Die natuur op jou bord
Op byna die suidelikste punt van Afrika, naby die plek waar die Atlantiese en Indiese Oseaan ontmoet, het Roushanna Gray haar passie vir plante omskep in ’n onderneming wat een van die Kaapse Skiereiland se gewildste ontmoetingsplekke vir natuurliefhebbers is.
Veld & Sea, aan die voet van die Klaasjagersberg by Kaappunt, het oor jare ontwikkel in ’n tuiste vir dié wat die natuur as ’n klaskamer beskou, mense wat die ekologie op die hart dra en wat die belangrikheid besef van ’n gesonde interaksie met veld en see om volhoubaarheid vir mens en natuur te bewerkstellig.
Roushanna, wat in 2004 uit die Moederstad hierheen verhuis het, se natuurkos-eet-en-ekskursiebesigheid het ’n unieke aanslag, in pas met die bepaalde plantegroei van haar onmiddellike omgewing. Hier word besoekers getrakteer op eksotiese, dog inheemse natuurkosse … wat hulle boonop self tydens uitstappies kan oes. En dit het alles begin by Roushanna se intense belangstelling in en nuuskierigheid oor die “eetbare” landskap van daardie spesifieke kolletjie in die Skiereiland.
“Ek is in Kaapstad gebore en het daar grootgeword, maar toe ek uiteindelik na hierdie suidelikste punt beweeg, het ek besef ek het die luukse om totaal deel van hierdie besonderse landskap te word.”
Sy het besef dis ’n plek waar die soutigheid van die seelug en die kruiegeur van die fynboslandskap met die siklusse van die seisoene saamspan om ’n landskap van soveel kleur en geur te skep, dat dit jou aanmoedig om sulke kossoorte deel van jou daaglikse inname te maak. “Ek het myself altyd afgevra: Ek wonder hoe prόé hierdie plek?”
Alles het begin by ’n koppie fynbostee in die teetuintjie wat sy in die Good Hope Gardens-kwekery begin het. Dié wonderlike natuurtuin is die breinkind van haar skoonma, Gael Gray, ’n tuinboukundige. “Dis waar my geurreis begin het, omdat ek agtergekom het dié op my spyskaart en dié van die natuurlike omgewing stem nie ooreen nie. My lewenslange avontuur met dit wat die natuur bied in die vorm van eet- en drinkbaarheid het in daardie tuin begin. Hoe meer ek geleer het, hoe meer het ek besef hόé baie daar oor ons Suid-Afrikaanse eetbare landskap te leer is. Of jy nou kyk na die natuurlike geure van die veld, van ’n woud, van die oseaan of van die berge.”
Roushanna se eerste mikpunt was om haar eie kinders meer van al die natuurwonders om hulle te leer. Dit het geleidelik ontwikkel in vakansieklasse vir die jeug, waar hulle meer van natuurkosse en die oes daarvan kon leer. Die plesier wat kinders het om sulke plante te versamel, voor te berei en te proe was so suksesvol en bevredigend, dat dit oorgegaan het tot soortgelyke klasse vir volwassenes. “Dit het uitgebrei tot werksessies vir grootmense, tot openbare geleenthede, tot seisoenale klasse. Dis gekoppel aan die seisoenale plantaanbod, om dan deur kookkuns die beste in die geure en teksture na vore te bring. Die werkswinkels se benadering is dat die natuur ons leermeester en klaskamer is. Kinders en volwassenes leer ’n diepe liefde vir die natuur, ook respek vir die kos wat hulle oes en gaarmaak.”
Algaande het die Grays se eiendom ontwikkel, met onder meer ’n gebou wat The Glasshouse gedoop is en waar klasse, werksessies en etes gehou word. Die besoekers kan die organiese tuin benut en daar is ’n buitenshuise “tuinklaskamer” wat The Hoop House genoem word. Intussen is sjefs, fasiliteerders en ander skeppende denkers aangestel om deel van Roushanna se “natuurskool” te word.
Dis belangrik dat gaste weet dit gaan nie hier net oor pluk-en-eet nie, maar oor ’n benadering van “insamel” uit die natuur. “Dit is die oudste en mees fundamentele verbintenis wat ons met die natuurlike omgewing het, ’n praktyk wat ons geleer het hoe ons ons omgewing moet bejeën, veral om ons band met die lewende wêreld om ons te bevestig. Alles wat ons hier doen en leer, verdiep ons respek vir die geskenke wat die natuur ons so ryklik bied.”
