DINK GRÓÓT

Pretoria Boeremark: ’n Samekoms van vaardigheid en innovering

Jy kan jou skaars ’n beter manier indink om jou naweek woema te gee as by dié gewilde koop-en-kuierplek, en dít in die hartjie van ’n groot stad. Die enigste voorwaarde is: Staan op vóór sonsopkoms om seker te maak jy loop alles raak wat vir die komende week se koskaste nodig is.

By die gewilde Pretoria Boeremark moet jy egter jou Saterdagoggend-inkopietog reg afskop – natuurlik met ’n koppie egte moerkoffie. Vul dit aan met ’n ontbytburger of ’n soet, stroperige pannekoek. Onthou dan sommer ook om jou braaigoed vir die naweek hier aan te skaf … of jul gesin se vakansieversnaperings soos beskuit, soetkoekies en droëvrugte, snuisterye vir die verjaardae wat voorlê, gesondheids- en skoonheidsprodukte vir jou eie welsyn; ook al jou plantbenodigdhede vir die naweek se tuinmaaksessie.

Dit is maar net enkele van die wye verskeidenheid produkte wat elke Saterdag van halfses tot halftien te koop en te beleef is by dié mark wat al bestempel is as een van Pretoria se topvyf besienswaardighede.

Die huidige perseel van sowat 4 hektaar in Silverton is die eiendom van die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) wat aangekoop is toe die organisasie sewe jaar gelede die tender verloor het om ’n vorige markperseel, by die Pioniersmuseum, vir dié doel te gebruik. Die eerste mark was op die Persequor-terrein by die WNNR. 

Die konsep van ’n eie “boeremark” is reeds op 10 Oktober 1992 van stapel gestuur, maar in die meer as 30 jaar van sy bestaan is daar nie net van perseel verander nie, maar ook van gedaante. Waar die TLU SA destyds met net 60 uitstallers begin het, pak om en by 400 stalletjiehouers nou weekliks hul ware uit op toegewysde ruimtes. Oor die jare het die aanbod van hoofsaaklik varsprodukte uitgebrei tot ’n ongekende reeks skeppende en innoverende produkte van vlytige entrepreneurs. Al van vieruur se kant af maak hulle fluks gereed om die eerste besoekers vanaf net meer as ’n uur later te ontvang. 

Die markbestuurder, CD van Reenen, sê maklik 6 000 besoekers stroom elke Saterdag hierheen om hul week se lekkernye en ander gebruiks- en geriefsartikels te kom aankoop. Dis egter nie net ’n plek waar jy al jou kosinkopies vir die week kan kom doen nie, “dis by uitstek ’n gesinsmark waar mense saamkuier. Die beste van hierdie vroeëmarkkonsep is dat die res van die dag joune is”.

Die doelwit van die mark is steeds dat dit in die eerste plek ’n platform is vir landbouprodusente om hul produkte direk aan die publiek te verkoop. “Alle boere is altyd op soek na ’n afsetplek waar hulle hul opbrengs kan bemark. Die belangrikheid van markte soos hierdie kan nie genoeg beklemtoon word nie.”

Maar wat maak hierdie mark anders? Waarom was daar die noodsaak om ’n al hoe groter getal stalletjiehouers te akkommodeer, met ’n steeds groeiende besoekerstal wat nie ’n oog knip om een keer per week douvoordag hierheen te kom nie?

CD sê die andersheid lê in die varsheid én uniekheid van die produkte, en hierin speel die bestuurskomitee ’n groot rol: Hulle moet sorg vir verskeidenheid, gehalte en volhoubaarheid. “Ons keur uitstallers wat aansoek doen om ’n eie stalletjie hier op te rig. Behalwe kwaliteitprodukte kyk ons na die aanbod van die mark in sy geheel. Ons stel dus ’n pakket saam wat voorsiening maak vir die hele gesin en gee voorkeur aan dié wat hul produkte self skep of kweek. Besoekers moet hier iets van alles kan kry.” 

Dit sluit nie net varsprodukte in nie, maar talle ander aanbiedinge wat almal, van oud tot jonk, interesseer. Mense kom dus nie net hierheen om aan te koop nie, maar om te besigtig en geniet. Dis allesbehalwe net ’n inkopieplek – dis ook ’n genietplek wat ’n saamkuierkans vir gesinne en vriende bied. Hier kry uitstallers wat uitblink in handvaardighede die geleentheid om hul talente ten toon te stel – onder meer leerwerk, houtwerk en kunsvlyt. Vir kinders is daar vermaak, soos ponieritte en ander pretaktiwiteite wat hulle besig hou.

