Van die verleidelike smaak van aarbeie en die gesondheidsvoordele van bessies tot die superkoskwaliteit van veral bloubessies – almal is dit eens … bessies is in gróót aanvraag. Trouens, sό groot is die vraag daarna dat dit oor die algemeen net bekostigbaar is vir die meer vermoëndes onder ons.
Dit is juis hierdie aanvraag wat van aarbeie en bessies hoëwaardegewasse maak. Dit bied nou weer op sy beurt aan elkeen met die hart van ’n entrepreneur en net so ’n bietjie spasie of ’n klein stukkie grond ’n geleentheid om ’n nisboer van aarbeie en bessies te word.
Nisboere het by MacFresh Deli & Berry Farm in Benoni gaan kuier, wat presies dít gedoen het en uit en uit bewys het dat die soet smaak van sukses nie noodwendig net vir groot boere beskore is nie. Van ’n klein begin het MacFresh gegroei tot ’n volwaardige nisboerdery wat aarbeie en swart- en bloubessies met groot sukses verbou.
Hulle het ook uit ander elemente van die boerdery begin geld maak. Jy kan byvoorbeeld aarbei- en bessielekkernye by hulle deli koop en mandjies vol vars aarbeie en bessies op die plaas kom pluk, waarvoor jy dan per kilogram betaal. Die eienaars van MacFresh Deli & Berry Farm het ongetwyfeld ’n gulde geleentheid raakgesien, dit met albei hande aangegryp en uiteindelik die vrugte daarvan gepluk.
Die vraag is egter: “Is daar plek vir nόg toetreders tot hierdie mark?” Wel, toevallig is die aarbei- en bessiebedryf een van dié in ons land wat die rooskleurigste toekoms het. Trouens, die groei van dié bedryf word as een van Suid-Afrika se toplandbousuksesverhale beskou.
In die 2018/2019-seisoen het ons ’n stewige 9 103 metrieke ton aarbeie en bessies geproduseer, wat die meeste ooit was sedert die jaar 2000, en die mark het sedertdien aanhou groei. Interessant genoeg word meer as 50% van die aarbeie wat ons produseer, uitgevoer, en meer as 70% van ons bessies word na ander lande verskeep.
Miskien nόg interessanter is dat 90% van hierdie kwota deur net sowat 20 groot rolspelers in ons land geproduseer word. Uit die aard van die saak beteken dit ook dat daar wél ruimte is vir nuwe toetreders, veral vir diegene wat net eers op ’n kleiner skaal wil begin en aanvanklik hoofsaaklik op die plaaslike mark wil fokus.
Om met bloubessies te begin boer, verg so ’n bietjie geduld, maar wanneer jy kyk na wat jy per kilo kan verdien, is dit op die lang duur die moeite werd. Om jou ’n idee te gee: Dit vat so twee tot vier jaar vir ’n bloubessieplant om vir die eerste keer vrugte te begin lewer. Daarna kry jy so vier en ’n half tot vyf kilo’s vrugte per jaar uit die plant, vir so lank was wat die plant leef, wat ongeveer 45 jaar is.
Bloubessies is ideaal indien jy ’n stukkie grond het, want die plante moet ’n redelike afstand (± 75cm) van mekaar af geplant word. Op een hektaar grond sal jy byvoorbeeld so tussen 3 000 tot 6 200 plante kan plant. Jy kan bloubessies egter ook eers net in potte begin plant. Klik hier om te sien hoe.
Met aarbeie kan ’n mens nou wel op ’n baie kleiner skaal begin, aangesien jy dit sommer in houers en saadbakke kan kweek. Klik hier om te sien hoe. Jy kan ook vinniger daaruit begin geld maak, aangesien sommige variëteite al binne vier weke vandat dit begin blom, vrugte dra – selfs twee keer per seisoen. Anders as bloubessies, wat eintlik maar soos ’n geskenk is wat nie ophou gee nie, dra aarbeie egter net vir so vier tot vyf jaar vrugte.
’n Goeie oplossing sal dalk wees om bessies te plant sodat jou boerdery op ’n langer termyn vrugte kan afwerp, en aarbeie om intussen ekstra geld te begin verdien. Dis die kersie op die koek, teenoor die brood en botter. Volg @Nisboere op Facebook om te sien hoe ander dit doen en om ons te vertel hoe jou eie storie ontvou.