DINK GRÓÓT

Seisoen 2 | Episode 3

Siberiese katte| Braambessies | Duiwe 

 

Die nisboere in Episode 3 is ‘n vorentoe vergestalting van een van die hoekstene waarop die reeks gebou is: Om te gebruik wat jy het, en dit na die volgende vlak te neem. Anrich leer al weer ‘n paar bessie-lessies, hierdie keer omtrent braambessies. Chris vind uit of ‘n mens se opbrengste saam met resiesduiwe kan uitstyg, en Simonia verken die lewens van Siberiese katte in ‘n Johannesburgse voorstad.

 

Episode 3 skop af by Clean Air Nurseries, die skouspelagtige plaas van Nisboere Seisoen 1 se wenner, Gideo van der Merwe. Chris wys daarop dat Clean Air Nurseries ‘n toonbeeld is van wat op ‘n klein stukkie grond vermag kan word en dat die episode juis gaan fokus op drie nisboere wat die beste maak van die spasie wat hulle het: Anrich gaan meer leer oor bessies en Chris self gaan uitvind hoe winsgewend resiesduiwe kan wees. Heel eerste aan die beurt is egter Simonia, wat ‘n wonderwêreld ontdek waar Siberiese katte in ‘n voorstad van Johannesburg geteel word.

Siberiese katte

http://www.artekatz.com 
Cherylee Powell:
Mobile: +27 82 569 5737
Email:   cherylee@artekatz.com

Artekatz

Simonia verwonder haar aan die gesellige huis vol skilderye en memorabilia, vanwaar Cherylee en Oliver Powell hul sonderlinge teelonderneming bedryf. Hulle het mekaar op laerskool ontmoet, vertel sy. Nadat haar eerste man oorlede is, het sy gewonder wat van hom geword het. Via Facebook het hulle mekaar weer opgespoor. In 2007 is hulle getroud, en sedertdien het die egpaar baie besonderse katkinders bygekry.

Cherylee vertel sy het haarself bekwaam as ‘n ingenieur, later gewerk as ‘n lugwaardin en toe besluit om ‘n veeplaas te koop. Hoewel dinge daar nie uitgewerk het nie, het die katbedryf gewen wat die veebedryf verloor het.

Juis in daardie stadium was haar dogter se kat besig om dood te gaan, en Cherylee het besluit om vir haar ‘n spesiale kat te kry. Sy en Oliver het begin kyk na Siberiese katte; eers een, toe twee, en kort voor lank vier, ses en tien. So het hulle begin teel, en die resultaat was Artekatz – die eerste Siberiese katteelonderneming in Suid-Afrika.

Simonia wil weet wat die katte eet en Oliver verduidelik dat natuurlike kos die beste is, en ook goedkoper as kommersiële kos. Die Siberiese bende se spyskaart bestaan onder meer uit binneboud-beesvleis, beeshart, hoenderboudjies en gestoomde stokvis.

Hul akkommodasie is ewe indrukwekkend. Omdat hulle sprei, bly die mannetjies buite in hul eie huisies. Die ma’s met babas bly bo in Cherylee se slaapkamer en ateljee, en dan is daar nóg ‘n kamer onder vir kleintjies, katte wat rus en swanger wyfies.

In die tuin is daar hokke en tonnels wat gebou is deur ene oom Piet, wat ook die hokke vir die Johannesburgse dieretuin gebou het.

Kom dit by die teelproses, is Artekatz verbind tot ‘n proses van beplande paring.  Siberiese wyfies teel slegs een keer per jaar vir drie jaar, waarna hulle “aftree” en ander huise kry. Dit beteken die mannetjies word afsonderlik van die wyfies geteel.

Simonia wil weet hoe dit moontlik is dat sy – wat allergies is vir katte – nog nie een keer genies het nie. Cherylee verduidelik dat Siberiese katte, afgesien daarvan dat hulle mensvriendelik is soos honde, ook hipo-allergenies is, en wys vir haar ‘n paar pragvoorbeelde uit die versameling.

