Saamstaan en selfdoen.
Dís die beginsels waarop die Wardle-gesin van die plaas Jesray in die distrik Lilyfontein naby Oos-Londen hul boerderypraktyk bou.
Sedert hulle dié plasie van net enkele hektaar gekoop het, het Iain Wardle en sy vrou, Lisa, eers ’n gemengde boerdery gevestig en dit die afgelope jare uitgebrei met sonneblomme en veral makadamianeutbome.
Dis die makadamia-aanplantings wat drie verdere beginsels van hulle verg: visie, beplanning en geduld. Terwyl die sonneblomme redelik vinnig van aanplanting tot volle blom gevorder het, het hulle geweet hul paar duisend makadamiabome gaan nie ’n kits-oes lewer nie. Sedert hulle in 2022 die eerste boompies in die grond gesit het, weet die gesin daar lê sowat sewe jaar voor voordat dit die eerste opbrengs gaan lewer.
Die afwagting hiervoor is die moeite werd, stem Iain en Lisa saam, want hulle het hul huiswerk deeglik gedoen – van die grondvoorbereiding tot die aanplantingsmetode, van die versorging van die jong boompies tot die hantering van die boorde.
Die gogga vir boer, en dit op ’n eie plasie, het die egpaar hier rondom 2008 gebyt, toe hulle besef het die stadslewe begin hulle verveel. “Boonop was ons moeg daarvoor dat mense kla oor die geblaf van ons Duitse Herdershonde.”
Die Wardles is ook professionele hondeafrigters, met die fokus op dié besonderse ras.
Tog het hulle besef daar móét iets meer wees vir twee mense wat versot is op die plaaslewe – op plante, bome en die buitelug, ’n leefstyl wat al sedert hul kinderjare in hul bloed is.
“Ons het besef dat ons baie graag weer die ervarings van ons kindertyd op die plaas wou herleef. Die oomblik toe ons dít finaal besluit het, het ons wyd en syd na die regte stukkie grond teen die regte prys, vir óns doeleindes, begin soek … totdat ons op hierdie pragtige plasie in die Lilyfontein-omgewing afgekom het. Die res is geskiedenis!” vertel Lisa.
Iain en Lisa kon uiteindelik hul passie ten volle begin uitleef; eers met gemengde boerdery, en later – nadat hulle deeglik huiswerk gedoen het – ook met sonneblomme en makadamiabome.
“Een van die redes waarom ons op makadamias besluit het, is omdat hierdie bome eintlik na hulself omsien nadat dit aangeplant is,” sê sy. “Ons het nie die kommer van lewende hawe of gewasse soos groente wat tydrowend is nie. Vir ons is die hardste werk om die bome te plant. Die aanvanklike inset verg al jou aandag – daarna sien ons net toe dat die omstandighede waarbinne hulle groei, gunstig bly.”
Lisa en Iain het nog nie uit hul vorige beroepe in die stad bedank nie. “Die manier waarop ons ons boerdery aanpak, maak dit vir ons moontlik om saans terug te sit, terwyl ons weet ons geniet die beste van twee wêrelde,” vertel Iain.
“Ons brei uit teen so een blok per keer, en elke blok bestaan uit 800 bome.” Daar is tans vier sulke blokke op Jesray Farm. “Dis net aanvanklik taamlik arbeidsintensief, want ons doen alles self. Lisa berei die jong boompies voor, en ons dogtertjies help ons met die natleiwerk. So ’n plantproses duur ongeveer ’n week. Die hele gesin spring in om te help.
“Grondvoorbereiding is alles,” meen Iain, “maar sodra die bome gaan begin dra, gaan alles verander. Die bome is nou gemiddeld so drie jaar oud. Ons laat toe dat daar baie grassoorte tussen die bome groei, want ons wil ons boerdery so na as moontlik aan die natuur hou. Ons grootste uitdaging is die wind, omdat ons so naby die kus woon, maar ons beskerm die bome deur windbrekers aan te plant.”
Suid-Afrika word gereken as een van die wêreld se grootste uitvoerders van hierdie besonderse neut en lewer sowat 25% van die wêreldproduksie.
Die gesin sien uit na hul eerste neut-oes oor so vier jaar, want dis algemeen bekend dat makadamias die duurste van alle neute is weens die langsame groeiproses. ’n Volwasse boom kan tot 20 meter hoog word, maar lewer die beste opbrengs op ’n hoogte van so 6,5 meter. Terugsnoeiwerk is dus noodsaaklik om sonlig in te laat. Voorts groei die bome die beste in ’n subtropiese klimaat, wat die Oos-Londen-omgewing ideaal maak.
