DINK GRÓÓT

Aitsa!: ’n Belegging in kinders se toekoms

’n Kind met ’n ondersteuningsnetwerk word ’n volwassene wat dieselfde aan sy gemeenskap kan bied. 

Dit is die grondslag waarop Aitsa! Aftercare Centre, ’n skool en nasorgsentrum in die mooi dorpie Kylemore, naby die Dwarsriviervallei tussen Stellenbosch en Franschhoek, bedryf word. Die liefde, omgee, sorg en stimulasie wat die kinders van die omgewing hier ontvang, bied ’n veilige heenkome waar hulle intellektueel en emosioneel omarm en ontwikkel word.

Dit was in 2013 dat ’n groep vroue van die Dwarsriviervallei hul kommer uitgespreek het oor die omstandighede van die kinders van die omgewing … die desperate toestande waarin sommige leef, die afwesigheid van hul ouers weens werkomstandighede, armoede en middelafhanklikheid. Honger en verveling was dikwels die lot van die kinders, veral ná skool. 

Marietjie Steyn was een van dié groepie vroue wat skouer aan die wiel gesit het om iets aan die saak te doen, en só is die Aitsa!-sorgsentrum gevestig. 

Dis nie verniet dat die sentrum hierdie besonderse naam gekies het nie. Enersyds dra dié Khoisan-woord die betekenis van verstomming en verbasing, oftewel “wow”; andersyds word dit beskou as ’n akroniem waarvan die letters staan vir  aanbidding, integriteit, toewyding, spanwerk en die lewering van jou allerbeste … om die beste jý moontlik te kan word, om jou volle potensiaal te ontwikkel, en om te verseker dat jy ontluik in iemand wat sy plek in die samelewing kan vol staan om eendag aan jou omgewing en medemens die heel beste van jouself te kan bied.

Marietjie, Aitsa! se projekmentor, is daarvan oortuig dat dié sentrum vir haar niks minder is nie as ’n roeping waar sy haar talente en passie vir kinders kan uitleef. “Ek kom van ’n agtergrond waar ek altyd met kinders, veral minderbevoorregtes, in Johannesburg gewerk het. Toe ons ’n paar jaar gelede Stellenbosch toe getrek het, het ek by hierdie spesiale plek betrokke geraak. Die tyd wat ek al hier spandeer het, het my gewys dat die kinders in elke omgewing presies dieselfde behoeftes het. Ek praat van kinders wat verveeld is; kinders wat in die middae nie genoegsaam gestimuleer word nie. Sulke kinders het intellektuele, emosionele en selfs fisieke behoeftes. Ek glo dat kinders wat nie besig gehou word nie, betrokke raak by aktiwiteite wat nie vir hulle goed is nie. Dis dáárdie gaatjies in hul lewe wat ek wou vul.

“Kinders moet ook in die middae veilig gehou word, voortgesette stimulasie ontvang, hul volle potensiaal ontwikkel,” sê sy. Dít was die dryfkrag agter haar betrokkenheid by Aitsa! en vorm steeds die kern van die sentrumprogramme.

Volgens Melissa van der Merwe, projekbestuurder, “is dit vir ons belangrik om vir die kinders ’n veilige omgewing te skep, hulle te motiveer en voortdurend te stimuleer.”

Dit het binne 12 jaar gegroei tot ’n skool met 17 onderwysers en 50 vrywilligers, wat sjefs insluit, saam met om en by 15 diensverskaffers wat dit vir die skool moontlik maak om ’n breë spektrum van programme aan die leerders te bied. Die jeugsentrumbestuurder is Kirsty Burger.

Voorskoolse, primêre sowel as hoërskoolleerders is by Aitsa! ingeskryf. Die programme sluit in tuiswerkondersteuning, wiskunde- en geletterheidsprogramme, wiskunde- en taalonderrig, remediërende steun, ’n spesiale leesprogram, e-leerprogramme en ’n biblioteekdiens.

Die lekkerste van alles is dat die twee sjefs, Michelle Brown en Theresa Martins, sorg dat geen Aitsa!-leerder ooit op ’n honger maag hoef te leer of te speel nie. “Ons begin ons dag of middag altyd met ’n bord warm kos,” vertel Melissa. 

“Die akademie en tuiswerksteun is vir die personeel van die allergrootste belang, maar sportprogramme, kunsklasse, Bybelstudie en lewensvaardigheidsprogramme rond hierdie bevoorregte groep kinders se onderrig af. Hier is vir elke kind iets om te doen, volgens sy of haar behoefte of belangstellingsveld. Dis ook vir ons ewe belangrik dat ons kinders leer om goed te kommunikeer en sosiaal te verkeer. Met ander woorde, Aitsa! is ’n plek waar ons kinders volledig as mense kan groei, geestelik en liggaamlik. 

