Chanmar Mushrooms in Heidelberg, Gauteng, verskaf sampioene op groot maat aan die voorste kettingwinkels in hierdie provinsie, asook in Limpopo. Hulle is een van die eerste produsente in die land wat ’n eko-vriendelike, bio-afreekbare verpakking bekend gestel het. Onlangs het hulle ook begin om gegeurde sampioenlekkernye te skep wat saam met etes of as ’n ligte versnapering voorgesit kan word.
Agter dié unieke nisboerdery staan Marietjie Kruger, ’n ewe unieke vrou wie se hande duidelik vir niks verkeerd staan nie. Sy sê dit het 17 jaar se doelgerigte, harde werk en lang ure geverg om hul doelwitte te bereik. Sy glo dat enigiemand, man óf vrou, in dié bedryf sukses kan behaal, solank jou hart op die regte plek is.
Die vraag is egter: “Hoe lyk die potensiaal vir sampioenboerdery in Suid-Afrika en is dit die moeite werd om jou hand daaraan te waag?” Wel, toevallig is sampioenboerdery onlangs deur die regering geïdentifiseer as een van die sleutellandbousektore wat die land se ekonomiese herstelplan ’n aansienlike hupstoot kan gee.
Die rede hiervoor is dat die plaaslike sampioenbedryf relatief klein is, terwyl die vraag daarna bly toeneem, plaaslik sowel as internasionaal. Dit kan grootliks toegeskryf word daaraan dat sampioene ’n hele aantal gesondheids- en medisinale voordele bied en dat dit as ’n voedsame en bekostigbare plaasvervanger vir vleis kan dien.
In 2020 het die wêreld byvoorbeeld reeds 14.35 miljoen ton sampioene per jaar verbruik, en volgens Fortune Business Insights gaan dit teen 2028 jaarliks tot 24.05 miljoen ton toeneem. Tans word die waarde van ons plaaslike sampioenbedryf op sowat R940 miljoen geskat. Ons produseer jaarliks ongeveer 21 000 ton, waarvan ’n redelike kwota na lande soos Mauritius en Namibië uitgevoer word.
Daar is letterlik duisende tipes eetbare spesies op ons planeet, maar in Suid-Afrika word daar op net ’n paar soorte gefokus, aangesien ons smaak ’n bietjie “konserwatief” is. As sodanig bestaan die grootste deel (sowat 90%) van ons verboude produksie uit die witknopie- en bruinknopiesampioen (cremini), asook bruinsampioene (portobella of portabello), wat almal aan die Agaricus-spesie behoort.
Dis interessant dat sampioene eintlik swamme is en in twee hoofopsigte ánders is as plante.
Eerstens het sampioene nie grond nie maar kompos nodig om te kan groei. Sampioenproduksie is dus ’n ideale manier vir meer gevestigde boere om ander landbou-neweprodukte soos hoendermis en koringstrooi te benut.
Tweedens floreer sampioene in donker, koel en vogtige toestande en word dus hoofsaaklik in binnenshuise fasiliteite gekweek. Lees gerus hier hoe: https://southafrica.co.za/af/sampioene-groei.html
Dit is waarom enigiemand met ’n beperke ruimte en hulpbronne sampioene sommer tuis in houers kan begin kweek – in enige ongebruikte hoek, in ’n garage of kelder of selfs onder ’n wasbak. Inderwaarheid is dít iets waaroor die meeste nisboere wat ons pad tot dusver gekruis het, saamstem: dat jy duur lesse kan vermy deur aanvanklik net op ’n klein skaal te begin.
Toevallig is dít ook presies die kern van die Chanmar Mushrooms-verhaal: “Klein begin, groot gewin!”
Volg @Nisboere op Facebook om by nog ander vindingryke nisboere kers op te steek of jou eie storie met ons te deel.