DINK GRÓÓT

Joubertina Perskeplaas

Van ’n uitskotlappie tot ’n perskeparadys

Nico Olivier van Joubertina maak geen geheim daarvan nie dat sy grond sy rykdom is. Hy laat jou egter dadelik verstaan – nie “rykdom” wat grootte betref nie, maar ten opsigte van die kwaliteitprodukte wat sy lappie jaar ná jaar lewer. Veral ook omdat hy hom daar kan uitleef en geniet wat die aarde hom bied.

Die opbrengs wat dié deeltydse perskeboer uit sy plasie put, is allesbehalwe net ’n inkomste, maar ook bevrediging, geluk en ’n toekomsvisie … en dit alles uit uitskotgrond wat niemand wou hê nie.

Landbou was nie van jongs af vir hom toeganklik nie, “maar dit was nog altyd in my bloed”, vertel hy.

In die tien jaar sedert Nico en sy vrou, Wilma, met perskes begin boer het, het ’n droom vir hulle waar geword. Hulle het dit van niks af nie opgebou tot ’n lonende onderneming, omdat hulle berekend en versigtig, treetjie vir treetjie, te werk gaan. Aan waagmoed ontbreek dit hulle nie. Oorhaastigheid bly egter ’n taboe.

“Ek het as dieselwerktuigkundige gekwalifiseer en in 1981 as vakleerling begin werk. My passie vir boerdery en masjinerie was dus altyd deel van my lewe. Ek was toe gelukkig genoeg om ’n stukkie veld te erf.”

Dié erfgrond, eintlik maar net ’n stukkie veld, was die begin van groot veranderinge in die Oliviers se lewe. “Ek het die geleentheid aangegryp en deeltyds begin boer.”

Soos sy boerdery vorm aangeneem het, het Nico se toekomsplanne daarmee saamgegroei. “Ek koop toe die aangrensende grond teen ’n billike prys om my eie ’n bietjie groter te maak.”

Die volgende groot omwenteling in hul lewe was op die horison – die egpaar het besluit om hul dorpshuis te verkoop en vir water op hul plasie te boor. Hulle het geweet dis ’n waagstuk, maar geloof en ’n vertroue in hul oordeel het hulle laat deurdruk. “Op 109 meter het die boorman dit duidelik aan my gestel dat hier nie water is nie.”

Desondanks het Nico hom laat voortgaan, en nie lank daarna nie het ’n straal uit die grond gespuit, “goeie water”, vertel hy met ’n breë glimlag. “Dit was die antwoord op ons gebede. Ek en my vrou het meer gekry as wat ons verwag het. Dit was vir ons ’n antwoord. Ons het geweet sonder water is die toekoms onvolhoubaar. Water het ons laat besef ons kán ons drome begin uitleef.”

Die volgende stap was die aanplant van bome. Joubertina is geleë in die hart van die Langkloof, een van die bekendste streke in Suid-Afrika vir die verbouing van appels, pere en ander sagtevrugte. Die klimaat is dus nommerpas en Nico het boonop besef hy word omring deur die kundigheid van ander boere.

“In 2015 begin ons toe bome plant. Eintlik het ek die klein boompies bestel vir 2016, maar die kweker laat weet my toe daar is ’n groot kansellasie van 2 200 bome.” Nico moes op sy voete dink, want in daardie stadium het hy nog glad nie sy grond voorberei nie. Weer eens was die geluk aan sy kant. “In 2015 het ons baie goeie reën gehad. Ons kon toe dadelik begin woel en grondvoorbereiding doen.” Die reën was nét betyds, want 2016 was ’n besonder droë jaar. “Ons het op die regte tyd begin plant.”

Een ding wat Nico benadruk, is dat sagtevrugte nie “maklik” is nie. “Jy moet ’n perskeboom kén! Hy kan baie maklik siek word. Jy moet hom dus baie goed versorg.” Nie dat hierdie nuwelingboer al die kennis in pag gehad het nie. Hy het wel die omgewing goed geken, “maar toe ek begin boer het, het ek basies niks van perskes geweet nie”.