Roushanna se aanvanklike koppie tee het uitgebrei tot ’n reis met geure, stories, verbintenisse en die betrokkenheid van die gemeenskap, altyd met die bewaring van en begrip vir die natuur as ondertoon.
Veral November tot Maart is die beste tyd vir ’n intense natuurkosavontuur, vertel sy. “Gaste leer hoe om in die veld, selfs onderwater, kos te gaan soek – ek praat van plante, seewier en skulpvis. Dit moet volhoubaar, verantwoordelik en vernuwend gesoek en geoes word. In die herfs snuffel ons weer veral sampioene uit wat natuurlik in die omgewing voorkom.”
Selfs die nat, koue, Kaapse winter verskaf sy eie aanbod, vertel Roushanna. “Tydens die winterreënvalseisoen blom hierdie geweste in ’n magdom kleure en bied ’n uitsonderlike hoeveelheid geure. Dan is dit die tyd om aromatiese fynbos, inheemse groente en eetbare onkruid te soek en te versamel. Die prag van die Kaapse lente is weer die ideale tyd om gaste te trakteer op eetbare blomervarings.”
Volgens Rochelle Coetzee, een van Veld & Sea se sjefs, gaan gaste op ’n bepaalde dag byvoorbeeld see toe en bring hul “oes” terug om saam met die tuin- en omgewingsplante gaar te maak. “Ek praat hier van mossels, seegras, kruie. Hulle leer hoe om dit perfek in hul geregte te inkorporeer. Ek het self ook geleer wat die natuur my alles bied, plante met hul bepaalde geure wat ek voorheen misgekyk het. Van sommige was ek nie eens bewus nie, terwyl dit eintlik onder my neus was. Nou weet ek hoe om met die natuurlike bestanddele te werk, hoe veelsydig die veldkos is. Ek kan ook ander mense leer waar en hoe om sekere natuurlike plante reg en lekker by geregte in te sluit, van nageregte tot voorgeregte, van hoofdisse tot slaaie.”
Besoekers word op begeleide toere geneem en geleer waar om hierdie bestanddele volhoubaar te versamel. Daarna gaan hulle terug na The Glass House waar hulle hul nuwe kennis oor hul vondse prakties toepas – dit wil sê hoe om hierdie veldkosse in die kombuis gaar te maak, selfs hoe om dit vir ’n langer tydperk te bewaar. Hulle leer van die voedings- en medisinale waarde, ook hóé om te proe en wát hulle proe. ’n Lieflike seisoensgeïnspireerde maaltyd wat hulle sintuie uitdaag en bevredig, is volgende aan die beurt. “Die gaarmaak en eet van veldkosse vorm ’n baie groot deel van so ’n gestruktureerde besoek, want hier leer jy hoe om veld- of natuurkos in jou eie huis te gebruik.
“Dit kom daarop neer dat ons hier leer om ons oë oop te hou wanneer ons in die natuur is, want eintlik het ons kos reg rondom ons … ons sien dit net nie altyd raak nie,” sê Rochelle.
Entrepreneurskap is nie iets waarop Roushanna bewustelik besluit het nie … dis eerder ’n geval van kreatiewe idees wat geleidelik tot ondernemerskap ontwikkel het, gelei deur dit wat haar passie is en dit wat onmiddellik beskikbaar was. “In hierdie wêreld waarin ek leef en my onderneming op die been gebring het, is dit noodsaaklik dat jy die omgewing goed leer ken. Daarby moet jy sorg dat jou sakepraktyk ooreenstem met die ritmes en siklusse van die natuur. Bly getrou aan jou waardes, maak seker dat jou onderneming stadig, organies en volhoubaar bly groei.”
Hoewel Roushanna en haar span dit nooit so beplan het nie, het hul passie verskeie toekennings aan Veld & Sea besorg as restaurateur en toerismebestemming.
Die inspirasie van hierdie lieflike leer-en-ontspanningsplek bly die natuur, die seisoene, die maan en die getye … die mens se band met die natuur.
- Volg @Veld and Sea op sosialemedia, besoek www.veldandsea.com of skakel 072 234 4804 vir meer inligting.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za