DINK GRÓÓT

Morgenzon Trust Farm: Die maksimale benutting van elke sentimeter grond

Teen die hange van een van die mooiste berge in die Wes-Kaap, naby die groen, vrugbare Bankhoekvallei buite Stellenbosch, het die Le Granges hul plasie van 40 hektaar omskep in ’n onderneming wat ’n ewe vrugbare en vooruitstrewende leefstyl bied aan dié gesin én hul plaaswerkers.

Morgenzon Trust Farm gaan al oor sowat vier dekades van krag tot krag, maar toe hul plaasstal met die gepaste naam Banhoek enkele jare gelede gevestig is, het dit nuwe energie geblaas in ’n plaas wat reeds op die wenpad was.

Morgenzon, geleë digby die noordelike helling van Botmaskop in die Helshoogtepas, dateer uit die 1800’s, met die hooffokus pruime en avokado’s. Helshoogte huisves van die Wes-Kaap se mooiste, bes bewerkte en mees gesogte plase, waar onder meer topwyne geproduseer word. Die Banhoekvallei is so een uur van Kaapstad geleë, met die Helshoogtepas as verbindingspad tussen Stellenbosch en Kylemore, Pniel en Franschhoek.

Dis hier waar die eienaar, André le Grange, en sy gesin nie net ’n lushof binne ’n paradys geskep het nie, maar ook ’n uiters suksesvolle en volhoubare landbousaak opgebou het op goed gedreineerde grond wat ideaal is vir hul steenvrugte en avokado’s. Die plaas, met sy sowat 35 hektaar pruime, bied werkgeleenthede vir nagenoeg 50 vaste personeellede en 60 seisoenswerkers.

Hoewel die pruimboorde oorheers, is daar is ook ’n hele paar peerboorde en 15 hektaar inheemse blomme, oftewel fynbos. Ander produkte sluit in pampoen en botterskorsie. Alles word op Morgenzon self verpak en van daar na markte versend. Lukas le Grange, seun van die eienaar, vertel dat 90% van hul pruimoes vir die buitelandse mark bestem is.

“My oupa en ouma het Morgenzon destyds gekoop. Ouma was, snaaks genoeg, die eintlike boer, terwyl Oupa ’n veeartsenypraktyk in Kaapstad bedryf het. Hulle het eers die buurplaas besit, en toe Morgenzon in die mark kom, dit gekoop. Dit was toe ’n gemengde boerdery. Daarna het my pa die boerdery oorgeneem en hoofsaaklik op pruime en steenvrugte begin fokus. Hy het ook die fynbos aangeplant, en ons het toe die avokado’s gevestig. Ek was bevoorreg om op so ’n mooi plek groot te word.”

Dat elke geslag op hierdie pragplaas sy eie idees vir die opbou en ontwikkeling van dié eiendom het, is gewis … hoewel altyd in pas met dit wat die grond vra én bied. Dis waar Lukas se vrou, Marsha-Ann, ’n regsgeleerde, in die prentjie kom. Ná die afhandeling van haar studie wou sy aansoek doen vir werk in ’n regspraktyk, maar het ná ’n gesprek met Lukas dié planne op die lange baan geskuif. “Ons het toe besef dat ons albei dieselfde droom gehad het … en dit is om ’n plaasstal te begin, min wetend dat my skoonpa dieselfde ideaal gekoester het.”

Lukas en Marsha-Ann het daad by die woord gevoeg en hul visier gestel op ’n geboutjie op die plaas wat al langer as 20 jaar in onbruik was. ’n Sakeplan het gevolg, met ’n opname van alles wat die plaas en sy mense kan bied. Die gevolg was die vestiging van die Banhoek Farmstall & Café wat deesdae vir ’n hele paar mense in die omgewing werk verskaf – en daarmee saam ’n afsetpunt bied vir produkte van Morgenzon sowel as vir plase in die nabyheid.

Pruime was een van die eerste produkte wat hier te koop aangebied is. Volgens Marsha-Ann het hulle egter gou besef dat die plaasstal hom uitstekend leen tot veel meer as net vars plaasprodukte. Allerhande lekkernye en snuisterye, en veral eetgoed vir toeriste wat die mooi omgewing kom geniet, was sommer gou op die rakke. “Dit was vir ons ’n groot stap vorentoe om te besef dat ons so ’n groot verskeidenheid hier kan aanbied,” sê sy.