Dat die Wardles ’n gewas soos makadamias gekies het, dui vir Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by Eerste Nasionale Bank (FNB), op langtermynbeplanning en ’n positiewe uitkyk op die toekoms. “Ek het self al geboer, en ek sien nou watter diep spore ons nisboere in die mark trap. Dis ook interessant om te sien hoeveel boere daar is wat terugkeer na die plaaslewe nadat hulle eers in ’n ander beroep gestaan het.”
Twee benaderings van die Wardles is vir hom positief: Hulle het hul huiswerk gedoen, is nie oorhaastig nie, en besef dis nie nodig om ’n groot boer te wees om sukses te behaal nie. “’n Mens kan ewe suksesvol wees op ’n klein skaal. Alles hang af van hoe jy jou hulpbronne gebruik en watter markte jy bedien.
“In my bedryf is dit belangrik om ’n bank vir almal te wees. Ons sluit nie een segment uit ten koste van ’n ander een nie. Ons het finansieringsprodukte ontwerp vir elke spesifieke segment in die bedryf. Voorheen het ons hoofsaaklik gefokus op die verskaffing van sekuriteit voordat ons lenings toegeken het. Vir banke was grond die begin en einde, maar deesdae fokus ons meer op die boer en sy potensiaal. Het hy die vermoë om dit te implementeer wat hy sê hy gaan doen? Met ander woorde … hoe lyk sy besigheidsplan? As ons krediet aan jou verskaf, moet ons aan bepaalde bankwette voldoen. Ons staan onder die regulasies van die Reserwebank, want die bankwese is ’n uiters gereguleerde omgewing. Ons kyk na die lener se terugbetaalvermoë – ons neem dus ook sy kontantvloei in ag en maak seker dat sy omstandighede só is dat hy sy verpligtinge kan nakom. Ons wil weet of hy ’n krisis sou kon hanteer … rampe soos droogtes of vloede. Ons let op sy finansiële geskiedenis. Banke is geneë om met nuwe ontwikkelings te help – as boere dus ’n goeie sakeplan kan voorlê, help dit baie. Ons kyk positief na boere wat weet waar hul markte is. Ons neem die potensiaal van ’n boerdery deeglik in ag.”
Dawie sê die baie negatiewe koerantberigte oor Suid-Afrika se landbou-omgewing skets nie die volledige prentjie nie. “Inteendeel, ons is baie positief oor ons land se landbou. Sowat 34% van ons besigheidsboek is landbougerig. Dis ’n bedryf wat dus vir ons as bank van die grootste belang is. Ons verstaan die landbou-omgewing, dat dit seisoenaal is en dat dit soms op sekere gebiede beter gaan as op ander. Dis hoe ons ook na kredietverskaffing kyk. Terselfdertyd weet die banke hoe belangrik die landbou is, want dis ’n bedryf wat kos voorsien. Mense moet eet. Die landbou raak almal; elke gemeenskap. Dis dus vir ons belangrik om juis die landbousektor op te lig en sy ekonomie aan te wakker, of dit nou vir ’n nisboer of ’n megaboer is. Ons sal altyd in die landbou bly belê. Ons land sit met die wonderlikste boere.”
Die Wardles is heeltemal bewus daarvan dat die tipe boerdery wat hulle gekies het, nie ’n kitsproses is nie. “Tyd is alles. Ek dink dis ons grootste leerkurwe, om nie te verwag dat alles vinnig moet gebeur nie,” sê Iain. “Ons volg ’n langtermynbenadering. Dis ook ons raad aan nuwelingboere. Die landbou is ’n bevredigende bedryf, maar moenie verwag dat dinge oornag gaan gebeur nie. Diversifiseer as jy kan, hou jou medeboere dop, vra hul raad en maak staat op hul ervaring. Dit keer dat jy tyd en geld mors.”
En Lisa se raad is: “As jy van iets kan droom, kan jy dit doen!”
- Volg @Jezray Farm op sosialemedia. Vir meer inligting, bel die Wardles by 082 785 8740 of skryf aan jesrayfarmEL@gmail.com
- Nader Makadamias Suid-Afrika by SAMAC, www.samac.org.za, of bel 012 001 4107; e-pos office@samac.org.za
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za