“Ons sorg ook dat ons ouers saamwerk. Kinders floreer altyd as hul ouers ’n pad saam met hulle stap, ook wat hul leerprogramme betref. Dit doen ons deur agt verpligte ouersessies deur die loop van die jaar. Dit sluit in oueraande, ook ouer-en-kind-verhoudingsbousessies. Ons wil ons ouers as mense bemagtig met praktiese gereedskap en hulle aanmoedig om gesonde, sterk gesinne te bou.”

Dis vir Aitsa noodsaaklik dat kinders so vroeg moontlik in hul lewe onderskep word, “hier vanaf die ouderdom van vyf,” vertel Melissa. “Ons stap ’n pad saam met hulle totdat hulle die skool teen 18 jaar oud verlaat. Dit wat ons bied, is nie net ’n leerprogram nie; dis ook ’n verhouding wat tussen personeel en leerders ontwikkel. Dis ongelooflik om te sien watter positiewe uitwerking die programme op die kinders het, dat hulle ’n plek het waar hulle kan kry wat hulle so nodig het. Ons sien hulle grootword en neem aan die einde van hul verblyf by ons waar watter invloed die sentrum op hul groei en ontwikkeling gehad het.”

Een van Aitsa! se grootste pluspunte is ongetwyfeld sy vaardigheidsentrum – waar leerders bykomende onderrig ontvang in praktiese vaardighede soos landbou, kookkuns, haarkappery, skoonheidskunde, nutsaktiwiteite, selfs sakevaardighede.

“Ons wil vir ons kinders wys dat daar ook ander opsies is as net akademiese leerwerk. Daarom maak ons gebruik van mense in die gemeenskap wat deskundiges op hulle gebied is,” vertel Marietjie. “Ons stel ons leerders bloot daaraan om praktiese vaardighede aan te leer … om hul eie sakgeld te verdien, sodat hulle makliker by ’n werk kan instap of as entrepreneurs ontwikkel.”

Marietjie sê dis die benadering van Aitsa! se bestuur en onderwysers dat kinders so lank moontlik in die klaskamer bly en nie die skool verlaat nie, sodat hulle eendag ná skool meer werksopsies het en hul kans op tersiêre studie groter is. 

En dis op hierdie vlak waar die landbou ’n reuse-rol kan speel, vertel Riis Lemmer, ’n deeltydse personeellid van Aitsa!, wat by landboukundige vaardigheidsontwikkeling betrokke is. “Ons het begin vanjaar met landbou-onderrig begin, want ons het besef hoe belangrik dit is dat ons kinders ook leer van voedselproduksie, grondgesondheid en aanplanting vir tuisverbruik. Kinders met landbouvaardighede kan hul kennis terugneem na hul gemeenskappe en hul ouers en grootouers gaan wys dat ’n mens self jou eie kos in jou agterplaas kan aanplant. My droom is dat ons binne vyf jaar ons eie tuin hier kan vestig vir voedselproduksie, dalk selfs ’n voedselboord met vrugte- en neutbome waar al hoe meer van dit wat ons in die kombuis nodig het, verbou kan word. Kos vir die studente, deur die studente.”

Aitsa! floreer ongetwyfeld vanweë ’n gemeenskap wat hande gevat het en hierdie mooi onderrigsentrum ondersteun. “Daarsonder kan ons nie voortgaan nie,” sê Marietjie. “Ons is dankbaar teenoor individue, grondeienaars, maatskappye, boere, nie-regeringsorganisasies en die inwoners van Kylemore vir hul betrokkenheid. Hierdie jeugsentrum is byvoorbeeld geleë op ’n stuk grond van die Enthoven-familie wat ’n deel van hul plaas aan ons geskenk het.”

Die Wes-Kaapse regering, die Universiteit van Stellenbosch, Capitec, saam met ruim skenkings van Het Jan Marais Fonds, is van die grootste betrokkenes om ’n gemeenskap se kinders te help floreer. “Elke individu se bydrae of tyd maak ’n groot verskil vir ons,” sê Marietjie. “Ons bou op die fondasie wat ons probeer lê wanneer die kinders nog in die laerskool is en wil graag die hele pad saam met hulle stap tot aan die einde van hul skoolloopbaan. Dit sluit in die versterking van hul geloofslewe, die bou van verhoudinge, die akademie … en dit alles met ’n baie spesifieke loopbaangerigtheid. Die woord ‘indiensneembaar’ speel ’n groot rol in ons benadering. 

“Elke kind moet hoop hê vir die toekoms, daarom beplan ons ’n moontlike loopbaanpaadjie vir elke kind.”

  • Volg @Aitsa op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.aitsa.org of skryf aan education@aitsa.org vir meer inligting of as jy graag die sentrum wil ondersteun.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za