Sê dit met koffie. Verstewig vriendskappe met koffie. Verwelkom gaste met die aroma van koffie.
Ons kan dikwels verhoudings, gevoelens, transaksies en ooreenkomste terugvoer na dié uitnodiging: “Kan ek vir jou koffie koop?”
Dit is die beginsel waarop Beaver Creek Coffee Estate in KwaZulu-Natal gebou is – mense se liefde vir ’n lekker koppie, saam met die gerusstellende geur wat stomende koffie jou bied vir ’n ervaring van behaaglikheid.
Op een voorwaarde: Dit moet kwaliteit wees.
Op die Cummings-gesin se plaas is dit inderdaad dié beginsel wat ononderhandelbaar is. Van bessie tot beker word daar nie kortpaaie gevolg met die skep van ’n produk wat jou altyd na die plaas sal teruglok of jou oorreed om weer en weer dié handelsmerk aan te skaf nie. Dié landgoed, naby Port Edward, is die suidelikste koffieplantasie in die land. Net soos “Wyn van Oorsprong” in die wynbedryf ’n handelsmerk kwalifiseer as ’n produk uit ’n bepaalde streek, beteken Beaver Creek se “Koffie van Oorsprong” dat dit van ’n enkele landgoed kom en nie ’n koffieversnit is met koffies van verskillende oorspronge nie.
Dylan Cummings, een van die eienaars, meen die produksie van goeie koffie is vergelykbaar met die produksie van goeie wyn … dis ’n proses wat vra vir sorgsaamheid en tydsaamheid wat net deur ervaring en herhaalde proe-sessies vervolmaak word.
“Tyd” is beslis ’n faktor in Beaver Creek se koffievariëteite, want dis nou die derde geslag van die familie wat in hierdie landgoed se koffieproduksie belê. Alles het in 1984 begin toe Dylan se pa en oupa besluit het om die plaas se piesangboerdery vir koffieboerdery te verruil. “Die besluit om na koffie oor te skakel was my pa s’n.”
Dit het natuurlik eers ná deeglike navorsing oor grondgehalte, temperatuur en klimaatsomstandighede gebeur. Die gevolgtrekking waartoe hulle gekom het, was dat Suid-Afrika onderskat word wat sy potensiaal vir koffieverbouing betref.
Dit was in ’n tyd toe die meeste Suid-Afrikaners kitskoffie gedrink het. “My pa was egter ’n liefhebber van filterkoffie en hy het besluit om koffieverbouing te probeer. Dit was ook in ’n tyd toe koffieproduksie in Suid-Afrika begin posvat het, veral aan die suid- en noordkus van KwaZulu-Natal.”
Dis ’n skewe persepsie dat die beste koffies ter wêreld hoofsaaklik gekoppel word aan lande soos Brasilië, Colombië, Peru en Ethiopië. Suid-Afrika is ewe geskik om naam te maak met kwaliteitkoffie, nasionaal en internasionaal, meen Dylan.
Daar is met vier bome begin, wat geleidelik na ’n paar hektaar vermeerder het. Die opbrengs en gehalte was uitstekend en al hoe meer bome is aangeplant. Die mark vir koffie is deeglik ontgin, en teen 1998 was 14 hektaar van die plaas onder koffiebome. Vandag spog Beaver Creek met nagenoeg 60 000. Dylan en sy broer het, toe hulle ouer geword het, begin saamboer. “My pa én my ma is nog steeds baie betrokke. Ons kan vandag my pa ’n koffiemeester noem.”
Elkeen op die plaas het ’n afdeling waarvoor hy sorg: plantasies, fabriek, verkope en aanlynverkope. In die byna 40 jaar van boer en handel dryf, het die personeel tot 30 gegroei – ’n werksmag vir die boorde, die fabriek en in die Estate-restaurant (oop van 8 vm tot 4 nm) wat begin is. Dis juis hier waar die ware karakter van Beaver Creek se Arabica en Robusta getoets kan word, onder die handelsmerke Beaver Creek en RedBerry.
Die vier produkte wat onder die Beaver Creek-handelsmerk geproduseer word, is Houseblend, Transkei Gold, Ed’s Special Blend – wat deur Dylan se pa ontwikkel is – en Espresso Blend. “RedBerry is ons handelsmerk wat boere verteenwoordig en 20 jaar gelede gevestig is. Vir ons verteenwoordig dit die tipiese koffie wat in die plaaslike mark gewild is. Dit word byvoorbeeld ’n geruime tyd al aan Mugg & Bean verskaf.”
