DINK GRÓÓT

Gebottelde styl uit weggooivrugte

Entrepreneurskap begin altyd met ’n idee – maar werklik suksesvolle entrepreneurskap verg vier dinge: geloof in daardie idee, moed om iets nuuts of anders aan te pak, harde werk en die benutting van hulpbronne, materiaal of produkte wat binne jou bereik is.

En natuurlik help dit ook om te kan staat maak op die ondersteuning van familie, vriende en ’n toegewyde personeel.

Dis die grondslag waarop Zululand Distillers, geleë in Hluhluwe in Noord-KwaZulu-Natal, gebou is. Eers het die idee om alkoholiese produkte uit pynappels te vervaardig ontstaan by Cobus Oosthuizen senior, uitvoerende hoof van Mazuri Pineapples … maar dis vervolmaak deur die toewyding van sy seun, Cobus junior.

Toe Cobus senior, wat die vooruitstrewende Mazuri ná reuse-boerderyterugslae in 1998 gevestig het, op ’n dag ’n ornamentele stookketel in Pelgrimsrus sien, het ’n gedagte hom te binne geskiet: “Elke keer as ons beeste die onbemarkbare weggooipynappels as voer eet, het ek opgemerk hoe die sap by hul monde uitloop. Dié vermorsing het my gepla, en ek het skielik gewonder hoekom druk ons nie éérs die sap uit die pynappels nie voordat ons die diere die kop en skille voer?”

Terug by die huis is die idee in ’n plan omskep. “Ons het die sap met gas verhit en ’n helder vloeistof het te voorskyn gekom.”

Ná net meer as twee dekades se suksesvolle verbouing van hoofsaaklik Queen Victoria-pynappels op Mazuri het Zululand Distillers in 2019 op die been gekom, nou suksesvol bedryf deur Cobus junior. Die hoë suikervlakke in hierdie variëteit maak dit die perfekte vrug om tot alkohol te verwerk. Die bonus is nie net uitmuntende jenewer en brandewyn nie, maar dat daar géén vermorsing op dié reuse-plaas is nie – ’n onderneming wat jaarliks miljoene pynappels aan die plaaslike sowel as oorsese mark lewer.

Dié sukses kan as niks minder nie as buitengewoon beskryf word, nadat Cobus senior aanvanklik met 510 000 plante en 10 voltydse werkers begin het. Nou, deur toewyding en ’n 19-uur-werkdag wat van 04:00 tot 23:00 duur, is dit ’n onderneming wat ruim gediversifiseer het. Tans is 1 000 ha beplant wat jaarliks sowat 10,5 miljoen pynappels lewer met die hulp van 118 toegewyde personeellede. Die vervaardiging van die distilleerdery se stylvolle gebottelde alkoholprodukte is een van die gesogte neweprodukte.

Cobus junior vertel dat hulle eers deeglik beplan het voordat die distilleerdery gevestig is. Vyf jaar later spog Zululand Distillers met uitsoekstyl in die vorm van Amber Gin, Clear Gin en pynappelbrandewyn.

Hy is nie net ’n kenner van die regte toerusting en die perfekte verpakking en bemarking nie, maar van die vervaardigingsproses kan jy hom ook niks vertel nie. “Nadat die fermenteringsproses van die sap van Mazuri se oorskotpynappels oor ’n tydperk van so sewe dae afgehandel is, word die vloeistof in klein hoeveelhede deur middel van ’n tradisionele stookketel gedistilleer. Die sap word verhit, wat dit moontlik maak dat die alkohol van die ander komponente skei. Daarna word die alkoholdamp afgekoel en gekondenseer, wat vir ons ’n suiwer en gekonsentreerde spiritus, oftewel etanol, gee. Daardie suiwer pynappeletanol word dan deur middel van omgekeerde osmose verdun tot ’n alkoholinhoud van 43%.”

Die distilleerproses word verskeie kere herhaal om die vloeistof sowel as die geur te verfyn. Die eindproduk word sorgvuldig versny, gebottel en geëtiketteer – alles met die hand.

Sewe verskillende botaniese geure word by die alkohol gevoeg om spesifieke kenmerke aan die jenewer te verleen. “Die pynappelgeur kan tegnies ’n ekstra geur wees. So ’n geurproses duur sowat 20 dae, en ons doen dit in hoeveelhede van 200 liter. Die boonste helfte van die 200 liter word dan gefiltreer en gebottel vir ons Amber Gin, en die onderste helfte word herdistilleer om ons Zululand Clear Gin te lewer.”

Die vervaardiging van brandewyn verg ’n heel ander proses, vertel Cobus junior. “Ons voer tweedehandse Amerikaanse eikehoutvaatjies in wat in die Kaap en hier op die plaas eers verder behandel word voordat ons die alkohol daarin tap en verouder. Eers ná 90 dae trek ek die eerste monster uit die vaatjie. Ek bepaal dan wanneer dit gebottel en verkoop kan word.”

Hy sê as jy enigsins distillasie as ’n loopbaan oorweeg, is daar ’n paar ononderhandelbare reëls wat jy moet volg. “Dis harde werk, en jy moet geduld hê, want dis ’n tydsame proses. Voordat jy uitgaan en duur vlekvryestaaltoerusting koop, moet jy eers goeie navorsing doen en deeglik beplan. Kry eers die ruimte waarin jy wil werk, so ook ’n lisensie om dit te doen. By Zululand Distillers het ons reeds met die basiese materiaal, naamlik die oorskotpynappels, gesit.” Hy was vanselfsprekend ook op die hoogte van die aard van die vrug, onder meer dat ’n pynappel se raklewe maar twee weke is. Plus, Mazuri Pineapples was ’n reeds gevestigde onderneming wat die kapitaaluitleg kon dra en waarop hy net kon voortbou. 

“Ons kon die distilleerdery as ’n entiteit by die reeds bestaande onderneming voeg, maar as jy ’n alleenstaande besigheidsmodel het, met ander woorde ’n distilleerdery op sy eie, moet jy allereers jou mark bepaal voordat jy duur toerusting begin aanskaf.”

Vir voornemende entrepreneurs is sy raad om aanvanklik nie te groot te hap nie. Doen deeglike marknavorsing, stel ’n sakeplan op vir die kort en lang termyn, kyk die kat goed uit die boom en gee klein stappies vorentoe. Neem gereeld bestek op, sorg dat jy oor alle aspekte van jou onderneming beheer het en gee aandag aan detail. 

Dis dié fokus op die kleinste besonderhede wat die produkte van Zululand Distillers gesofistikeerde en gerespekteerde mededingers in hul mark maak.

Besoek zululanddistillers@mazuri.co.za en volg @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.