“Een van die redes waarom ons so ’n plaasstal begin het, is juis om as verkooppunt vir die res van die omgewing se produkte te dien. Alles wat ons hier aanhou, kom uit die omgewing of van die mense van die gebied.”

Een van Banhoek Farmstall & Café se grootste trekpleisters is die heerlike koffie wat jy sommer van ’n afstand af kan ruik en wat jou by die voordeur, in die vorm van ’n koffiehoekie, verwelkom. “Die oomblik dat jy by die deur instap, raak jy bewus van hierdie wonderlike geur. Kom probeer gerus daarmee saam ons heerlike roosterkoeke. Die Karoolam-roosterkoek is die heel gewildste van almal. Dan het ons ons eie heuning, olyfolie, fyngebak en die lekkerste konfyte soos makataan, braam en pruim. Ek belowe jou: Hier sál iets jou oog vang.” 

Die varsprodukte van die omgewing bly ’n wenner, “want ons doen moeite met ons ongelooflike kwaliteit. Hier is soveel verskillende dinge om te geniet!”

Lukas is daarop gesteld dat daar voortdurend langtermynplanne vir Morgenzon gemaak word. “In enige boerdery is dit noodsaaklik om volhoubaar te boer, want jy boer nie net vir jouself, vir jóú leeftyd nie, maar ook vir die volgende generasie en die een daarna. Ek is bevoorreg genoeg om ’n pa te hê wat ‘groen’ dink … hy is baie lief vir die natuur en gee om vir bewaring. Dit het hy na my oorgedra. Wat ek hiermee bedoel, is dat hy ons geleer het om nie net uit die natuur en die grond te put nie, maar om terug te gee. My pa sê altyd jy moet terugsit wat jy uithaal.”

Een van Morgenzon se waterwys boerderymetodes is die aanplant van dekgewasse in die boorde wat die grond beskerm om te keer dat die grond te vinnig uitdroog. Die Le Granges maak ook seker dat daar genoeg windbreekbome aangeplant is om hul vrugtebome teen die Kaapse winde te beskerm. “Ons het die uitheemse windbreekbome verwyder en vervang met inheemses wat in ons omgewing voorkom. Ons probeer ook sover moontlik organiese materiaal in die grond terugsit. Die deklaag in die boorde – gevorm deur die opgekapte uitheemse bome – saam met ekologiese sones in die landerye, help met waterbesparing en die behoud van mikroörganismes om die grond gesond te hou. Die bolaag sorg dat die grondtemperatuur behou word, dit verryk die grond en verbeter die grond-biodiversiteit.” Op Morgenzon is die beginsel dat gesonde grond gesonde vrugte beteken.

Die landbou en risiko’s loop hand aan hand, sê Lukas. “Daar is dié risiko’s waaroor jy beheer het, en ander waaroor jy geen beheer het nie. Alles hang af van hoe jy dit bestuur.”

Interaksie met die natuur, veral in hierdie buitengewoon vrugbare en mooi omgewing, is van die grootste belang. “Ons het byvoorbeeld ’n plan gemaak oor hoe ons die ystervarke uit die botterskorsielanderye moet hou, sonder om die diere te benadeel.”

Terwyl Morgenzon Trust Farm op die oog af lyk na ’n plaas wat reeds maksimaal ontwikkel is en benut word, erken Lukas en Marsha-Ann dat hulle blý droom oor verandering, vernuwing en vooruitgang. “My vrou is selfs ’n nóg groter dromer as ek. Ons sit dikwels by ’n kampvuur en gesels oor alles wat ons nog wil bereik.” Een van hierdie drome wat bewaarheid is, is ’n wandel-, draf- en fietsrypad op ’n hoogte van 362 meter bo seespieël, teen die Botmaskophelling.

Suid-Afrika is ’n land met ontsettend baie geleenthede, sê die jong egpaar. Volgens Lukas is passie, tyd en skouer-aan-die-wiel die belangrikste faktore. “As jy bereid is om tyd en harde werk in ’n projek te sit, kom daar geleenthede op jou pad en is jy verseker van sukses.”

  • Volg @Bankhoek Farm Stall & Café op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.banhoekconservancy.org/morgenzon-farm, tel. 021 882 1632; of skryf aan banhoekfarmcafe@gmail.com of bel 082 371 2286 
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za