DINK GRÓÓT

Om met donkies te werk, is beslis nie donkiewerk nie!

Teen die hange van die prentjiemooi Magaliesberg in Gauteng is daar ’n plaas wat werklik enig in sy soort is: Donkey Dairy. Die plaas is die verwesenliking van ’n droom van Jesse Christelis en die gewilde Suid-Afrikaanse akteur Zak Hendrikz om ’n seldsame bloedlyn van blouoog-bontdonkies te bewaar wat endemies blyk te wees in Suid-Afrika.

Vandag is Donkey Dairy egter ook bekend vir die verskaffing van die suiwer topgehalte-donkiemelk wat in verskeie winkels dwarsoor ons land beskikbaar is. Donkiemelk is voorts die sleutelbestanddeel in hul ewe unieke natuurlike velsorgreeks. Die idee om donkiemelk en donkiemelkprodukte te produseer, is geïnspireer deur ’n reeks bewese gesondheids- en skoonheidsvoordele.

Donkiemelk is byvoorbeeld die soogdiermelk wat die naaste is aan menslike borsmelk en dus maklik deur die menslike liggaam geabsorbeer kan word. Om hierdie rede is dit ’n uiters gewilde alternatief vir babas wat allergies is vir koeimelk. Dit bevat ook 60% meer vitamien C as koeimelk en is ryk aan ander vitamiene en minerale wat uitstekend is vir die vel en om veroudering teë te werk.

Donkiemelk het boonop anti-inflammatoriese eienskappe en ’n natuurlike antihistamienwerking wat uitstekend is vir allergieë en probleemvelle. Interessant genoeg is niks hiervan eintlik gebaseer op enige nuwe uitvindings nie. Onder andere Cleopatra, koningin van Egipte, het daagliks in donkiemelk gebad om haar legendariese skoonheid te bewaar.

Hippokrates, die vader van moderne medisyne, het ook daarby gesweer as ’n middel vir verskeie vel- en gesondheidstoestande soos asma, longontsteking, ekseem en psoriase. Hoe dit ook al sy, die merkwaardige eienskappe van donkiemelk vir selfgenesing en opknapping van die vel en liggaam is die rede waarom donkiemelk wêreldwyd as “vloeibare goud” beskou word.

Hoewel daar nog heelwat opvoeding gedoen moet word oor die gebruike en voordele van donkiemelk in die plaaslike mark, toon marknavorsing dat daar wel ’n groot internasionale vraag daarna is en sal dit na verwagting aanhou groei, veral omdat dit so soortgelyk is aan menslike melk.  Kyk gerus na hierdie video oor die nuutgevonde belangstelling in donkiemelk, veral sedert COVID-19.

Die kenners by Donkey Dairy sê dit is egter ’n intensiewe proses om donkies te melk, omdat hulle uiters sensitiewe diere is. Om dié rede is hulle veral daarop ingestel om hul donkies met die uiterste liefde en respek te behandel en seker te maak dat daar ’n besonderse vriendskapsband tussen die donkies en die melkers ontwikkel. 

Donkey Dairy het ook stelselmatig begin om die besigheidsgeleenthede in allerhande ander elemente van hul boerdery raak te sien. Nou het hulle dus nie net Suid-Afrika se enigste donkiemelkery nie, maar hul plaas is ook die tuiste van sommige van die skaarsste plaasdiere in ons land. Dit sluit in dwergbokke, miniatuurvarke, dwergkonyne, miniatuurbeeste, miniatuurperde, syagtige hoenders en Suri-alpakkas.

Verder kan ’n mens uitstappies bespreek vir interaksie met hierdie diertjies in hul natuurlike omgewing en om die vars plaaslug en buitelewe te geniet. Jy kan ook produkte by hul plaaswinkel koop of ’n fotosessie in egte plaasstyl, aangebied deur ’n bekende professionele fotograaf, bespreek. Indien jou nuuskierigheid teen dié tyd erg geprikkel is, klik hier om meer te lees oor Donkey Dairy

Volg @Nisboere op Facebook om op hoogte te bly van allerhande eersteklas idees van ander nisboere in Suid-Afrika … en, natuurlik, om jou eie storie met ons te deel.