“Voornemende uitstallers doen aansoek op ons webblad om ’n stalletjie op ’n afgebakende perseel op te rig. Die komitee laat jou dan weet of jou aansoek goedgekeur is al dan nie. Indien dit wel goedgekeur word, wys ons jou watter persele beskikbaar is. Die komitee doen egter ook moeite om navorsing te doen oor produkte wat goed sal inpas hier, maar wat nog nie hier te koop is nie. Nie almal weet van hierdie geleentheid nie – ons nooi dan sulke mense uit om hul unieke ware hierheen te bring.”

Volgens CD is die Boeremark-uitstallers grotendeels permanente huurders. “Die publiek wéét dan wat hulle hier kan verwag; ook waar hulle elke Saterdag hulle voorkeurprodukte kan vind.”

Ad hoc-uitstallings maak die Boeremark interessant en sorg dat dit nooit stagneer nie, sê hy. “Ons nooi uitstallers of aanbieders wat nie permanent hier wil of kan wees nie, ook om deel te neem. Dit hou die mark lewendig.”

Die meeste stalletjiehouers kom van die onmiddellike omgewing, maar daar is ook enkeles wat van ver kom. “Ons kry byvoorbeeld skaap- en beesboere van die Vrystaat, of avokadopeer- en subtropiesevrug-boere van die noorde van die land.”

Die groot getal kuiergaste en kopers wat Saterdag ná Saterdag op die perseel toesak, bied geen logistieke probleem nie. Van voor sonsopkoms kom en gaan hulle, en die ruim parkeerplek word goed gereguleer.

Die groot perseel moet goed onderhou word om aantreklik te bly, sê CD, omdat dit deel is van die koop- en verkoopkrag van so ’n massiewe inisiatief. “Om die grond te onderhou is ’n voltydse taak. Ons werk dwarsdeur die week hier, behalwe op Sondae. Die personeel sny die gras, maak beddings en persele mooi en bly bome aanplant. Ons het al seker so 600 bome geplant sedert ons hierheen getrek het. Die instandhouding word gedoen uit die stalletjie-huurgeld. Wat hiervan oorbly, gaan vir die TLU SA. Dit is geld wat ons dan aanwend om ons lede in vele opsigte te ondersteun, soos byvoorbeeld om te beding vir ander platforms waar hulle hul produkte kan verkoop, vir onderhandelings met die ministerie en vir uitvoere. Ons maak dus seker dat die Boeremark ’n rol speel daarin dat ons hierdie inkomste so wyd moontlik en so produktief moontlik inspan. Só word die volle kringloop voltooi.”

Die Pretoria Boeremark is sélf ’n werkverskaffer, met vier mense wat permanent in diens is om die perseel in stand te hou, en met nagenoeg 20 mense wat elke Saterdag diens doen met take soos veiligheid, orde en die aanwys van parkeerplekke. “Natuurlik neem die stalletjiehouers ook werkers in diens. Dit is personeel wat op hul uitstalpersele werk en vooraf help om produkte voor te berei.”

Die reikwydte van Boeremark-entrepreneurs is wyd, sê CD. “Ek weet van boere wat hul kinders op universiteit hou met die geld wat hulle hier verdien.”

Die bestuurskomitee besef al te goed dat so ’n reuse-projek nooit in isolasie bedryf kan word nie. “Ons het ’n sagte plek vir liefdadigheidsorganisasies wat hier wil uitstal en kom hulle tegemoet. Hier is selfs kerke met uitstalruimtes, en ons het hier en daar ’n ondersteuningstalletjie waar ons mense help om aan die gang te kom. Ons luister na ons hart.”

CD is terdeë bewus daarvan dat al hierdie uitstallers en bemarkers entrepreneurs is wat vir hulself en hul naastes en werkers ’n lewe en inkomste skep. “Vir nuwe entrepreneurs sê ek: As jou produk, jou diens en jou prys reg is, met minstens een van hierdie drie wat die meeste gewig dra, is jou kans op sukses groot. Entrepreneurskap verg tyd … en jy moet bereid wees om al jou tyd te gee. Die ander element van entrepreneurskap is ’n netwerkbenadering … bou ’n netwerk en kry die regte ondersteuning. Die res gebeur vanself.”

Die Pretoria Boeremark is ’n ruimte waar al hierdie elemente ’n rol spel. “Ook een van trots, dankbaarheid en genade,” meen CD.

  • Volg @Pretoria Boeremark op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.pretoriaboeremark.co.za, skryf aan ptaboeremark@tlu.co.za of bel 079 987 1025 of 012 804 2014. Die markadres is Moreletastraat 665, Silverton, Pretoria.
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za