As jy gedink het ons top-uitvoerprodukte is vrugte en wyn, dink weer, want Suid-Afrika geniet internasionale bekendheid as die derde grootste uitvoerder van snyblomme en loof in Afrika. Om jou ’n idee te gee … net van 2017 tot 2021 het ons blommemark met ’n verstommende 40% gegroei.
Trouens, teen die einde van 2021 het ons meer as 4 200 ton blomme ter waarde van $82 miljoen uitgevoer. Boonop is ons geliefde protea gevestig as ’n kenmerkende nisproduk op die globale blommemark, aangesien dit een van die mees gesogte snyblomme is in ruikers dwarsoor die wêreld, veral in Engeland en Europa.
Anders as wat daar algemeen aanvaar word, kom proteas egter nie net plaaslik voor nie, en hoewel dit nou wel die bekendste is, is die koningsprotea ook nie die enigste spesie nie. Om die waarheid te sê, ons nasionale blom is slegs één van meer as 1 500 spesies wat deel vorm van 73 genera wat wêreldwyd voorkom.
Wat wel waar is, is dat die meeste hiervan net in die Suidelike Halfrond aangetref word en dat 362 spesies van 14 van die protea-genera eksklusief is tot Afrika, met 92% daarvan slegs in die Kaapse Blommestreek.
Hierdie gebied, ook alombekend as die Fynbosstreek, strek vanaf die Sederberge in die Wes-Kaap tot by Grahamstad in die Oos-Kaap. Wanneer ’n mens hierdie feite in aanmerking neem, maak dit natuurlik heeltemal sin dat Suid-Afrika bekend staan as die “Land van Proteas”.
’n Ander wanpersepsie is dat jy net met proteas kan boer indien jy grond in die einste Kaapse blommestreek besit. Nisboere het onlangs ’n draai gemaak by Nico Thuynsma van Madibri in Cullinan, so 30km oos van Pretoria in Gauteng. Hy is een van vele ander proteaboere in ander provinsies.
Nico het al in 1997 met snyblomme begin boer en stelselmatig ook ’n kwekery gevestig wat spesialiseer in fynbosplante, insluitende proteas, en ’n baie unieke versameling van die populêre Erica. Vandag is Madibri ’n volwaardige lid van die Suid-Afrikaanse Kwekeryvereniging vir Inheemse Plante en voorsien hulle snyblomme en fynbosplante aan plaaslike boere, kleinhandelkwekerye en kliënte dwarsoor die wêreld.
Hoe gaan jy egter te werk om met proteas te begin boer? Wel, eerstens is dit belangrik om te weet dat dit nie ’n vinnige geldmaakmetode is nie, aangesien dit so vyf tot ses jaar neem vir proteas om te begin blom vanaf saad of sny. Wanneer jou proteaplante eers begin blom, het dit egter ’n lewensduur van sowat 12 jaar.
Die meeste proteakultivars lewer ook so tussen 10 en 30 blomme per plant per seisoen, en afhangende van die kultivar en plantdigtheid, kan jy so tussen 30 000 en 60 000 blomme per hektaar in ’n enkele seisoen oes.
Indien jy nou ook geïnspireer voel om ’n beter toekoms vir jouself en jou familie te begin bou deur die grond tot jou beskikking te benut, klik gerus hier vir ’n gids oor hoe om suksesvol met proteas te boer, jou mark te vestig en te begin uitvoer.
Jy kan gerus na Nico uitreik, aangesien hy ook konsultasiedienste aan bestaande en voornemende boere lewer. Klik hier vir meer inligting oor hom.