DINK GRÓÓT

Micro Thumbs

Pikante wondergroente bied gekonsentreerde geur en gesondheid

Dit was in die 1980’s dat sjefs van San Francisco die eerste keer groentespruite as garnering en vir ekstra geur in disse begin gebruik het. Twaalf jaar daarna, in 1992, is die term “mikrogroente” die eerste keer hieraan gekoppel. Geleidelik het dit ’n wêreldwye tendens geword … ook hier in Suid-Afrika, toe Rick Hein en Prenasha Naidoo van Alberton in 2002 die potensiaal en waarde van dié klein groenteplantjies besef het. 

Vir tuisgebruik het hulle die konsep op eie werf vervolmaak, maar algaande besef mikrogroente bied ook ander groot geleenthede – daar was ’n gaping in die mark wat gewag het om gevul te word.

Hul maatskappy, MicroThumbs, is gestig en nou, 22 jaar later, bestaan dit uit 42 binnenshuise mikrogroenteplase wat reg oor die land versprei is. Vir Rick en Prenasha het dit ontwikkel tot ’n volskaalse sakeonderneming waarin albei se vaardighede maksimaal benut word – Rick in die boerderypraktyk en Prenasha as finansiële hoof. Sy het nie twee keer gedink voordat sy vier jaar gelede ’n suksesvolle beroep in die korporatiewe wêreld agtergelaat het om MicroThumbs voltyds saam met haar lewensmaat te bedryf nie. 

Rick vertel dat hul stedelike “plaas” bestaan uit ’n erf met ’n fabriek of vervaardigingsaanleg waar daar by die 40 soorte mikrogroente gekweek en verpak word. “Ons het dit eers net vir onsself, vriende en familie gekweek, maar ons onderneming oor ’n tydperk van 20 jaar stadig maar seker opgebou tot waar dit nou is. Die afgelope vier jaar is dit ’n voltydse beroep vir ons albei, en die maatskappy groei steeds.”

Mikrogroente – die opgeskote saailinge van eetbare groente en kruie – is plantjies wat op ’n baie vroeë stadium geoes word, wanneer hulle hier by om en by 5 tot 7 cm hoog en sowat 7 tot 21 dae oud is, afhangende van die variëteit. Die boonste sowat 3 cm van die stingels, met hul blaartjies, word dan afgeknip vir verbruik.

Reeds ’n geruime tyd gelede het kwekers tot die besef gekom dat dit baie meer as net treffende garnering is: Dit word as ’n superkossoort beskou omdat dit so ’n hoë konsentrasie voedingstowwe – vitamiene, minerale en antioksidante – bevat. Dit is omdat die voedsaamheid nog in die klein blaartjies gekonsentreer is en ’n groot verskeidenheid gesondheidsvoordele bied, soos om die immuunstelsel te versterk en infeksie teen te werk. Boonop is dit buitengewoon geurig. Dieetkundiges beskou mikrogroente as ’n kossoort wat in elke holistiese dieet hoort.

“Ek en Rick het altyd daarin belang gestel om ons eie kruie te verbou, om wat ook al nodig is vir ons eie kookkuns self aan plant. Dis waar die idee ontstaan het,” vertel Prenasha. Hul kruienavorsing het hulle op die spoor van mikrogroente gebring. “Dit was toe die volgende stap. Ons het die groente eers binnenshuis gekweek. Om te sien hoe dit groei, het ons geïnspireer om ’n stedelike boerderytjie op die been te bring. Dit was vir ons lekker om ons eie kosproduksie te beheer en dus ook na ons eie gesondheid om te sien. Ons het geleer dat jy mikrogroente in enige toe vertrek in of buite jou huis kan kweek.”

Vir Rick en Prenasha het ’n opwindende idee uiteindelik tot ’n volskaalse maatskappy gegroei, veral toe hulle navorsing begin doen het oor moontlike neweprodukte. Hulle moes ook deurgaans fyn dophou watter geleenthede die mark bied. 

“Die goeie ding is dat jy die klimaat binne hierdie afgeslote ruimte kan beheer. Ons het besef dat die terreinoppervlakte nie belangrik is nie, want jy kan jou ruimte ook vertikaal benut.”

Daar is dus geen verskoning om nié mikrogroente te kweek nie, sê Rick. “Alles gebeur kompak en klein, en jou tydsomset is gemiddeld hier tussen sewe en 14 dae. Jy het dus ’n baie, baie vinniger tydperk waarin jy kan kweek, produkte uitstuur na kliënte en vinniger geld verdien.”

Prenasha sê wat mikrogroente so anders maak as hul volgroeide eweknieë, is dat dit om en by veertig keer voedsamer is. “Om ’n brokkoli-blom as voorbeeld te gebruik … ’n teelepel mikrogroente-brokkolipoeier is gelykstaande aan ’n hele kop van die volwasse groente. Mikrogroente is dus geriefliker, kleiner, kompakter en gesonder. Jy kan dit selfs in jou kombuis kweek. As jy ’n teelepel vol in ’n smoothie of in sop sit, weet jy jy kry sommer alles in wat jy nodig het.”

