Van nul tot 10 tot meer as 300 in net 23 jaar.
Dít is, in ’n neutedop, die verhaal van The Alpaca Loom, ’n onderneming in die Paarl wat in 2002 met niks begin het – sonder enige definitiewe besigheidsplanne of -vooruitsigte.
Vandag boer Dietmar Keil en sy eggenoot, Kerstin Heisterkamp, op hul kleinhoewe hier met meer as 300 alpakkas en bedryf hulle en hul werkers die Manor House Alpaca-stoetery. Hulle teel alpakkas van alle kleure hoofsaaklik vir hul wol, maar verkoop hulle ook as teel-, troetel- en terapiediere.
Dit is ’n groot sprong vorentoe sedert net meer as 20 jaar gelede toe Dietmar-hulle op dié mooi dorp in die Boland aangeland het sonder enige doelgerigte toekomsplanne. Dat hulle dringend met ’n lewensvatbare idee vorendag sou moes kom om ’n bestaan te kan maak, was ’n gegewe.
“Ek kom oorspronklik van Namibië af waar my pa met karakoelskape geboer het. Al wat ek van die Paarl geweet het, is dat my ouma in hierdie omgewing gewoon het. Ek is oorspronklik ’n skrynwerker, ’n ambag wat ek in Duitsland geleer het.” Hierdie vaardigheid sou hom handig te pas kom, maar ’n beroep vir die toekoms was dit nie.
Die paartjie het skaars hul voete gevind “toe ons begin rondkyk het wat kan ons doen. Natuurlik was ons effens onseker, en het toe maar allerhande diere begin aanhou … ’n paar skape, ’n paar beeste, ’n paar varke …”
Hulle het hul oë oopgehou vir die regte kans op die regte oomblik. “Ons het altyd op die uitkyk gebly vir die regte geleentheid.” Twee jaar later, in 2004, het daardie geleentheid hom voorgedoen, “toe ons op ’n landbouskou dié lieflike diere gesien het”.
Die gedagte het by die egpaar posgevat dat dit dalk tot ’n volhoubare boerdery sou kon lei. “Ons navorsing het getoon dis ’n waardevolle dier wat goed op ons stukkie grond sou inpas en aanpas.”
Voer vir hul eerste 10 diere was die eerste uitdaging wat hulle in die gesig gestaar het. “Daar was nie baie kos op die kleinhoewe vir dié unieke diere nie. Die werklikheid het ons getref – dit waarmee jy boer, moet jy voer. Maar ons het ook geweet dat ons reeds op ’n klompie goeie beginsels kan staatmaak om ons idees te laat werk. Ons het dadelik ingespring om te sórg dat ons genoeg voer beskikbaar het, en só het die enkele alpakkas redelik vinnig tot so 250 kalfies gegroei. Ons het hulle met die bottel grootgemaak om weer te verkoop.”
Alpakkas kom oorspronklik uit Suid-Amerika, hoofsaaklik Peru, Chili, Argentinië en Bolivië, maar hulle is oor die jare uitgevoer na Amerika, Europa, Australië, Nieu-Seeland, China en sedert 2000 na Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Alpakkatelersvereniging is gestig, met nou al by die 50 telers as lede.
Alpakkas raak al hoe gewilder vanweë hul hanteerbare grootte en relatief maklike versorging en instandhouding in vergelyking met ander lewende hawe – een van die grootste redes waarom hulle so ideaal is vir kleiner plasies en kleinhoewes. Hulle is skoon diere, nuuskierig en vriendelik. “En hulle lewer wol van die hoogste gehalte,” sê Dietmar.
Alpakkas is sowat 1 meter hoog van die grond tot by die skouerblaaie wanneer hy op sy vier pote staan, weeg as volgroeide dier tussen 50 en 90 kg en het ’n lewensverwagting van tussen 15 en 20 jaar. Die dragtigheidstydperk is 11 tot 12 maande. Hul kleure – sowat 22 – wissel tussen wit en vaalbruin, grys, swart en allerhande variasies hiervan. In Suid-Afrika is 12 kleure geregistreer. Die vag word in twee groepe verdeel – huacaya, die digte wol wat regstreeks uit die lyf groei, byna soos Merino-wol lyk en die diere ’n geronde voorkoms gee; en suri, ’n sagte, syagtige tipe wol wat ooreenstem met dié van Angorabokke. Laasgenoemde is nog redelik skaars in Suid-Afrika. Die diere word een keer per jaar geskeer, en elke dier lewer tot sowat 4 kg wol van wisselende gehalte.
