DINK GRÓÓT

Geharde, unieke turksvye … tipies Suid-Afrikaans

Jy sou maklik die landboupotensiaal van dié geharde plant kon onderskat. So ook die rol wat jy as produsent behoort te speel om die maksimum bedryfsmoontlikhede hieruit te put.

Maar as jy eers die turksvy en sy voor- en afkeure goed baasgeraak het, bied die interessante, diverse gebruik daarvan jou ’n bevredigende en volhoubare boerdery-uitdaging. 

Dis hoe Dewald van der Berg van Witkraal naby Petrusburg sy verbintenis met turksvye beskryf. Net meer as 12 jaar nadat hy en sy broers, Rudolf en Christof, hul eerste boord aangeplant het, het dié deel van die boerdery gegroei tot Witkraal se tweede grootste landbouvertakking. Moeiteloos was dit egter nie … hulle het hul huiswerk oor dié unieke plant se aard en eienskappe goed gedoen voordat hulle hierdie koers ingeslaan het.

“Ek het geleer dis ’n plant wat in ons omgewing aard, grootliks sonder besproeiing … ook dat ons dit op marginale grond kon vestig.”

Witkraal is al sowat 40 jaar in die besit van die Van der Bergs. Die plante het nog altyd wild in die gebied gegroei, maar Dewald het op ’n dag die potensiaal daarvan as veevoer besef. Hy het uitgewerk hoeveel voer per hektaar geproduseer kan word en sy eerstes in die grond gesit. Nou het die nut daarvan en die vraag daarna so uitgekring, dat sowat 100 hektaar vandag onder turksvye is. 

“Veevoer is die belangrikste nut, dan die plantmateriaal self, daarna die vrugte en dan ook die produksie van die olie uit die pitte. Dis ook interessant dat onder meer landskapsargitekte en meubelwinkels soms turksvyplante soek om in hul projekte te inkorporeer.”

Witkraal bedryf ’n gemengde boerdery, met die fokus op soutpanne, ook beeste en skape, asook pekanneute. Die turksvye is deesdae ’n bykomende, voltydse entiteit wat twee waardevolle bydraes tot die plaas maak – dit bied ’n lewensvatbare inkomste en dit skep werk.

Dewald het aanvanklik besef dis allesbehalwe ’n kwessie van invaar en plant. Maande se navorsing en beplanning het hierdie stap voorafgegaan.

Behalwe die gewone gebruike, het Witkraal die afgelope jaar betrokke geraak by twee projekte van ’n groot mynmaatskappy. Die een was die aanplant van ’n proefblok met die fokus op die produksie van biodiesel om hul koolstofvoetspoor te verminder; die tweede ’n projek wat Witkraal namens die myn bestuur. “Die idee is om ’n groot stuk grond naby ’n myn met hoëdigtheidturksvyboorde te vestig. Die uiteindelike doel hiervan is dat die turksvye deur ’n proses gaan wat hulle donkerfermentasie noem, en daaruit word ’n proteïen vervaardig wat weer in die voedselmark benut word.”

Daar is dus baie opwindende verwikkelinge in die turksvybedryf, en dit met ’n plant waarvan die gebruiksmoontlikhede tot relatief onlangs onderskat is.

“Die turksvye pas baie lekker in by ons soutpanboerdery omdat ons ’n redelik groot arbeidsmag hiervoor moet hê. Maar daar is baie dae dat hulle nie in die soutpanne kan werk nie, byvoorbeeld as dit reën. Dan kan ons die werkers weer in die turksvyboorde aanwend.” 

Dat turksvye ’n taamlik arbeidsintensiewe benadering verg, is gewis, sê Dewald. “Die fout wat baie mense maak, is om te dink dat die plant se gehardheid beteken jy kan dit maar net los om self aan te gaan. Maar dit moet, soos enige ander boord, aktief bestuur word. Peste en plae moet pro-aktief beheer word. Terwyl die uitdaging vir turksvye nie noodwendig droogte is nie, is die skaalinsek cocheneal en die Cactoblastis cactorum-mot ’n realiteit. “As dit nie hiervoor was nie, sou baie meer grond seker al onder turksvye gewees het. As jy gereeld jou boorde nagaan en goeie boordsanitasie toepas, beheer jy die peste goed. Die veld moet skoongehou word van onkruid en grasse, want as dit te dig tussen die turksvye staan, skep dit ook weer ’n hawe vir peste en plae. Turksvye vra ook goeie bemesting – resultate is dan baie beter vir goeie bladproduksie, veral deur stikstoftoediening.”

