Vir vorm, kleur en perfeksie het sy nog altyd ’n oog gehad – fotografie was nie verniet voorheen haar loopbaan nie.
Dat blomme Adene Nieuwoudt van Wolseley se hele lewe oorgeneem het, is dus amper vanselfsprekend. Adene’s Farm Flowers het in minder as 10 jaar van ’n idee gegroei tot ’n volskaalse blomkwekery op 11 hektaar, met 5 hektaar pioenblomme in die Matroosberg, asook drie satellietplasies en 14 winkels.
Vir dié gesin verteenwoordig blomme alles wat volmaak is. Die skoonheid wat hulle op die plaas Platvlei naby Wolseley tot stand gebring het, bied nie net intense werksbevrediging nie, maar verskaf genoegdoening en vreugde aan vriende, familie en vreemdes.
Sedert 2016 het dié pragkwekery ontwikkel van prentjiemooi blomme op troufoto’s wat Adene deur haar lens vasgevang het tot ’n nisonderneming wat deesdae meer as 200 blomvariëteite produseer. Dit sluit in dahlias, anemone, ranonkels, krismisrose, asters, rose, kosmos en amarante waarvan die gehalte só hoog aangeslaan word, dat dit van die Kaap tot Gauteng in aanvraag is.
Sedert die vestiging van hierdie plaasonderneming was die heel beste stap egter vir Adene dat haar eggenoot, Andrew, haar voltydse vennoot geword het. Hierdie vennootskap was die noodwendige gevolg van goeie bestuur, berekende risiko’s en kreatiewe denke.
“Toe ek ná ons troue hier op die Platvlei-vrugteplaas aangeland het, kon ek nie meer my beroep as fotograaf voltyds beoefen nie. Ek het my kamera gevat en troues begin afneem, uiteindelik altesame seker so by die 400.”
Dis presies waar haar loopbaan as blomkweker hom aangemeld het. “In dié tyd, wanneer ek die pragtige blomme by die troues afgeneem het, het ek besef daar is beslis ’n mark vir so ’n bedryf, veral ook vir blomme wat nié in Suid-Afrika beskikbaar is nie.”
Haar ondernemende, skeppende geaardheid het gelei tot vriendskappe met bloemiste van die omgewing, die verskaffers vir hierdie troues, “en hulle het my aangepor om te begin blomme kweek”.
Haar eerste treetjie was klein en versigtig, erken Adene, want dis ’n veld wat vir haar vreemd was. Tussen blomme fotografeer en blomme kweek vir foto’s is daar immers ’n reuse-verskil. “Ek het op klein skaal begin – mense het vir my saadjies begin aandra, selfs uit Holland.” Die plaas se groentetuin was in haar visier … die eerste stukkie grond waar hierdie saadjies in die mooiste blomplantjies verander het. “Ek kon dit nie glo nie … ongelooflike blomme het uit die sade ontstaan. Dis toe dat ek opnuut besef het daar is ongetwyfeld ’n mark vir my blomme.”
Dis hier waar die spreekwoordelike saadjie gesaai is vir Adene se splinternuwe loopbaan.
Intussen het Andrew se betrokkenheid by hul familieplaas ook verander. Hy vertel dat sy oupa in 1934 hier begin boer het, en dat sy pa in 1977 by hom oorgeneem het. “Ek en my broer het dertig jaar daarna, in 2007, dieselfde gedoen. Platvlei was ’n vrugteplaas, maar die uitdagings van vrugteboerdery die afgelope jare was ’n werklikheid wat ons in die gesig gestaar het. Dis ’n veeleisende bedryf, en ons het besef daar is nie werklik plek vir ons albei in dieselfde bedryf op dieselfde plaas nie. Adene se blombedryf hier was toe reeds goed op dreef, en in 2019 het ons besluit dit sou beter wees vir die volhoubaarheid van die vrugteplaas as ek oorskuif na Adene’s Farm Flowers.”
Die blom-onderneming het nou ekstra momentum gekry, en een van die eerste dinge wat Andrew gedoen het, was om ’n netbedekking op so 0,5 hektaar op te sit. Adene was in haar noppies. “Ek het besluit ek gaan hierdie ruimte vol plant met vreemde sade wat nog nie voorheen in Suid-Afrika geplant is nie. Daar was soveel verskillende blomsade beskikbaar! Eintlik was my grootste oorweging dat ek alles wat vir my mooi is, gaan aanplant.”
Sy het uiteindelik toe kans gesien daarvoor om ’n hele hektaar vol te plant en dié aanplantings so goed vertroetel, dat die saadjies pronkblomme geword het. Groot was haar vreugde, want “al die blomme het ongelooflik mooi uitgekom. En in ’n kits verkoop!”
Nou was daar geen keer nie – Adene se sake-instink is weer eens bevestig, en dit is dat daar inderdaad ’n gesonde mark in Suid-Afrika is vir blomme, “veral vir dié wat nié in ons land gekweek word nie”. Dis die soorte wat sy dikwels op Pinterest en Instagram raakgeloop het, “maar nêrens hier kon vind nie”.