Sy erken dat dit vir haar moeilik is om die katte te laat gaan. Maar, sê sy, dit is die moeite werd, veral wanneer mense vir haar foto’s stuur van die katte met hul kinders wat, weens allergieë, nooit voorheen in staat was om ‘n kat vas te hou nie.

Braambessies

GPS: 
S26 50.804″
E27 37.811″

T: (056) 811 – 3966
C: (083) 650 – 8365

W: http://www.berry-farm.co.za
E: info@berry-farm.co.za

Bon-Af Landgoed

Anrich bevind homself langs die N1-snelweg, kort duskant Parys, op die selfpluk-bessieplaas, Bon-Af. Desjare, vertel hy, is daar vir die boer gesê hy kan nie bessies in die area kweek nie, maar vandag pronk die plaas met meer as 100 variante, asook verskeie ander aktiwiteite.

Bon-Af beslaan net 1.5 hektaar, maar elke boom, verseker die trotse eienaar, Hannes Raubenheimer, vir Anrich, proe anders en alles is organies. Die plaas is oop vir die publiek. Besoekers betaal ‘n fooi om in te kom, waarna hulle ‘n kort beskrywing van die agtergrond en aktiwiteite kry en daarna ‘n houertjie. Hulle kan soveel eet soos hulle wil en ook saamvat huis toe, verduidelik Hannes. Die res van die opbrengs word bevries en later verkoop.

Anrich wil weet hoe en waar alles begin het. Hannes hy het die plaas in 1997 gekoop en vir die eerste vyf jaar met varkies geboer. Weens die varkies se gesondheid het hy egter die boerdery gestaak – en juis in daardie stadium ‘n praatjie op RSG oor ‘n framboosplaas gehoor. “Ek wonder toe wat vir ‘n ding ‘n framboos is – ek het nie geweet nie,” vertel hy.

Hy het egter gou genoeg uitgevind, en raad begin inwin. Die Landbounavorsingsraad in Stellenbosch het hom aangeraai om nie bessies te plant nie, omdat die Vrystaat kwansuis nie bessiewêreld is nie. Vandag bewys Bon-Af egter deur en deur die teendeel.

Volgende verduidelik hy vir Anrich hoe ‘n mens te werk gaan om bessies te plant en dat ‘n mens nie braambessies op winkelrakke kry nie omdat die raklewe van dié  kultivar te kort is.

Bon-Af is egter nie beperk tot vars of bevrore bessies nie. Hannes en sy vrou, Susan, maak ook konfyt, blatjang, kaaskoek en roomys sonder enige kleursels, geursels of preserveermiddels.

Hannes wys hoe hy blatjang maak, en dan stap hulle oor na die restaurantjie waar Anrich van die bessielekkernye proe en Susan vir hom verduidelik hoe alles werk, insluitend die rolverdeling tussen haar en Hannes, en wat hulle alles doen in die winter wanneer die bessieseisoen verby is.

Duiwe


Samuel Loftus 1

https://www.facebook.com/samuellofts1/

Vir bessies of saaiboere is duiwe ‘n pes, maar hulle kan ook baie winsgewend wees, vertel Chris regsteeks vanaf Samuel Lofts, die resiesduifplaas van Samuel Mbiza.

Samuel het in Gugulethu in die Wes-Kaap grootgeword, maar skoolgegaan by ‘n veelrassige skool wat nie in die township was nie. Hy het altyd in duiwe belanggestel, vertel hy, maar sy duiwe – wat hy sommer in ‘n nabygeleë park gekry het – was ligjare verwyder van die spesiale duiwe wat hy naby die skool sien rondvlieg het. Hy het hom verwonder aan hul ritme, energie en spoed, en eendag hul eienaar nadergeroep om uit te vind wat sy geheim is. Die man het vir hom verduidelik dat dit resiesduiwe is wat spesifiek vir die doel geteel is.