Volgens Dewald bestaan daar ’n wanpersepsie dat alle turksvye indringers is en dat wetgewing die aanplant daarvan om hierdie rede verbied. “Dis onwaar. Die turksvye wat ons plant, is doringloos – en nou verwys ek na die blad, nie die vrug nie. Wetgewing plaas geen verbod op die doringloses nie. Ons aanplantings is dus nie ’n onkruid of indringer nie.”

By die Universiteit van die Vrystaat het dr. Herman Fouché baie werk gedoen om die turksvykultivars te identifiseer, vertel Dewald. “So om en by 46. Op Witkraal boer ons met 10. Morado, met sy wit-groen vrugte, is baie veelsydig, met ’n vrug van ’n redelike goeie gehalte en ’n uitstekende blad- en vrugproduksie. Dit werk goed vir veevoer en olieproduksie.” 

Ander kultivars op Witkraal is Meyers met sy rooi vrugte en Algerian met sy pienkes, ook Gymno Carpo met sy oranje vrugte. Zastron se vrug is van ’n puik gehalte en dra vroeg in die seisoen, terwyl Messina weer laat in die seisoen dra. “Almal het ’n baie goeie vruglewering, maar wat my betref is die room van produksie Skinners Court met sy wit-groen vrugte. Dit produseer nie so baie vrugte nie, maar die kwaliteit is uitmuntend. Ek beskou dit as ’n premiumproduk.”

Olieproduksie uit die pitte is ’n vaardigheid met sy eie uitdagings. “Ons verskaf ons olie aan Afrika Botanicals. Dis ’n gevorderde produk; jy kry omtrent ’n liter uit ’n ton vrugte. Daardie ton lewer 25 kg pitte, en hieruit pers jy ongeveer een liter.”

Dis dus allesbehalwe ’n haastige proses, erken Dewald. “Goeie voorbereiding voor die parsproses is van die allergrootste belang. Witkraal het deur die jare sy produksieproses verfyn en aangepas. Deur die pitte mooi te sif en skoon te maak, kon ons die opbrengs daarop aansienlik verhoog. Deesdae kry ons ongeveer 6% olie uit die pitte, waar ons aanvanklik 3,5 % gekry het. Die effek hiervan is dat dit ’n olie van ’n hoër gehalte lewer. Dus, hoe skoner die pitte, hoe beter is die gehalte wat ons mark toe stuur. As die pitte nie hiperskoon is voor die pars van die pitte nie, sit jy met residu wat die olie ’n onaangename reuk gee.” 

Vir Witkraal om olieproduksie so ekonomies moontlik te maak, word ook vrugte van ’n minder goeie gehalte hiervoor ingespan. “Soos oorryp vrugte. Ons verpulp alles.”

Probeer en leer, toets en aanpas is Witkraal se resep. “My advies aan enige jong boer wat met turksvye wil begin boer, is om te besef dat dit ’n intensiewe bedryf is en dat daar vir redelik hoë arbeidskostes begroot moet word. Die tweede belangrike ding is deeglike marknavorsing, die derde dat jy seker moet maak oor jou mark, spesifiek vir die vars vrugte. “En as jy turksvyproduksie kan kombineer met ’n gemengde boerdery, is dit ideaal dat jy jou blaaie en jou uitskotvrugte in die res van jou boerdery kan aanwend, veral as jy ’n veekomponent het.”

Turksvye is, rou of gerooster, nie net ’n interessante byvoeging tot slaaie, nageregte of gladdejantjies nie, dit bied ook ’n vars, pikante geur. Dis ryk aan vitamien C en E, is propvol vesel en antioksidante, en beskerm die liggaam teen oksidatiewe stres, inflammasie en gastroïntestinale kwale.

Vir boere bied dit die bykomende voordeel van ’n diep wortelstelsel wat erosie bekamp. En landbou-entrepreneurs kan hulle klaarmaak vir ’n lekker nuwe uitdaging. Dis ’n uitsonderlike produk wat, met die regte bemarking, nuwe markte kan ontgin.  

Witkraal

  • 072 576 9828
  • dewald@htaa.co.za
  • witkraal.co.za

Volg @Witkraal Farming en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.