Weer eens moes Nico sy gesonde verstand inspan. Hy het hom na die voor die hand liggendste hulpmiddel gewend, naamlik sy bure. “Medeboere het my nog die hele tyd gehelp. Ek noem hulle my mentors. Hoewel hulle jonger is as ek, het hulle baie meer ondervinding. Dit is hoe ek my probleme oorkom het. Deur te vra en deur staat te maak op die kundigheid en ervaring van ander.” Treetjie vir treetjie het Nico op sy voete gekom en geleidelik ’n sukses begin maak.

Vandag glo hy dat hy eintlik altyd bestem was om ’n landbouer te wees. “Boerdery is in my bloed. Net soos wat ’n ambagsman gebore word, word ’n boer gebore.”

Die belangrikste is senuwees van staal en die besef dat jy met baie veranderlikes te doen het. “Jy is aan die natuur en elemente uitgelewer. Daar is nie ’n dak oor jou plaas nie. As daar hael kom, kom daar hael. As daar droogte kom, kom daar droogte. Boerdery bied geen waarborge nie. Maar dit bly lekker. Daar is niks méér bevredigend nie as om jong bome te plant en oor drie jaar te sien hoe hulle dra. As ’n lammetjie gebore word, sien jy oor nege maande dat dié skaap die potensiaal het om vir jou tweelinge te gee. Om so na aan die natuur te leef, is wat die landbou so bevredigend maak, te midde van hoë risiko’s.”

Nico se boerderyplanne staan nie stil nie. Sy beleid is: Dink vooruit, beplan, brei uit.

“Ek het reeds ’n moontlike plek op die plaas geïdentifiseer vir ’n tweede boorgat. Die grond is geseën met goeie water; ek het nou weer toetse laat doen. Die uitslag toon dat nog ’n sterk boorgat, met silwerskoon water, hier moontlik is. Die waterwyser sê dit kan moontlik my sterkste een wees.”

Sy planne is reeds agtermekaar vir wanneer die tweede waterbron eers werklikheid word. “Ek het genoeg grond waarop ek graag pere wil plant, want ek wil nie net by steenvrugte bly nie. Dit is die ideale peergrond, met so ’n bietjie klei in, nogal swarerige grond.”

Vir die Oliviers is daar niks lekkerder nie as om te sien hulle boer vorentoe. “Ons het vanjaar nog ’n hektaar perskes bygeplant. Dis noodsaaklik om gereeld jong bome in die grond te sit.”

Dit alles doen hulle met een vaste werker wat saam met sy huisgesin op die plaas woon, en 24 seisoenale werkers.

Nico herinner jou daaraan dat landbou-insetkostes nie altyd speletjies is nie. “Uitgawes bly maar ’n kwessie.” Daarom moet begroting en funksionele besteding prioriteit wees. “Ons verkoop plaaslik, soos aan vrugtesmouse, maar markuitbreiding in die toekoms is nie uitgesluit nie.”

Hy is openlik daaroor dat sy boerdery ook ’n geloofsaak is. “Dis wat my dra, saam met goeie navorsing oor jou produk en oor jou mark.” Jy moet aan die voorpunt bly, is sy benadering. “Dit help nie jy het die mooiste en die beste produk op die mark en jy het nie ’n aanvraag daarvoor nie.”

Iets wat soms in die landbou onderskat word, is die waarde van mentorskap, sê Nico. “Goeie mentors kan voorkom dat jy onnodige skoolgeld betaal.”

Kophou is belangrik, moed hou selfs belangriker. “Jy moet nooit mismoedig word nie. Jy wíl soms, dis mos menslik; maar as jy jou droom leef, kyk jy altyd vorentoe.”

Die wonder van die Suid-Afrikaanse landboubedryf is die talle kanse wat dit bied, sê Nico. “Daar is eenvoudig altyd geleenthede. Ons moet veral fokus op nisgeleenthede en werkskepping – dus, om lewens te verander. Behalwe boerdery self, bied die landbou soveel kanse vir verwante ondernemings – dis amper ondenkbaar baie. Dink aan meganika, landbou-chemie, verpakkingsmateriaal, pakhuise.” Die landbou-entoesias hoef dus nie, soos hy, ’n eie stuk grond te hê om sy liefde vir die grond en produkte uit die grond uit te leef nie. “Ons kan almal, volgens eie belangstelling, ’n aandeel kry in ’n bedryf wat ontsettend belangrik vir die land is.” 

  • Volg @Nico Olivier op Facebook. 
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za