Die egpaar Nieuwoudt het nou ’n stadium in hul bedryf begin waar omdraai nie eens meer ’n vae opsie was nie. Die onderneming was té goed op dreef. En dit vanaf ’n beskeie begin, waarin, volgens Adene, die een ding eenvoudig tot die ander gelei het. “Soos alles ontwikkel het, en ons sien dat bloemiste meer en meer blomme nodig het, sit ons nog ’n hektaar by … en nog een … en nog een. Ons het bly ruimtes vir blomme byvoeg, altyd meer en meer.”
Soos dit met enige groeiende onderneming gaan, het nuwe afdelings in en aanbiedings deur Adene’s Farm Flowers ontstaan.
Kleinhandelaars het begin belangstel om Adene se blomme aan te hou en opedae het gevolg. “Alles het begin met bruide en bloemiste wat plaas toe wou kom om te kyk wat hulle graag vir hul groot dag wil hê.” Sy het besluit om méér mense toe te laat om die blomprag te geniet. “Die eerste naweek waarop ek ’n opedag gereël het, daag hier toe by die 300 mense op. Die volgende stap was vaste besoekdae, toe ons besef het daar is mense wat net die plaas wil besoek en na die mooi blomme wil kom kyk.”
Net daarna het die versoek vir ’n winkel gekom. “Dit was dadelik ’n sukses. Nog een het gevolg, en nog een … vandag het ons 14 winkels. Ons het intussen ook drie satellietplasies begin, by die Val de Vie-veiligheidslandgoed in die Paarl, op die wynlandgoed Lourensford naby Somerset-Wes en ook by The Big Red Barn in Pretoria.
“Die groei van ons onderneming was dus organies. Dis iets wat in my hart ontstaan het; ek het gedoen wat vir mý lekker is, iets wat vir mý mooi is. Ek wil dit nou ook aan my kliënte gee, aan énigiemand wat by ons aankoop. Dit bly vir my steeds ’n vreugde om net te gaan blomme pluk, om my gunstelinge te bewonder, en om dit dan in ’n mooi pot te sit. Ek ervaar nou dat mense hier kom kuier en rondloop bloot om uit hul huise te kom en die natuur te geniet.”
Handelsmerkblootstelling is een van die belangrikste aspekte in die bou van ’n besigheid, sê Adene. “Sosialemedia het waarskynlik die grootste rol gespeel in die groei van ons handelsmerk. Omdat ek ’n fotograaf was, weet ek hoe om mooi foto’s te neem … dis so maklik om mooi foto’s van mooi blomme te neem en dit op sosialemedia te sit! Hierdie foto’s het gelei tot ons lewering aan die mark in Oranjezicht, Kaapstad. Dis belangrik om so iets ook te doen, want jy moet voortdurend blootstelling aan jou onderneming gee, veral ook onder diegene wat nie van sosialemedia gebruik maak nie. Jou handelsmerk moet op bekende plekke gesien word.”
Die satellietplasies is eweneens suksesvol omdat dit mense van die omgewing uit hul huise na die natuur lok. “So word hulle deel van die skoonheid van ons blomme,” sê sy.
Die ervaring van hul eie onderneming het hom geleer dat entrepreneurskap nie kinderspeletjies is nie, vertel Andrew. “Baie mense sukkel om daardie eerste treetjie tot ondernemerskap te gee. Dis nogal skrikwekkend om te dink jy moet nou jou vaste werk laat vaar en ’n nuwe onderneming begin. Om kapitaal te kry om die nuwe onderneming te begin, is nie maklik nie.”
Beplanning is natuurlik belangrik, maar die probleem is dat baie mense daarin vasval, sê hy. “Die beste ding is om jou instinkte te vertrou en dan daardie eerste tree te gee. Doen dit net!”
Begrotings is altyd belangrik, volgens hom, “maar jy bly nie altyd daarby nie. Halfpad in ’n projek kom jy agter dat jou begroting nie klop nie. Daardie eerste begroting wat ons opgestel het, het ons seker meer as twee keer oorskry. Dit gebeur.”
Andrew meen ondernemers moet doen wat hulle graag wíl doen, dit wat hulle kán doen. “As jy eers dáár is, neem jy jou beplanning na die volgende vlak. Pas aan by jou mark, wéét wat jou mark verlang. Hou jou oë oop, wees wakker.”
- Volg @Adene’s farm flowers op sosialemedia. Vir meer inligting, besoek www.adeneflowers.co.za of bel of WhatsApp Marisa by 074 228 2444
- Besoek ook www.wowbuy.co.za om die produkte wat in van die episodes verskyn, aan te skaf.
- Volg @Nisboere om saam met ander nisboere te leer en ook om jóú storie met ons te deel: www.nisboere.co.za