Hier is ’n interessante feit: Akwakultuur, of akwaboerdery, wat die teel, grootmaak en oes van vis en skulpvis, asook plante, alge en ander lewende organismes behels, is tans die vinnigste groeiende voedselproduserende sektor ter wêreld.
Alhoewel dit ’n relatief klein deel van dié akwakultuur vorm, is perlemoen, wat ook algemeen as “seeslakke” bekend staan, een van die mees gesogte en duurste seekoslekkernye; in so ’n mate dat perlemoenboere in Suid-Afrika tans tot R10 000/kg daarvoor verdien, afhangende van die grootte van die perlemoen.
Werner Piek van Abagold verduidelik dat dit egter ’n tydsame proses is wat eers oor die langtermyn vrugte begin afwerp. Boonop verg dit hope inisiatief, eerstens om ’n permit te bekom en aan al die wetlike vereistes te voldoen wat daargestel is om onwettige perlemoenstropery te bekamp. Tweedens is dit krities belangrik om dinge op só ’n manier te doen dat jy kan help om oorbevissing te voorkom en tot die volhoubaarheid van lewende mariene hulpbronne in ons oseane by te dra. Laasgenoemde is toevallig ook die grondslag waarop Abagold gebou is.
Die boerdery is oorspronklik gestig deur dr. Pierre Hugo, voorheen veearts op Hermanus, wat aanvanklik sommer in sy agterplaas met allerlei tegnieke begin eksperimenteer het om perlemoen op land te laat voortplant. Uiteindelik het hy sό goed daarin geslaag dat hy kommersieel met perlemoen kon begin boer.
Vandag produseer Abagold ongeveer 600 ton perlemoen per jaar en het meer as 450 mense in diens wat hoofsaaklik uit die gemeenskappe van Hermanus en die Overstrand kom. Behalwe dat dit ’n meer volhoubare tipe boerdery is, hou dit ook heelwat ander aantreklike voordele in.
In die natuur plant perlemoen net een keer per jaar voort (of skiet kuit), maar by Abagold gebeur dit letterlik elke twee weke, aangesien die proses kunsmatig gestimuleer word. Dit vind plaas deur beide eiers en sperm in die watermassa vry te stel sodat bevrugting kan plaasvind en ’n larwe kan uitbroei.
Van daar af ondergaan die larwe stelselmatig ’n metamorfose totdat dit ’n klein perlemoentjie word. Vir die eerste ses tot nege maande word dit mikro-alge gevoer. Daarna word dit verskuif na die plaas waar dit vir minstens vier tot vyf jaar groter alge soos seewier gevoer word voordat dit groot genoeg en markgereed is.
Een van die belangrikste elemente van hierdie soort boerdery is dat die perlemoen vir 24 uur per dag water en lig moet hê. Abagold pomp byvoorbeeld tussen 10 en 15 miljoen liter water per uur deur hul stelsel, wat weer op sy beurt genoegsame energie vereis. As gevolg van beurtkrag moet jy dus seker maak jy het sinvolle alternatiewe, soos sonpanele.
Perlemoenboerdery het natuurlik dieselfde uitdagings as enige ander boerdery. Wanneer mens in aanmerking neem wat Abagold bereik het, is dit egter alles die moeite werd. “My top advies aan opkomende boere is: ‘Hou aan, hou aan, hou aan!’ Onthou, dit het ons bykans 25 jaar geneem om noemenswaardige sukses te bereik,” sê Werner.
’n Ander belangrike les wat ons tot dusver geleer het by Abagold en die meeste ander nisboere met wie ons paadjies gekruis het, is om die sprong te waag en net te begin. Terselftertyd moet jy verkieslik klein begin, sodat jy eers al die groeipyne kan ervaar voordat jy te veel daarin belê. Volg @Nisboere op Facebook om te leer uit al die vindingryke idees van ander nisboere.