Dietmar vertel die onderneming het, ná die eerste aankope, stappie vir stappie gegroei. Vyf jaar later, in 2009, het die volgende geleentheid ontstaan “toe ons ’n uitstekende kans gekry het om die weefopset van ’n gevestigde ondernemer oor te neem. Sy het ook ’n paar alpakkas gehad en reeds werkers opgelei om allerlei produkte van die diere se wol te maak. Ons besigheid het toe, as gevolg van dit wat ons by haar gesien en geleer het, grotendeels oorgeskakel na die verwerking van alpakkawol en die vervaardiging van produkte hieruit. Dis waar die naam Alpaca Loom vandaan kom, want ons het die diere se wol op ’n taamlike skaal begin verwerk en ’n groot verskeidenheid produkte begin vervaardig deur middel van weefwerk.”
Die volgende waarheid het hulle getref – dit is die besef dat “as jy produkte het, jy dit ook moet bemark. Dit is maar die ou kwessie by baie entrepreneurs … jy begin iets, en daaruit vloei die volgende stap, dan die volgende stap … en jy moet byhou.”
Aanvanklik was markte soos dié by die wynlandgoed Blaauwklippen naby Stellenbosch en ’n naweekmark by Somerset-Wes hul eerste opsie, “waar produkte soortgelyk aan ons s’n verkoop word, alles handgemaak”. Die vraag na The Alpaca Loom se kwaliteitprodukte het begin groei.
Volgens Dietmar is alpakkas se wol “luuks en van ’n baie hoë gehalte – van die beste natuurlike vesels wat jy kan kry. Dis gelykstaande aan kasjmir. Nog ’n pluspunt is dat dit vier keer warmer is as skaapwol. Alpakkawol is lig en bied goeie isolasie.”
Presies soos Dietmar voorspel het, hét dié volgende stap na die verdere uitbreiding van die onderneming gelei, met ’n hele paar opsies vir besoekers. “Hier is ook nou ’n koffiewinkel waar jy rustig kan sit en ontspan, ’n troetelkamp waar jy tussen die alpakkas kan rondloop en hulle kan voer, saam met ’n paar ander diertjies soos bokke, skape en ’n paar poue.”
The Alapaca Loom bied voorts alpakka-staptogte aan, wanneer jy op koeler tye van die dag met een aan ’n leiband in ’n afgeslote ruimte kan rondloop. “Mense hou daarvan net om naby die diere te wees.” Vir besoekers is dit ’n opwindende ervaring om te ontdek dat hierdie relatief vreemde diere so mak is!
Toergidse neem gaste dwarsdeur die dag rond om al die werksaamhede op die plaas te verduidelik – van die aard van die diere tot die verskaffing van meer inligting oor die wol wat gelewer en die eindprodukte wat gemaak word. “Dan is daar natuurlik die weefateljee waar ons die wol verwerk. Dis interessant om te sien hoe die wol in duursame produkte verander.”
Enigiemand met die regte stukkie grond kan met alpakkas begin boer, sê Dietmar. “Doen eers net jou huiswerk goed, en kyk uit in jou gebied vir ander alpakkaboere. Of kom hierheen dat ons kan gesels en jou wys wat ons doen. Begin eers met net ’n paar diere en laat jou onderneming dan vanself ontwikkel.”
Die ekonoom Dawie Roodt stem met hierdie besigheidsbeginsels saam – pak dit stappie vir stappie aan, eksperimenteer voldoende en benut die hele waardeketting wat jou produk, diens of dier bied … presies soos die Keils maak. Dis waarom The Alpaca Loom nou nie net meer ’n werkende plaas is wat wol produseer nie, maar aanvullende bedrywe ontwikkel het, soos dat die kleinhoewe ’n gesogte toerismeaantreklikheid geword het waar besoekers kan ontspan en gehalteprodukte kan aankoop.
“Dit wys dat daar volop geleenthede vir entrepreneurs in Suid-Afrika is … klein besighede wat spesialiseer, wat belangstellings in voltydse ondernemings verander het.”
- The Alpaca Loom is daagliks oop (behalwe Kersdag) van 09:30 tot 17:30, met toere elke uur op die uur, en leiband-wandelings daagliks om 10:00 en 16:00.
- Volg @The Alpaca Loom op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.alpacas.co.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za