As daar een ding is wat boerdery vir Louw de Wet van Robertson geleer het, is dit dat landbou-entrepreneurs nooit mag stagneer nie. Vooruitgang beteken dat jy altyd op die uitkyk moet wees vir nuwe geleenthede, want enige mark hét gapings; jy moet net daarna bly soek.
Terwyl hul plaas, Retreat, in 1854 deel van die De Wet-familie geword het en die grond oor die jare ’n vaste aanbod van produkte gelewer het, het Louw – as sesdegeslag-jongboer – besef hy sal ter wille van vooruitgang moet uitbrei, iets besonders op die mark moet plaas wat niemand anders in die gebied nog geproduseer het nie.
Altesame 140 ha was reeds onder permanente gewasse, hoofsaaklik sitrusvrugte en wyndruiwe, appelkose, perskes en pere … vrugte van die omgewing wat ook op omliggende boere se plase te vinde was. ’n Nuwe produk sou aan vier vereistes moes voldoen: Dit moet by die klimaat aanpas, dit moet terselfdertyd ongewoon wees teenoor die gewone aanbod van die omgewing, dit moet een wees waarvoor daar ’n definitiewe mark is, ook een wat finansieel volhoubaar is en ’n gerieflike inkomstestroom skep.
Eksperimentering met verskeie moontlikhede het gevolg, wat daartoe gelei het dat Louw in 2016 ’n paar hektaar draakvrugte aangeplant het.
Ongewoon en anders is dit inderdaad, want draakvrugte, oftewel pitaya, is eie aan Sentraal-Amerika en die suide van Mexiko, beslis nie volop in die sagtevrugtewêreld van die Wes-Kaap nie. Dit groei aan kaktusagtige plante, het ’n rooi of geel skil, met binne-in wit of pienkerige vlees propvol pikswart pitjies wat elke skyfie ’n aantreklike toevoeging tot ’n slaai- of vrugtebord maak.
“Draakvrugte is die kleinste vertakking op die plaas; ons het net so ’n paar hektaar aangeplant.”
Louw is nie beskeie oor sy geloof in God nie. “Hy het vir my die idee gegee, as’t ware die saadjie in my gedagtes geplant. Vir my was dit ’n kans om iets nuuts te probeer. Ek het nie altyd geweet waarheen ek op pad was nie, maar die bevredigendste is die positiewe reaksies van mense wat die draakvrugte proe en ervaar.”
Volgens hom kry jy oor die 200 verskillende soorte regoor die wêreld – Louw en sy span evalueer tans die moontlikhede van om en by 150 hiervan. “Dit het natuurlik ’n hele tydjie gevat om uit te vind watter variëteit die regte een vir die omgewing en vir die mark is. Ons primêre kriteria is smaak en dan natuurlik ook die kommersiële eienskappe. Die twee hoofsoorte wat ons tans kommersieel produseer, is een met ’n ligtepienk vlees en een met ’n pers tipe vlees.”
Retreat se draakvrugte word onder die handelsnaam FireFruit bemark en is deesdae bekend in talle voedselwinkels en padstalletjies.
Agt jaar ná die eerste aanplantings en Louw praat met gesag oor dié nuwe, gewilde rolspeler in die vrugtemark. “Draakvrugte se goeie gewoontes is maar oral dieselfde; jy kry soms variasies tussen lootlengte of lootdikte – maar die meeste variëteite stem taamlik ooreen.”
Om goed te groei, moet die plant opgelei word. “Dis eintlik ’n rankkaktus; die plant het iets nodig om teen op te klim en teen te rank. Daarbenewens is die ideale groeiomstandighede grond met ’n hoë organiese inhoud en goeie dreinering. Die gebied waar dit aangeplant word, moet ’n gematigde klimaat hê, nie te warm of te koud wees nie. Maar eintlik is die plante redelik aanpasbaar en groei in ’n wye spektrum van klimaatsomstandighede en gebiede. Ryp kan wel ’n probleem wees, so ek sou sê jy moenie draakvrugte in ’n gebied aanplant wat hieronder gebuk gaan nie. Die vrugte kan ryp net matig weerstaan.”
Verbouingsukses hang af van die regte variëteite vir die regte omgewing. Daarom is deeglike navorsing vooraf nodig, meen Louw. Voorts is dit goeie raad om kers op te steek by boere wat reeds met die vrug bekend is. “Daar is verskeie uitdagings. Omdat draakvrugte so ’n nuwe produk is in ons land, bestaan daar nie regtig inheemse kennis nie – ons moet oorsee raad vra.”
Die vrug het intussen so gewild geraak, dat Die Suid-Afrikaanse Draakvrugteprodusentevereniging op die been gebring is om boere met navorsing en ontwikkeling by te staan.
Uitdagings is daar altyd, “soos peste en plae in die vorm van miere, slakke en voëls,” vertel Louw. “Ons moet dus seker maak dat ons die vrugte oes wanneer dit optimaal ryp is.”
Alles word met die hand gedoen, van die aanplant tot die pluk, hantering en verpakking van die vrugte. Verskaffing is aan ’n redelik diverse groep besighede en individue, onder meer plaaslike supermarkte soos Pick n Pay, Spar en Food Lover’s Market. Voorts sal jy Louw gereeld raakloop by die Oranjezicht City Farm Market in Kaapstad, by Wes-Kaapse kosklubs en plaaslike kleinondernemings en markte in sy omgewing.
Dis duidelik dat vrugteverbruikers draakvrugte leer ken en aanvaar het en as voorkeuraankoop begin beskou. Louw sê draakvrugte is nie net mooi en lekker nie, maar is ’n “supervrug” omdat dit so ’n hoë voedingswaarde het, hoog is in antioksidante en selfs ’n gewilde keuse is vir diabeteslyers. “Dit word hoofsaaklik vars geëet, maar dit kan gevries word vir gebruik in smoothies, gesondheidsgeregte en selfs in roomys, nageregte en slaaie. Dis fantasties om te sien hoedat draakvrugte al hoe meer beskikbaar is, in supermarkte sowel as restaurante, en dit begin lyk of daar ook nou ’n neiging is om dit te gebruik in die vervaardiging van grimering en skoonheidsprodukte. Die eindverbruike is eintlik oneindig.”
Entrepreneurskap is die grondslag van ’n suksesvolle boerdery, sê Louw. “Ek raai opkomende landbouentrepreneurs aan om soveel moontlik navorsing te doen voor hulle wegspring met ’n nuwe produk – onderrig jouself om seker te maak jy bly op die voorpunt van gebeure. Weet van alles wat in die bedryf gebeur, bly by met tegnologie, sorg dat jy weet van nuwe verwikkelinge op jou gebied, leer ken die beste bestuurspraktyke. Dinge verander gereeld, dus moet jy op die hoogte bly van produkontwikkeling.”
Volg @FireFruit en @Nisboere op Facebook om saam met ander nisboere te leer, ook om jóú storie met ons te deel. Besoek ook wowbuy.co.za om van die produkte in dié onderneming aan te skaf.