DINK GRÓÓT

GibaLand pluk die soet vrugte van sukses

’n Asemrowende ligging. ’n Idee. ’n Droom.

Dié elemente vorm die basis van Louis Goncalves se suksesvolle GibaLand naby Pinetown in KwaZulu-Natal. Dis ’n toerismeaantreklikheid wat binne ’n paar jaar van niks tot besonders opgebou is, met die uitsonderlike Jabuticaba-boom en sy vrugte as spogproduk wat deel vorm van die onderneming en boerdery op hierdie mooi stuk grond. 

GibaLand, sowat 20 km van Durban, is ryk aan ’n wye verskeidenheid fauna en flora – ideaal vir plante wat in dié tropiese en subtropiese omgewing aard, soos dié buitengewone boom, met sy oorsprong in Brasilië, wat hy al byna 15 jaar kweek.

Louis sê dis ’n omgewing vol verrassings en interessanthede om elke hoek en draai, ’n juweel tussen die heuwels, met talle voetslaanpaaie, bergfietsroetes en restaurante. En hier is GibaLand ’n toonbeeld van suksesvolle ondernemerskap omdat hy doen wat elke goeie entrepreneur behoort te doen: Hy span alle bates in wat die omgewing hom bied; hy kweek en bemark iets unieks wat min mense nog raakgesien het; hy het sy huiswerk deeglik gedoen; hy laat nie toe dat onbenullighede of negatiwiteit sy entoesiasme kelder nie; hy byt vas; en hy glo in homself en in sy produk. Voorts bly sy onderneming in die oog, probeer hy voortdurend sy produkte en diens vernuwe, en pas hy aan by die eise van die mark.

Terwyl GibaLand se grasonderneming die een is “wat die kos op die tafel sit”, is die tenttoerisme-aantreklikheid met sy gewilde TeePee-tente relatief onlangs gevestig … een wat die toets van die Covid-19-inperkingstyd geslaag het. In ’n relatief kort tydjie het Louis en sy span ruimtes geskep vir private geleenthede, vir kampering, so ook ’n eetplek en buitelug-aktiwiteite.

Louis, ’n landskapontwerper van beroep, se nisproduk is egter die Jabuticaba-bessie wat hy al langer as ’n dekade kweek. “Ek het die boom sowat 15 jaar gelede in Durban ontdek terwyl ek besig was om ander bome vir ’n kliënt te hervestig. My oog val toe op hierdie ongewone, beeldskone boom. Een van die uitstaande kenmerke, iets wat my dadelik opgeval het, was dat die vrugte nie aan die einde van die takke gedra word nie, soos waaraan ons met vrugtebome gewoond is, maar aan die stam self, ook aan die takke.

“Ek hoor toe die kêrel wat dit in die land ingebring het, is iemand wat al oral in die wêreld rondgereis het en dit saam met ’n klomp ander plante en bome wat nie tradisioneel hier groei nie saamgebring het.”

’n Verstommend “anderste” boompie, beslis ’n plant wat die aandag trek, een wat jou dwing om wéér te kyk, was Louis se bevinding.

Die belangrikste volgende aspek was dat die voorkoms van die boom, so ook die eienaardige groei-posisie van die vrugte, deur ’n belangrike maatstaf gerugsteun word, naamlik die proe-toets. “Ek kon nie glo hoe heerlik, soet en sappig die bessies is nie.” Dit het hom dadelik verplaas na Portugal, toe hy ’n klein seuntjie was en daar die soet tafeldruiwe by sy grootouers geproe het. 

“Die blaarvorm, die blaarkleur, die manier waarop die takke groei, die ruwe, oneweredige, gekromde stamme van die Jabuticaba trek dadelik die aandag.”

Vorm, voorkoms, smaak en uniekheid is die vier aspekte wat sy idees in werklikheid verander het. Hy het bome uit sade begin kweek tot vandag waar hy die vrugte kan pluk van nagenoeg 15 000 tot 20 000 bome.

“Almal wat dit proe, is verstom … nie net oor die heerlike smaak nie, maar omdat hulle dit nog nooit in winkels gesien het nie. In Brasilië is dit egter algemeen en gesog. Nou is ek besig om Suid-Afrika hieraan bekend te stel. Dalk eerder herbekendstelling, want daar is al ’n paar van dié boorde elders in die land.” 

Louis se Jabuticaba-ondernemerskap word op twee maniere bedryf. Hy kweek die bome in plastieksakke en kan dit daarom reg oor die land verskeep, selfs na individuele kopers, as hulle net ’n boompie of twee vir hul tuin soek. Die ander benadering is om die vrugte te kweek vir groente-en-vrugtewinkels.

Die pers-swart vruggie van tussen 3 en 4 cm in deursnee, met sy dik skil en wit vleis, kan rou en onverwerk geëet word, of gebruik word om jellies, konfyte, sap of selfs wyn te maak. Binne-in is tot vier sade om vir die kweek van nuwe bome gebruik te word. ’n Vrug se raklewe is, met die regte temperatuurbeheer, sowat tien dae.

Dié immergroen tropiese tot subtropiese boom kan tot 15 meter hoog word, maar Louis snoei hulle tot so 3 meter vir die beste drag. “Snoeiwerk het geen negatiewe uitwerking op die dravermoë nie, omdat die vrugte aan die stam en takke groei.”

Die wortelstelsel is klein, wat maak dat dit gematigde groei toon en pragtig lyk in ’n plantpot. “Jy kan selfs binnenshuis die vars vrugte van die boom af geniet.”

KwaZulu-Natal se ryk, klam grond is ideaal vir die Jabuticaba; terselfdertyd is dit ’n aanpasbare boom wat net goeie versorging en besproeiing vra. Die blomme lyk amper soos klein, wit blomkooltjies en word ook aan die stam gedra.

Nog ’n pluspunt is die gesondheidsvoordele vanweë die groot hoeveelheid antioksidante – méér nog as bloubessies en druiwe. Dit is ook ryk aan vitamien C en E, kalsium, yster, kalium en fosfor. Daarby is die boom taamlik pesbestand.

“Dit help dat hierdie boom meer as een oes per jaar lewer. Ek het al tot drie in een jaar afgepluk. Ek sit ’n net oor die bome wanneer ek sien die vrugte is aan’t pers word en los dit daaroor om te sorg dat dit genoeg ontwikkel vir die optimale soetheid. Dan oes ek dit wat ons nodig het en los die res vir die voëls en die apies.”

Louis se Jabuticaba-nisonderneming word entoesiasties deur plaaslike gemeenskappe ondersteun, vertel hy, “en die kweek van plante en veral hul oeste gee my groot plesier,” sê hy. “Soms het ons nie die geriewe, die kennis en kundigheid of tyd om so iets te doen nie – maar iets aan die mens hou daarvan om te sien hoe vrugte of groente grootword om te eet, of die blomme om gepluk te word. Hierdie idee is versterk deur die vrees in die inperkingstyd dat ons koskaste leeg gaan word. Dalk het ons iets hieruit geleer, en dit is dat dit dalk nou die regte tyd is om iets eetbaars in jou tuin te plant. Pleks van voortaan net bome plant vir skaduwee, plant ’n slag een wat vrugte dra; of groente in jou eie bedding … die plesier om dit te sien groei, is onvergelykbaar. Ek dink landskapontwerpers moet dit voortaan deel maak van hul tuinontwerp.”

Besoek gibaland.co.za en tree met hulle in verbinding by 082 309 5983.

Volg @GibaLand en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf