die interessantste aanbiedings. Unieke plaasprodukte, kuns en handwerk word uitgestal, en die beste van alles is … lekker eet en drink en saamkuier bly nie agter nie. Dié drie dae bied leefstyluitstallings en inspirerende praatjies met idees en insig van alles onder die son. Juis omdat die landboubedryf vertakkings het tot oral in die Suid-Afrikaanse samelewing, het NAMPO ’n platform geskep waar boere, verskaffers, metgeselle, jongmense en hele gemeenskappe ’n sterk rol kan speel binne ’n ruimte wat daargestel is sodat idees uitgeruil kan word oor volhoubaarheid, bemagtiging en besigheidsgroei. 

NAMPO het dié fokuspunt geword waar rolspelers in die landboubedryf netwerk sodat die toekoms vir een van die belangrikste aspekte van ons samelewing op stewige bene kan staan, en waar voedselsekerheid, tegnologiese vooruitgang en hande vat gesaghebbend onder die loep kom.

Dié wat nog nie hierdie unieke geleentheid bygewoon het nie, kan maar weet dat NAMPO ’n nasionale spilpunt is vir die boere – nie net ’n eenmalige jaarlikse gebeurtenis nie, maar ’n ervaring wat jou bybly en jou toerus met kennis wat jou dwarsdeur die jaar dra.

Een van die gereelde besoekers aan die NAMPO-belewenis is Anika de Beer, ’n metereoloog in diens van Restore Africa wat kykers dikwels op die kassie op die program Ontbytsake sien wanneer sy weersake praat. Sy kan nie uitgesels raak oor die aard en omvang van hierdie mega-uitstalling van tegnologie en kennis nie. “Dit val my elke keer op hoe groot dit is … en dat dit ’n lewende uitstalling is. Vir iemand wat dit die eerste keer besoek, is dit nogal oorweldigend. Ek bedoel dit op ’n positiewe manier. Daar is so baie om te sien, van lewende hawe tot elke implement onder die son. Hier sien jy selfs goed wat jy nie eens aldag op ’n plaas te siene kry nie!”

Vir Anika is bywoning van NAMPO se gereelde Nasie in Gesprek-reeks verpligtend. “Dit handel altyd oor onderwerpe wat krities belangrik is in die landboubedryf. En dan loop ek nie graag praktiese demonstrasies, soos skaapskeer, mis nie.”

Tophandelsmerke wat hul man staan in die landboubedryf, soos JAC Motors, Nisboere se medetitelborg, maak ook hul merk gedurende hierdie onvergelykbare naweek wat spesiaal geskep is vir ’n bedryf waarsonder geen samelewing kan klaarkom nie.

Die onderwerp waaroor boere seker die graagste en dringendste praat, is weersomstandighede en die klimaat – Anika se spesialiteitsgebied.

Vandat sy klein was, het die misterie van die weer haar nog altyd geïnteresseer … daarom het sy uiteindelik haar meestersgraad in die metereologie verwerf. “Alles wat ons doen, draai om die weer, Óf dit reën te veel, óf te min,” sê sy. “Kennis van die weer is nodig om die lewe vir ons makliker te maak. Ons almal weet van die hegte verbintenis tussen die landbou en die weer. Dis die één faktor waarvan boere so afhanklik is.” 

Herlewingslandbou is ’n sterk belangstellingsveld van Anika. Dit is die ontwikkeling van konvensionele landbou deur ’n vermindering in die gebruik van water, die voorkoming van grondagteruitgang en ontbossing, die verbetering van grondgehalte, biodiversiteit, klimaat, weersomstandighede en waterbronne, so ook die gebruik van grond as ’n tipe koolstofspons. “Ek het besef die koolstof wat in die atmosfeer vir ons so ’n groot probleem is, is lewegewend vir die grond omdat dit help met die grond-ekostelsel en terselfdertyd grondgesondheid help verbeter. Ek wil graag betrokke raak by iets wat help met hierdie koolstofsekwestrasie – dit is die proses om koolstof in die natuur vas te vang en te bewaar. Dit is waarom ek nou ook op herlewingslandbou fokus.”

Die tegnologie wat metereoloë help met weervoorspelling en kennis van klimaatsverandering is uiters gevorderd, met die kragtigste rekenaars denkbaar, vertel Anika. “Terselfdertyd is daar ook eenvoudige tegnologie wat ons ten bate van die landbou kan inspan.”

Die weer is kompleks, sê sy. “Dit is juis wat my so opgewonde maak hieroor. Jy besef hoe interaktief natuurelemente is in die weersomstandighede – soos byvoorbeeld hoeveel dinge moet saamwerk net vir ’n donderstorm om te ontstaan!”

Numeriese weervoorspelling is die gebruik van tegnologie om weerpatrone vas te vang en om dit te kan beskryf. “Dis eintlik maar net ’n klomp sommetjies wat ons maak. Vir so ’n komplekse atmosfeer kan jy dink die tegnologie wat jy hiervoor moet gebruik, is ongelooflik. Tog word dit steeds elke jaar beter. Kunsmatige intelligensie begin nou ook ’n rol speel om die weer te voorspel. Dit is so dat die rol van ’n metereoloog in die toekoms anders gaan lyk … soos om te vertolk wat ons op die weermodelle sien en dit reg aan die publiek en die landbousektor oor te dra. Ons help dus veral boere om die regte besluite te neem vanweë die inligting wat ons aan hulle deurgee, juis in hierdie mileu van klimaatsverandering. Dit is iets waarop ek graag in die toekoms nóg sterker wil fokus.”

Die El Niño- en La Niña-verskynsel speel ’n groot rol in weer- en temperatuurvoorspelling, sê sy – terselfdertyd kan jy ook nie staat maak daarop dat die voorspellings altyd ’n presiese uitkoms gaan hê nie. Met voorspellings op ’n seisoenale skaal sal daar ook altyd ’n waarskynlikheidsvoorspelling wees, maar in die geval van die weer kan niemand ooit enigiets met sekerheid voorspel nie. “Hoe groter die skaal van die voorspelling waarmee jy werk, hoe presieser kan dit bepaal word. Hoe kleiner die skaal van die weerpatroon, hoe moeiliker is dit om dit te voorspel. La Niña en El Niño gebeur oor ’n oppervlak van duisende kilometers in die Stille Oseaan – ’n baie groot siklus wat ons kan waarneem. Om egter ’n enkele donderstorm op ’n baie klein skaal, op ’n spesifieke plek, te voorspel, is baie moeiliker. Metereoloë is baie goed met groot voorspellings, maar wat presies die uitwerking daarvan gaan wees, bly uiteindelik net ’n waarskynlikheid.”

En hoe lyk die moontlikheid vir reën later vanjaar in Suid-Afrika? “In hierdie stadium lyk dit of ons ’n droër winterseisoen gaan hê, ’n ondernormale reënval – vra my liewer ’n bietjie later oor die moontlikheid van somerreën. Dit sal ek eers teen September vanjaar beter kan voorspel.”