DINK GRÓÓT

Die Laeveld Spens

Vars van die plaas tot op die tafel

Van die plaas, bakkery en slagtery na die “spens” … tot by die verbruiker. En dit kan alles binne ’n dag gebeur.

Trouens, dis wat Anna en Carl Steyn van Nelspruit se Die Laeveld Spens so gewild maak: Dat die varsprodukte van die omgewing wat hulle aanlyn verkoop, kraakvars by die koper aankom.

Haarfyn logistiek en kreatiewe denke om individue van die gebied se landbouprodukte op een platform te kombineer en aan verbruikers te bied, het gemaak dat die egpaar se idee binne minder as twee jaar ’n gerieflike eenstop-koopplek geword het … terselfdertyd die beste bemarkings- en verkoopplatform geskep het vir boere en ander verskaffers van landbouprodukte in die Laeveld. Dit het natuurlik ook ’n welkome toename in dié landbouers en verskaffers se omset teweeg gebring.

Carl vertel dat die idee van die Die Laeveld Spens een laat Laeveldmiddag in 2023 op hul stoep gebore is. “Dit was toe al lankal vir Anna ’n hartseer saak dat individue se puik produkte nie ’n wyer kopersmark het as net vanaf hul eie persele of op hul plase nie,” vertel hy. 

Dis dié mooi streek wat Anna, met haar fyn oog vir keurige kossoorte en geregte, geïnspireer het om aan individue met hul kwaliteitprodukte aanlyn ’n groter mark te skep.

“Dit was vir my amper ondenkbaar dat van hierdie Laeveldse produkte nie in die winkels beskikbaar was nie. Vandaar het ons met die idee begin speel om iets daaraan te doen. Die afgelope drie jaar het dit ontwikkel tot ’n baanbreker- aanlyn platform waar ons plaaslike produkte bekend stel wat stories vertel – stories oor ons gemeenskap, stories oor mense, oor vakmanskap en oor die talent wat ons hier het. Ons verskaf dit wat talentvolle mense in die gebied produseer. Ons is baie opgewonde om ons plaaslike spens met ander mense te deel, en sien uit daarna om ’n groeiende en besonderse reeks produkte en oplossings te ontdek.”

Deeglike dinkwerk en haarfyn beplanning het hulle tot ’n logiese gevolgtrekking gelei: Dit is dat die uitsonderlike gehalte van vars- en unieke tuisgemaakte produkte op één platform teen billike pryse aan die gemeenskap beskikbaar gestel moes word. Die konsep van Die Laeveld Spens is dat almal gehalteprodukte van die omgewing maklik en sonder sukkel in die hande kan kry. Jy kan dus 24 uur per dag op Die Laeveld Spens se webtuiste gaan loer wat alles beskikbaar is en jou keuse maak vanuit die gerief van jou leunstoel.

Kies uit vleisprodukte, gebak, ingemaakte produkte, vars groente en vrugte, kruie en speserye, asook vooraf bereide geregte vir die etenstafel.

Volgens Anna is Die Laeveld Spens nie ’n gewone aanlyn winkel nie. “Ons ondersteun doelbewus ons plaaslike tuisnywerhede en boerderye.” Die bedieningsgebied is hoofsaaklik Nelspruit, Witrivier, Barberton, Malelane, Komatipoort en Hectorspruit. Die afleweringstarief is gering.

Die Steyns het, deur hul unieke onderneming, noodwendig hul gemeenskap al hoe beter leer ken. “Hier is soveel talentvolle mense en boere met besonderse produkte. En dis hier by ons beskikbaar,” vertel Carl.

Die Laeveld Spens stel as ’t ware ten toon hóé groot die talent hier is. “In die Laeveld het ons soveel kwaliteitlandbouprodukte, met kundiges soos blokmanne, bakkers en ander vakkundiges. Ons bied produkte wat voorheen nie altyd maklik verkrygbaar was buite die gebiede waar die individuele verskaffers woon nie, of wat hoofsaaklik net op naweekmarkte beskikbaar was,” sê hy.

Soos dit met suksesvolle entrepreneursake gaan – een wat ’n gaping in die mark gesien het en dit volhoubaar bedryf – brei Die Laeveld Spens se produkreeks voortdurend uit. Carl stel dit egter duidelik: “Nie alles van almal is by ons te koop nie. Ons keur produkte, soek persoonlik uit wat ons wil aanbied.” Gehaltebeheer is vir die Steyns prioriteit.