Onder verbruikers het daar oor die afgelope drie dekades ’n kopskuif plaasgevind toe hulle besef het mikrogroente is meer as net mooi, oulike versierseltjies wat ’n dis aantreklik laat lyk. “Dis meer as net daardie pikante blaartjies wat jou steak versier. Dis ewe smaaklik as die gereg! Dit het verander van garnering en estetika na ’n superkos-keuse.”

Mikrogroente, in poeiervorm, word deesdae ook by byvoorbeeld kat- en hondekos en ander dierevoer gevoeg – selfs in kosmetiekware. 

Hoe meer MicroThumbs gegroei het vanweë die groter vraag in die mark, hoe meer het Rick en Prenasha besef hulle sal ’n tweede kopskuif moet maak … en dit is om ander mense te bemagtig om, onder hul leiding, vir hulself ’n inkomste te genereer. 

Die gevolg was ’n skoolinisiatief, met talle skole landwyd wat intussen betrokke geraak het. “’n Hele aantal skole het, met ons as mentors, mikrogroente begin verbou. In sommige gevalle is dit nou deel van hul kurrikulum of van hul ekstra-kurrikulêre aktiwiteite,” vertel Prenasha. “Aanvanklik leer ons die kinders hoe om mikrogroente te kweek. Hulle plant die saad, versorg die plante en oes dit uiteindelik. Hulle weet egter ook dat hulle ’n mark het vir hul produkte, omdat MicroThumbs die oeste by hulle terugkoop. Ons het dit begin doen met die doel om werk te skep, om kennis oor te dra en mense te wys dat hulle hul eie kos kan kweek. Volhoubare boerdery-inisiatiewe is noodsaaklik.

“Dit is belangrik dat dit van jongs af, al op skoolvlak, by mense ingeskerp word. Ons doelwit is om sulke dorps- of stadsplase in omtrent elke gebied in die land te begin, ’n egte plaas-tot-tafel-model.”

Nog voordele van mikrogroente is dat ingewikkelde en omvattende vervoerplanne nie nodig is nie. Van kweker tot verbruiker kan kraakvars produkte binne ’n relatief kort tydjie by die eindpunt uitkom.

Die spruite van onder meer ertjies, radyse, brokkoli, beet, bronkors, kool, blaarslaai, mosterd, komkommer, uie, knoffel, kohlrabi en sonneblomme is van die gewildste mikrogroente, maar jy kan letterlik met énige tipe eksperimenteer. En dit smaak nét soos die ware Jakob, al eet jy net die blaartjies! Rick en Prenasha se mikrogroente-neweprodukte sluit in pesto, ’n gemengde-groente-poeiermengsel, ertjiespruitpoeier, radysspruitpoeier, sonneblomspruitpoeier, asook plantbakke en saad. 

Dit alles kan aanlyn by MicroThumbs bestel word. 

Dat hul maatskappy goed ontwikkel en op dreef is, is ’n droom wat bewaarheid is. Dis egter nie waar Rick en Prenasha se drome ophou nie – hulle wil die skoolprojek uitbrei en opleidingsentrums op die been bring. “Elke gebied in die land moet so ’n plasie hê, waar ons jong entrepreneurs kan leer om volhoubaar te boer, hoe om hul eie onderneming te begin en te bestuur, en hoe om struikelblokke te oorkom. Ons wil ook graag ons idee na die res van Afrika uitvoer, veral om voedingskemas moontlik te maak,” sê Prenasha.

Rick voel sterk daaroor dat MicroThumbs as ’n erkende, gerekende gesondheidsmaatskappy bekend moet staan. “Dit is ons uiteindelike doel, want ons weet nou watter voedingswaarde die mikrogroente bied.”

Entrepreneurskap verg vasbyt, vertel Prenasha. “Jy gaan struikelblokke kry, maar jou veerkragtigheid moet jou bo-oor help. Wilskrag is nodig, en probleme moet jy as leerervarings sien. As jy in jou passie glo, gáán jy suksesvol wees.”

Die ander geheim is dat jy jou onderneming stappie vir stappie moet laat groei en nie alles gelyk moet doen nie, voel Rick. “Moenie aanvanklik te veel mense aanstel nie. Hoe langer jy jou onderneming klein, maar doeltreffend kan hou, hoe beter. Hoe langer jy op jou eie kan aangaan, sonder beleggings van buite, hoe beter werk dit in die lang termyn. Oor die jare het ons waardevolle lesse geleer.”

Kontakbesonderhede: 

Rick Hein, 027 62 807 2689; rick@microthumbs.co.za

Prenasha Naidoo, 027 72 207 8543; prenasha@microthumbs.co.za

Magaliesstraat, Brackendowns, Alberton.