Dylan sê selfs Suid-Afrikaners is nie altyd daarvan bewus dat hul land ’n presteerder op die gebied van koffieverbouing is nie. “So vroeg as die 1870’s het Suid-Afrika al hiermee begin, veral in die omgewing van Durban, waar daar ook suikerriet- en teeplantasies is. Suid-Afrika is in alle opsigte geskik hiervoor. Ons het onlangs ’n klimaatsgeskiktheidstudie gedoen en sowat 750 000 hektaar geïdentifiseer wat geskik is vir aanplantings. Baie van hierdie grond is op die platteland waar daar ’n massiewe geleentheid bestaan vir ontwikkeling. Beaver Creek is tans met sowat 50 koffieprodusente in verbinding, en baie van hulle boer op klein skaal. Ons het dus hierdie reusegeleentheid in ons land vir koffieproduksie. Boonop bied dit hoëwaardeoeste.”
Die sakemodel wat die Cummings-gesin tans besig is om te ontwikkel fokus op die plaashekprys. “Ons weet dít is wat koffieverbouing in Suid-Afrika kan dryf,” volgens Dylan. Met “plaashekprys” bedoel hy die markwaarde van ’n produk minus oorhoofse kostes soos vervoer en bemarking. “Die plaashekprys is die faktor wat koffieverbouing in Suid-Afrika werklik kan dryf. Groot- sowel as kleinskaalse koffiekwekers kan seker wees van groot geleenthede op hierdie gebied.”
Volgens hom het jare se leerproses, met die ontwikkeling van ’n winsgewende model, Beaver Creek in die unieke posisie geplaas van ’n ten volle vertikaal geïntegreerde onderneming, een wat elke stap van sy produk se afset hanteer, vanaf die kweek tot by die verwerking, verpakking en bemarking daarvan.
“Dit is so dat dit nogal uitdagend kan wees vir boere om by koffieboerdery betrokke te raak. Dit is ’n uiters mededingende bedryf. Dit plaashekprys is dus redelik laag, weens hierdie mededinging, maar Beaver Creek kan hom daarop roem dat hy hom daarvoor bearbei om ’n stewige grondslag vir koffiekwekers te lê. Dis waarom ons daar is vir agronomiese ondersteuning, advies, toegang tot plantmateriaal, sowel as hulp met verwerking en marktoegang. Ons speel dus ’n rol om ander boere by te staan wat betref gapings in die waardeketting. Dit maak dit vir sulke nuwe boere moontlik om die landbouaspek hul prioriteit te maak.”
Vir hierdie suksesvolle onderneming is een van sy belangrikste pluspunte sy geloof in die handelsmerk wat hy oor amper vier dekades gevestig het.
Gepaardgaande innoverende idees van die gesin is die maandelikse Beaver Creek-koffieklub, in navolging van die gewilde Wyn van die Maand-idee. “In die meer onlangse verlede het ons ’n 100% Suid-Afrikaanse koffie onder die RedBerry-handelsmerk beskikbaar gestel wat aan die vida e caffè-groep verskaf word, ’n seisoenale promosie wat voorlopig tot einde van die jaar geld – gehaltekoffie op sy beste. Beaver Creek bied ook daagliks om 12 nm toere van die plaas en plantasies, met volledige inligting vir koffieliefhebbers oor die kweek-, produksie- en proeproses.
“Die idee bestaan dat, om op hierdie gebied suksesvol te wees, jy ’n afficionado moet wees. In die geval van koffie is die enigste voorwaarde dat dit ’n gehalteproduk moet wees. Wat die smaak betref, soek ons na elemente van soetheid, suurheid, volume en geur, so ook die aroma daarvan as droë produk. Die idee agter goeie koffie is dat hierdie faktore in balans moet wees. Eintlik is dit baie eenvoudig – as dit goed smaak, is dit gehalte.”
Suid-Afrika moet, op koffiegebied, sy beeld as mindere rolspeler afskud, “want ons glo dat ons eintlik ’n gedugte rolspeler in hierdie bedryf wêreldwyd kan word. Hier word dit dalk nog as ’n nislandbouproduk beskou, maar wat nou nodig is, is ’n groot getal niskoffieboere wat saamwerk om kwaliteitprodukte op die mark te plaas.”
Die volgende, uiters belangrike, aspek in hierdie waardeketting is dat die Suid-Afrikaanse verbruiker sy eie land se produkte ondersteun. Want waar verskaffer en verbruiker saamwerk, kan ’n landboubedryf voorspoedig groei.
Beaver Creek Coffee Estate
Besoek beavercreek.co.za
Tel. 039 311 2315/47 of 082 372 7031of info@beavercreek.co.za vir meer inligting of om ’n toer van die plaas te bespreek.
Volg @Beaver Creek Coffee op Facebook en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.