Vir die Rio Largo Olive Estate in die Scherpenheuwelvallei tussen Robertson en Worcester was sukses met die produksie van hul olyfolie van die begin af ’n gegewe – nie vanweë die geluksgodin nie, maar te danke aan deeglike huiswerk en beplanning, goeie navorsing en ’n toekomsvisie.
Dié elemente, sê Nick Wilkinson, het die grondslag gelê vir talle nasionale en internasionale bekronings wat Rio Largo se ekstra suiwer olyfolie al ingepalm het. Nick en sy vrou, Brenda, is mede-eienaars van hierdie gesogte eiendom. Binne net 15 jaar sedert die egpaar hul plaas op die oewer van die Breederivier gekoop het, spog hul produkte met dubbelgoudbekronings en ’n vraag wat die aanbod oorskry.
Die landgoed het vandag sowat 18 000 olyfbome van die kultivars Frantoio, Leccino, Coratina en FS-17.
Nick, ’n geoktrooieerde rekenmeester, is gewoond daaraan om aandag aan detail te gee. Dit is een van die belangrikste faktore waarom die vraag na hul produkte bly groei, meen hy. Van finansiële beramings tot tydsbesteding, van verpakking tot markbepaling word niks aan toeval oorgelaat nie.
Nick en Brenda se pad het in 2010 met dié van Rio Largo gekruis toe hulle uit Sentraal-Afrika teruggekeer het waar hulle 20 jaar gewoon en gewerk het. Nick was hier in die korporatiewe landboubedryf werksaam waar hy een van die grootste plase in Afrika bedryf het. ’n Vermaning deur sy huisdokter het hom ’n kopskuif laat maak – hy sal sy leefstyl moet verander en beter na sy gesondheid moet kyk, hy moet meer olyfolie in sy sisteem kry en ’n rustiger lewe lei.
“Ons het na grond in die Wes-Kaap begin kyk en op hierdie plaas afgekom. Dit was nie heeltemal in die toestand waarin dit nou is nie. Ons het besef dit gaan nogal ’n uitdaging wees.” Die Breederiviervallei, een van die mooiste wyndruiwestreke in die land, het perfek ingepas by dit waarna die Wilkinsons op soek was. Die dae was verby dat hulle op ’n korporatiewe werkomgewing kon staat maak, sê Nick. Hulle het geweet hulle is nou op hul eie.
“Ek glo sterk daaraan dat, wanneer jy iets aanpak, jy dit óf heelhartig doen, óf glad nie. Toe ons dus op ’n olyfplaas besluit, het ek ’n klompie Mediterreense lande besoek en ondersoek ingestel na verskillende verskaffers van toerusting vir die produksie van olyfolie. Ek wou graag twee olyfverwerkingslyne aan die gang kry, want jy loop altyd die risiko dat een kan breek. Ek hou daarvan om seker te maak alles loop reg. Dit het waarskynlik te doen met my agtergrond as geoktrooieerde rekenmeester. Ek glo as jy iets nie kan meet nie, kan jy nie die gehalte beheer nie.”
Tydens sy reise het Nick die wêreldbekende topprodusent Giorgio Mori leer ken, “’n ongelooflike mens met ’n buitengewone kennis van die produksie en smaak van suiwer olyfolie. Hy was een van die min individue wat werklik geluister het na wat ons beplan het. Ek het daarna ook ’n meesterskursus in olyfolieproduksie aan UC Davis in Kalifornië gedoen.”
Nick en Brenda wou graag Italiaanse olyfkultivars aanplant, “want my reise na die Mediterreense gebiede het getoon die Italianers is die voorlopers op die gebied van olyfolieproduksie. Hul olie is vir my die smaaklikste. Ek sal dus nooit enigiets anders as Italiaanse kultivars aanplant nie. Nog iets wat ek geleer het, is dat olywe met die hand geoes moet word.”
Vir Nick en Brenda was die beginsel van kwaliteit ononderhandelbaar. Daarom was dié leer- en deeglike navorsingsproses vooraf uiters belangrik. “As jy internasionaal wil meeding, moet jy sorg dat jy topgehalte lewer,” meen Nick.
Een van hierdie beginsels om olie van die hoogste gehalte te produseer, is die stadium waarop olywe gepluk word. “Ons pluk ons s’n gewoonlik ’n bietjie vroeër as die meeste produsente. Die opbrengs van olie is dan kleiner, want tydens die verwerking pers jy minder olie per kilogram uit die olywe. Dit het egter ’n hoër polifenol-inhoud.”
Polifenol is voedingstowwe wat inflammatoriese beskerming bied en kom in plante en plantgebaseerde kos voor. Ekstra suiwer olyfolie bevat sowat 500 mg/liter polifenol, en die hoeveelheid en gehalte hiervan is nou verwant aan die stadium waarop olywe gepluk word, sowel as aan die pers- en verwerkingsproses. Die beginsel waarvolgens die Wilkinsons dus werk om ’n hoër polifenolinhoud te verseker, is om olywe in ’n vroeër stadium te pluk en die olywe dan so vinnig moontlik te verwerk. “Wat ons vandag oes, word vandag verwerk.”