Kort daarna het Samuel sy eerste duif by die einste man gekoop met sy R5 kos- en vervoergeld, wat beteken het dat hy huis toe moes loop, wat ver en dikwels gevaarlik was. Maar dit was die begin van die verwesenliking van Samuel se droom: om wedrenduiwe aan te hou, met hulle te teel en te begin kompeteer.

Vandag kompeteer sy duiwe nie net met mening nie, hy verkoop hulle ook oorsee. En hulle is klein maar getrein om verskillende afstande af te lê: 200km “naellope”, 400–500km middelafstande, en meer as 1 000km langafstande. ‘n Tydmeetstelsel in die lughok moniteer die verskillende duiwe se afstande, bestemmings en bewegings.

Chris merk op dat die duiwe in groepe vlieg, en Samuel verduidelik dat die voëls begin om mekaar tydens wedrenne te identifiseer, en dat hulle dan natuurlike groepe vorm.

‘n Voël wat enig in sy soort is, is egter Golden Prince – die wenduif wat vir Samuel 360 000 euros uit die sak gejaag het. “’n Mens is altyd op soek na daardie beste voël,” verduidelik hy. “’n Mens moet die gene in die hok versterk.” Hy voeg by dat sekere duiwe baie kos, omrede hulle ook baie geld wen.

Samuel se advies aan voornemende wendrenboere is dat hulle lief moet wees, en ‘n passie moet hê vir duiwe. Eweneens belangrik is goeie advies en die regte mense.

NUUT OP DIE VYF VAN DIE BESTES-BORD

Terug by Clean Air Nurseries, kuier Chris saam met die Vyf van die Bestes-paneel: stigterslid en direkteur Corné Liebenberg, en bemarkingsbestuurder van plantvoeding en dienste, Phillip Venter – van Laeveld Agrochem se kant af. Nuut op die paneel is Thys Viljoen, bemarkingsbestuurder van Clean Air Nurseries.

Philip hou baie van die Siberiese katte, en veral van die moeite wat Cherylee doen om vir mense ekslusiwiteit te gee deur middel van haar teelproses. Omdat sy intensief boer, maan hy, moet daar egter seker gemaak word dat higiëne en inentings te alle tye op datum is.

Thys is ewe beïndruk met Bon-Af. Hy hou van die manier waarop die Raubenheimers te werk gaan en waarde tot hul produkte toevoeg.

Corné is uitgeboul deur Samuel en sy wedrenduiwe, want, verduidelik hy, wat dié man vermag het, is een van die doelstellings waarna Nisboere vanuit die staanspoor streef. Hy het begin as kind, sy kosgeld gebruik om sy eerste duif te koop – en nou is hy op die punt wat hy praat van ‘n R5-miljoen duif wat hy wil aankoop. Samuel is ‘n nisboer van formaat, is Corné se gevolgtrekking.

Phillip wys weer eens op die moeite wat Cherylee met Artekatz doen, asook die feit dat die onderneming weens die eksklusiwiteit van die katte redelik winsgewend is.

Ludwigs Roses verloor sy posisie die bord, en hierna plaas Thys vir Bon-Af in die tweede plek, danksy die moeite wat gedoen word om die publiek te leer, en omdat geen vermorsing op die plaas plaasvind nie.

Artekatz staan in die vyfde posisie, maar nie vir lank nie. Samuel Lofts is so indrukwekkend, verduidelik Corné, omdat dit presies is wat Nisboere wil wys, en omdat hy so klein begin het en nou ‘n groot kommersiële besigheid bedryf. “Gewoonlik eet katte duiwe, maar nou is dit andersom,” verduidelik hy met ‘n glimlag.

Chris herinner kykers daaraan dat die Dippenaar-plaas steeds voorloop. As hulle nie saamstem nie, kan hulle egter Nisboere se Facebook-blad besoek en hul eie kandidaat kies.

 

 

Terug na episodes