Volgens Anna het die reeks onlangs uitgebrei na ’n eie reeks bevrore etes, sowel as gewilde bottel-en-bêre-produkte onder die “Premium”-reeks. “Dis produkte wat jou lewe en spesiale geleenthede mooier, makliker en lekkerder kan maak. Ons kan jou help om jou gaste te onthaal en vir jou ’n blaaskans gee ná ’n lang dag, wanneer kosmaak na te veel moeite begin lyk.”

Anna vertel dat hulle beoog om weekliks nuwe produkte bekend te stel en addisionele plaaslike produkte te lys.

“Ek is ‘n gekwalifiseerde sjef met sowat 13 jaar ondervinding in die kosbedryf, en het as produkontwikkelaar plaaslik en internasionaal met bekende name en handelsmerke gewerk. Ek glo die Here het my in die Laeveld kom vestig toe ek met ’n gebore Laevelder getrou het.”

Carl erken dat logistiek vir hulle ’n uitdaging bly omdat varsheid so belangrik is. “Eerstens is dit ’n uitdaging om al die produkte bymekaar te bring. Daarna moet dit verpak en uitgestuur word. Logistiek is waarskynlik die hoofrede waarom iets soos Die Laeveld Spens nie al lankal bestaan nie. Ons het egter, ná deeglike beplanning, besluit ons sien kans hiervoor. Dis ook belangrik om te noem dat die onderneming op goeie samewerking gegrond is.”

Uniekheid is waarskynlik die belangrikste “verkooppunt”, volgens Anna. “Dit is dat ons aanbod 100% plaaslik is.”

Die volgende maatstaf is varsheid vanweë onmiddellikheid, vertel Carl. “Ons sal allerlei varsprodukte, soos ons varsgebakte brode, by jou kom aflewer. Ander, soos vrugte en groente, word die oggend voor aflewering geoes; en wat ons vleise betref, loop ons hand aan hand met die omgewing se slaghuise. Ons kies self die produkte en werk saam met almal om ’n uitsonderlike produkreeks aan te bied.”

Die derde boublok, volgens Carl, is gehalte. “Ons kies ’n verskaffer volgens vakmanskap, en daarna kies ons uit sy produkte wat ons deur middel van Die Laeveld Spens wil verkoop. Dis dus nie ’n geval dat ons met byvoorbeeld een verskaffer saamwerk en ál sy produkte lys nie. Elke enkele produk word vooraf geëvalueer. Ons moet natuurlik ook kyk of ’n bepaalde produk inpas by ons totale aanbod, of by ons reeks pas.”

Die Steyns se breinkind is ná net drie jaar ten volle op dreef “vanweë ’n reuse-passie vir dit wat hierdie wonderlike streek te bied het,” vertel Anna. “Ek is eintlik ’n inkommer, maar het deur die jare baie lief geword vir die Laeveld en sy mense. Almal het ons en dit wat ons hier doen, met ope arms ontvang. Ons voel geëerd en geseënd met die mense wat ons elke dag ontmoet, ook dié wat hulle inkope doen by Die Laeveld Spens.”

Entrepreneurskap verg ruggraat, stem die egpaar saam. “As jy ’n droom het, of gedrewe voel om iets te doen, moet jy jouself afvra: Hóé graag wil ek dit doen? Hoekom wil ek dit doen? Wat is ek bereid om op te offer?” sê Anna.

“Vir my en Carl gaan dit oor ’n roeping. Ons glo nie net in wat ons doen nie, dis vir ons ’n geloofsaak. Jy doen so iets ook nie net vir jouself nie; dit gaan oor ’n groter prentjie, oor ons onderneming en oor ander mense. Die dag dat jy voel jy wil tou opgooi, begin dink dat dit nie die moeite werd is nie, moet jy onthou dat jy ’n verskil in mense se lewens maak. En dís waarop ek hoop … dat dit wat ons hier doen, ’n al hoe groter verskil in mense se lewens gaan maak. Uiteindelik gee dit sin aan óns lewe.”

  • Volg @Die Laeveld Spens op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.dielaeveldspens.co.za; bel 081 593 2922 of 082 703 1475; of skryf aan info@dielaeveldspens.co.za
  • Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
  • Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za