Die twee produksie-aanlegte op Rio Largo verseker dat die verwerkingsproses nooit stilstaan nie. “Ons aanleg werk elke 24 uur ’n 12-uur-skof. Higiëne is van die grootste belang; daarom word die hele produksielyn elke dag van hoek tot kant skoongemaak om 100% gereed te wees vir die volgende dag se produksie.”
Om olyfolie te produseer stem, volgens Nick, baie ooreen met wynmaak. “Jy sorg dat jy sélf heeltyd betrokke is by die produksieproses. Jy gee aandag aan die kleinste besonderhede.”
Ná 15 jaar se praktiese ervaring “dink ek ons verstaan nou die internasionale mark. Die vraag het die aanbod begin oorskry. Ons sal dalk daaraan moet dink om die plaas te vergroot. Terwyl ons ons uitvoermark sal bly uitbrei, gaan ons nie inkort op ons plaaslike mark nie”.
Die gesondheidsaspek van Rio Largo se olyfolie weeg vir die Wilkinsons swaar … daarom is ’n volgende stap die produksie van “funksionele” olyfolie – dit is ’n produk waarin daar nóg sterker aandag gegee word aan die behoud van voedingstowwe. “Ons wil graag die geure van die Kaapse Blommeryk deel maak hiervan.”
Volgens Samantha Ellis, een van Rio Largo se personeellede, is ’n trotse prestasie van Rio Largo die tapkraanblikkie waarin hul olie verkoop word. Dié blikkie, in verskillende groottes, spog met ’n wye verskeidenheid asemrowende kunsontwerpe wat daarop afgedruk is – selfs kunswerke wat sommige aankopers self aanvra. “Die tapkraanblikkie is op Rio Largo gebore. Hoewel daar baie geblikte olyfolie in Suid-Afrika is, is die kraantjie redelik uniek, hier en oorsee. Dit trek nogal baie aandag! Die uniekheid van ons benadering lê daarin dat jy enige ontwerp daarop kan laat aanbring. Baie van ons plaaslike én internasionale kliënte is mal hieroor, want nou kry hulle selfs die geleentheid om iets van eie keuse op hul blikkies olie te laat sit.”
Samantha vertel dat die konsep van ’n kraantjie aan die blikkie Brenda se visie was. “Sy het ’n manier gesoek om die inhoud te bewaar en te beskerm sodat dit vars kan bly, tot die laaste druppel.”
Brenda se innoverende idees hou egter nie hier op nie. “Sy streef daarna dat dit wat hier gebeur ook ’n baie wyer impak op die olyfbedryf moet hê, soos om kennis oor die waarde van olywe en olyfolie wyer te versprei; ook inligting oor die gesondheidswaarde en die talryke gebruike daarvan.”
Tog, sê Samantha, is hul vernuwende idees nie Rio Largo se grootste pluspunt nie. “Ons personeel is ons grootste skat. Hulle beskou ons olyfolie nie net as ’n produk nie, maar as hul passie. Ons het ’n permanente span werkers, maar gedurende oestyd kom meer as 80 ekstra plukkers hierheen om te help. Hulle kom jaar ná jaar terug; sommige werk al 15 jaar saam met Nick en Brenda. Dis ons doelwit dat elke werker se volle potensiaal ontwikkel word; ook dat Rio Largo ’n rol in die omgewing speel. Daarom gee die landgoed terug aan die gemeenskap en ondersteun ons byvoorbeeld graag die plaaslike skooltjie.”
Nick is optimisties oor die toekoms. “Jy kan altyd ontwikkel en verbeter. Innovering is die dryfkrag van enige onderneming. Ons kan dalk kyk na nóg beter maniere van verpakking.
“Entrepreneurskap vra motivering. So nou en dan verloor jy moed as jy teëspoed optel. Dan dink jy jy gaan nêrens kom nie, maar jy moet net vasbyt. Daar is ’n paar reëls wat jy moet nakom. Een daarvan is om ‘nee’ te kan sê. Ook aandag aan detail. En tyd … jy moet weet jy gaan baie ure in jou eie onderneming sit. Daar gaan dae kom dat jy voel alles is teen jou, maar jy moet dan maar net weer opstaan en aangaan. Die heel belangrikste is egter dat jy moet glo in wat jy doen. Jou hart moet in jou besigheid wees.”
Hiermee stem Sean Freeman van Livingseeds Heirloom Seeds, ’n entrepreneur van formaat, saam. “In Suid-Afrika is daar groot geleenthede vir nisboere. Die mark is wyd oop vir mense wat innoverend dink, dié wat nuwe produkte en dienste na die mark bring. Entrepreneurskap is niks anders nie as om ander mense se probleme raak te sien en ’n oplossing daarvoor te bied. Jy vul dus ’n gaping in die mark. As jy dít regkry, sal mense geld bestee op jou produk of diens. Die beste van alles is dat jy nie ’n plaas se geld hoef te bestee om ’n mark te betree nie.”
- Volg @Rio Largo op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.riolargo.co.za of skryf aan info@riolargo.co.za of stores@riolargo.co.za, of bel 082 688 0578.
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za